
...
Die vertellinge begin gewoonlik waar die vroue ’n afspraak maak sodat Bredenhann hulle afneem. Reeds dán al vorm hy ’n idee van die vrou wat vir sy kamera gaan poseer, maar hy word telkemale verras, want vroue is soveel meer as hoe hulle lyk en wat hulle sê.
...
Boektitel: Wimpers op lakens
Outeurs: Albert Bredenhann, Sophia Kapp
ISBN: 978-0-6397-3970-0
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Albert Bredenhann het voor in my getekende kopie van sy selfgepubliseerde boek getiteld Wimpers op lakens geskryf: “Geniet elke bladsy!” En ek het. Sommer baie. Nie net omdat die briljante Sophia Kapp Bredenhann se vertellinge neergepen het nie, maar veral omdat dit my vrouehart aangeraak het.
Hierdie boek is immers die verhaal van ’n suksesvolle fotograaf wat boudoirfotografie doen. ’n Man wat deur die lens van sy kamera na vroue kyk – verby die splinternuwe onderklere, kapsels en grimering tot in hulle naakte siele en weerlose self. Hy waarsku dat ’n kamera alles sien. “Elke moesie, elke haar, elke vlekkie, elke plooi. Dis ’n brutale medium wat alles wys en alles blootlê waarvoor die menslike oog dalk nog kon blind wees” (164).
Bredenhann skep nie kunsmatige foto’s nie. “Ek gebruik glad nie Photoshop nie, en ek redigeer niks nie. Ek glo gewoon nie daaraan nie, en dis myns insiens oneerlik. […] Ek kan my modelle sonder skroom verseker dat die foto wat ek vir hulle ná die sessie gee, ’n eerlike weergawe is van hoe hulle lyk” (164). “Wanneer ek vir haar die foto’s gee, gee ek vir haar die vrou wat sy weet sy is, maar wat in die geharwar van elke dag se besig wees weggeraak en verdwyn het. Ek gee vir haar die misterie terug […] Ek sê vir haar: Die vrou in jou is geldig, daardie vrou wat eers vrou is en dán eggenote, ma, vriendin, kollega, werkgewer, kampvegter, wêreldburger, en sy is verdomp pragtig” (29–30).
Wimpers op lakens beslaan 170 bladsye en 17 hoofstukke. Kapp vertel in die eerste hoofstuk meer oor hoe Bredenhann haar genader het om sy boek te skryf en wat haar laat besluit het om wel gehoor te gee aan sy versoek. In hoofstuk twee vertel Bredenhann wat die term “boudoirfotografie” beteken en sy doelbewuste besluit om weg te beweeg van die term, juis omdat soveel van hierdie tipe sessies te maklik in ’n moeë cliché verval. Hy verwys eerder na sy werk as ’n “sexy makeover shoot”. Sy foto’s gaan oor die mens. Die vrou en haar menswees en vrouwees. “Daarom fokus ek op die oë, op die belewing, op die siel wat in daardie oomblikke verskyn” (29). Hy soek na die foto waarop sy ontspan het, weet sy is mooi en die kamera die aanvaarding vasvang.
Elke daaropvolgende hoofstuk vertel die storie van ’n vrou wat deur Bredenhann afgeneem is. (Hulle identiteit word deur skuilname beskerm.) Hy vertel die stories omdat hy wil hê “jy moet weet die vroue om jou is jou susters, en hulle is net so weerloos soos jy” (33). Hy beklemtoon onder meer dat ’n mens nie alleen is in jou seerkry of verwerping nie. Dat jy nie die enigste een is wie se lyf nie volmaak is nie. Ook: “Jy is nie die eerste vrou wat waardering vir jouself moes terugkry nadat iemand jou met woorde of vuiste afgeransel en jou laat voel het jou vroulikheid is onder verdenking nie” (33). In hierdie vertellinge herken jy weldra iets van jouself. En voor jy jou kan kry, vee jy boonop ’n traan af in solidariteit met ’n suster. Jy gaan ook soms hardop en lekker lag. Dié boek werk met jou emosies.
Ek het in my enigheid gewonder of Wimpers op lakens nie dalk net ’n dekmantel is vir ’n suksesvolle en hoog-in-aanvraag fotograaf om te spog met die beeldskone en glansryke vroue wat hy afneem nie. Nie dat daar fout is met só ’n benadering nie, dit sal tien teen een baie interessante leesstof wees. Maar ek kon nie méér verkeerd wees nie. Bredenhann het duidelik ’n allesoorheersende passie om daardie ondefinieerbare “iets” van ’n vrou (model of te nie) op kamera vas te vang en sodoende haar kern, haar wese, te ontsluit. Sodat sy, wanneer sy die foto’s sien, sonder twyfel sal weet dat sy waardig is. En meer as genoeg.
Deur die vertellinge leer ons vroue (uit alle vlakke van die samelewing) se geheime, versugtinge, onsekerhede, vrese, opofferinge, foute, drome, ideale en ook triomf ken. Jy besef dat elkeen se omstandighede anders is, maar dat daar tog samebindende faktore is. Sekere dinge is universeel – soos leed, pyn en vrees. Maar al is daar raakpunte in vroue se ervarings is elke vrou (en haar storie) uniek. Ons kan by en van mekaar leer.
Kapp het, met haar fyn aanvoeling vir taal en nuanse, reg geskied aan Bredenhann se vertellinge. Dit was slim van Bredenhann om haar, ’n vrou, te vra om sy boek te skryf. Hy vra nie net vroue om hom te vertrou wanneer hy hulle afneem nie; hy deel ook van sy eie lewensverhaal sodat lesers kan weet dat hý self al deur die meule is. “Ek deel hierdie stuk onvolmaaktheid in myself met jou sodat jy weet dat ek vir jou sê ek het begrip vir jou onsekerheid, ek dit bedoel [sic]” (158). Hierdie kombinasie – sy ontbloting, eerlikheid en kwesbaarheid as man tesame met die ontbloting, eerlikheid en kwesbaarheid van die vroue wie se uiterlike en innerlike skoonheid hy op kamera vasvang – maak van Wimpers op lakens ’n besonderse boek wat elke vrou (en man) ten minste een maal in hulle lewe behoort te lees. Dana Snyman noem dit “[d]ie een boek oor vroue wat elke man ook moet lees. Albert se stories bly jou by en laat jou soek na die weerloosheid in elke vrou.”
Op bladsy 165 deel Bredenhann sy goedlyklys. Hy stel dit duidelik dat dit nie ’n voorskrif vir vroulikheid is nie, maar dat dit vroue help om goed oor hulself te voel. Die lys moedig vroue onder meer aan om hulle hande, naels, hare en vel te versorg. Basiese dinge. Wat sommige vroue wel graag doen. Maar die lewe gebeur mos maar met vroue. En dis nie altyd vir almal moontlik om aandag, tyd en finansies op hulself te spandeer nie. Reeds hieroor is die goedlyklys so belangrik, want vroue het soms nodig om daaraan herinner te word dat dit oukei is om ook hulself te versorg – soveel te meer as jy graag foto’s wil hê waarin jy op jou beste lyk.
Ek het baie gehou van die gepaste aanhalings deur byvoorbeeld Bob Dylan, Stephen King Marilyn Monroe en Yves Saint-Laurent wat elke hoofstuk vergesel. Ek het eers gevoel dat dit jammer is dat die aanhalings meestal in Engels is, maar nadat ek daaroor gedink het, het ek besef dat dit geensins die trefkrag van die vertellinge in die wiele ry nie. Dit is meer asof dit vir my as Afrikaanse leser ’n titseltjie misterie tot die teks byvoeg, ’n tikkie anderwêreldsheid as ek dit so kan stel. Nie dat Afrikaans dit nie óók kon regkry nie, maar in hierdie geval is die aanhalings slim met die hand uitgesoek en komplimenteer dit die teks 100 persent. Buitendien is hierdie boek nie een wat in “suiwer” Afrikaans geskryf is nie, want sommige dinge moet jy skryf soos wat dit gepraat word.
Dit is wel jammer dat die teks se inkeping van die kantlyne af op plekke wisselvallig is. Nog ’n kleinigheid wat gepla het, is byvoorbeeld die sin op bladsy 158 waar ek reken die woordjie “as” (of “wanneer” of “indien”) weggelaat is: “Ek deel hierdie stuk onvolmaaktheid in myself met jou sodat jy weet dat [as] ek vir jou sê ek het begrip vir jou onsekerheid, ek dit bedoel.” ’n Deeglike proefleessessie of twee sou hierdie jakkalsies grotendeels uitgeskakel het. Daar is egter min genoeg dat ek eerlikwaar kan sê dat hoewel ek dit opgelet het, dit geensins van my genieting van die teks weggeneem het nie.
Ek wil die vertellinge wat in Wimpers op lakens vasgevang is, as tydlose verhale beskryf. Lank nadat ek die boek toegemaak het, het ek weer oor die vroue gewonder en oor hulle omstandighede nagedink. Ek het dit selfs ’n tweede keer gelees. Iets waaroor ek bly is, want ek het toe selfs meer uit die teks geput as met die eerste lees. ’n Mens wil kompulsief omblaai en die volgende vrou se storie lees, maar soms moet jy eers die boek neersit om jou asem terug te kry.
Die vertellinge begin gewoonlik waar die vroue ’n afspraak maak sodat Bredenhann hulle afneem. Reeds dán al vorm hy ’n idee van die vrou wat vir sy kamera gaan poseer, maar hy word telkemale verras, want vroue is soveel meer as hoe hulle lyk en wat hulle sê. Bredenhann se oplettendheid – nie net wat die regte hoeke en beligting aanbetref om ’n lyf mooi te laat lyk nie, maar sy dieper kyk en raaksien van dít wat binne-in ’n vrou se hart en siel en wese is – is bewonderenswaardig. Soveel te meer ook die feit dat dit wat hy raaksien en ervaar, vir hom mooi is en hy dit laat boekstaaf het om die kosbaarheid met die wêreld te deel.
En Kapp? Sy skryf soos net sý kan. Hier is twee voorbeelde van my gunstelinggedeeltes in Wimpers op lakens. “Die arme Alfa staan en roggel met sy stert in die lug en sy neus amper op die grond, soos ’n gewonde dier ná ’n geveg, want voor in die kar sit Poppie en die forklift operator. Jy kan nie die arme kar kwalik neem dat hy backfire nie – as twee sulke heavyweights op my voorste as gelê het, was ek ook moer toe” (106). En: “As sy weg is, moet hy nie terugdink aan operasiesale en histerektomieë en mastektomieë en chemo en sakkies nie, hy moet terugdink aan ’n warm, sexy vrou wat haar lyf met hom gedeel het omdat dit vir hulle albei lekker was. Omdat sy saam met hom geleef en gewerk en gevoel het, en omdat sy saam met hom volledig, volkome vrou was” (147).
Hier is nog inligting oor Wimpers op lakens.


