Inleiding
“Ek staan verbyster voor die feit dat tyd die finale illusie van die mens se lewe is. Gaandeweg het al die gebeure van my lewe betekenis gekry.” Na ’n roemryke loopbaan wat strek oor meer as ’n halfeeu, kan Wilna Snyman voorwaar met trots terugkyk op ’n lewe en loopbaan vol hoogtepunte.
Geboorte
Op 14 September 1935, word Wilna Snyman gebore in Kimberley, van ouers Ben, ’n rekenmeester vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Johanna Snyman, ’n onderwyseres. En watter vooruitsig wag toe nog op hierdie meisie! Vyf jaar later groei hul gesin toe haar ma geboorte skenk aan tweelingseuns, Bennie en Jannie. Haar skoolloopbaan begin in Oos-Londen, maar op 10-jarige ouderdom word die Snyman-gesin verplaas na Windhoek, kort voor die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog.
Sy onthou met heimwee die dae toe Mammie haar elke Saterdag ’n sjieling gegee het en sy haar ontvlugting in die bioskoop kon neem en aan haar drome en verbeelding vrye teuels gee. Miskien is dit hier waar die begeerte en verlange sy ontstaan gehad het om die verhoog te betree. Een so Saterdag het haar moeder haar vergesel om Gone with the Wind te gaan kyk en daar verloor sy haar hart op die aantreklike en sjarmante Clark Gable! Haar ma het haar geleer klavier speel en sy kon ure verwyl op die Collard & Collard.
Alhoewel hul dit nie breed gehad het nie, het haar ma altyd gesê, “Our house is very small, but there is always room in it for those we love.”
In 1950 verhuis die gesin na Worcester, waar sy twee jaar later matrikuleer aan Worcester Girls’ High. In Kaapstad ontvang sy beroepsvoorligting wat haar kompas in die rigting van onderwys draai en sy in haar moeder se voetspore volg. Terugskouend was The Forsaken Merman, die epiese gedig van Matthew Arnold, tydens haar eerstejaarskonsert, die toe nog ongeslypte diamant se debuut op die verhoog. Nadat sy as onderwyseres gekwalifiseer het by die Kaapstadse Onderwyskollege, begin sy in Januarie 1955 skool gee by die Raymond Laerskool in Goodwood. Vir ’n dekade hou sy skool met tussenposes.
Na ’n Sondagskoolkonsert waarin sy ’n rol in Vyf dogters, ’n komedie van Herman Steytler, gespeel het, stel regisseur Adriaan Eksteen haar voor aan Babs Laker wat gesê het, “My kind, jy het talent, ons moet hard werk.” Ondanks die feit dat sy bedags skoolgee, loop sy vir die volgende vier jaar deeltyds klas by Babs en later by Aletta Gericke.
“Die gesamentlike kreatiewe krag wat mentors en leermeesters met hul liefdevolle bemoediging en opregte belangstelling, mense soos Babs Laker, Alette Gericke en Truida Louw, oor die jare in my lewe gevorm het en wat ek in my loopbaan as aktrise vermag het, het ek grotendeels te danke aan die fondament wat hulle gelê het en hul invloed en inspirasie in die jare daarna.”
Eerste karakterrol
Haar eerste karakterrol is in 1957 as Violetta in Die goue kring van Uys Krige, ter viering van die 75ste bestaansjaar van Johannesburg.
In 1959 nooi haar skoolvriendin, Esther, haar saam na ’n Landboudans in Stellenbosch saam met ’n vriend, Jaap Smit, wat ’n student in liggaamlike opvoedkunde was. Dié “blind date” het uitgeloop op ’n huwelik wat plaasgevind het op 6 April 1961 in die Moederkerk te Stellenbosch. “Ons was in alle opsigte twee pole, maar dit was klinkklaar dat ons vir baie seisoene saam sou kon dans deur die lewe.” Binne ongeveer drie jaar is hul geseën met drie kinders: Francois, Bennie en Lize.
Die sestigerjare
In 1965 word Jaap by die Normaalkollege in Pretoria aangestel as senior dosent in liggaamlike opvoedkunde. Dié geografiese skuif het gelei tot heelwat veranderinge en meer betrokkenheid by verhoogproduksies. In 1966 het hulle gereeld TRUK se opvoerings bygewoon. Wilna is begeester deur hierdie opvoerings en ’n intense hunkering het ontstaan om weer deel te wees van toneel op die verhoog. Op grond van ervaring wat sy opgedoen het in ’n radiodrama, Drie dosyn rooi rose, kry sy die eerste rol op die professionele verhoog as Jeljena Andreijewna in Anton Tsjechof se Oom Wanja vir die 1967-speelvak by die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK). Hierdie geleentheid was ’n hoogtepunt en sy deel die verhoog saam met Cobus Rossouw, Sandra Kotzé, Louis van Niekerk, Marga van Rooy, Kita Redelinghuys, James Norval, Carel Trichardt en Petru Wessels. Dit was ’n goeie leerskool en soos Francois Swart tereg gesê het, “Theatre is a jealous mistress, she demands all!” Wilna beaam, “Die voorvereiste van enige tipe kuns is passie, talent en eerlike toewyding. Dit spreek vanself dat dissipline, fokus en toewyding essensiële elemente in die skeppende proses sal wees. Die toegewyde akteur sal altyd streef na uitnemendheid in sy werk.”
In 1968 sluit Wilna aan by die TRUK-geselskap wat James Norval, Anna Cloete, Cobus Rossouw, sy vrou, Sandra Kotzé, Carel Trichardt en sy vrou, Petru Wessels, Marga van Rooy, Kita Redelinghuys, Patrick Mynhardt, Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Louis van Niekerk, Frans Marx, George Ballot, Don Lamprecht, Annette Engelbrecht en Katinka Heyns insluit. Haar kontrak is nie die daaropvolgende jaar hernieu nie, wat haar noop om aflos onderwys te doen om die pot aan die kook te hou. “Die vermaaklikheidswêreld kan ’n venynige terrein wees. Om die handdoek in te gooi was nie vir my ’n opsie nie.”
Die sewentigs
In 1971 is PG du Plessis se verwerking van Mikro se Mattewis en Meraai op die planke gebring met Louis van Niekerk en Annette Engelbrecht in die titelrolle. Wilna het die rol vertolk van die oujongnooi Maatjie Visser. Die produksie het ongeëwenaarde sukses behaal. Daarna het sy die rol vertolk van Ma in Siener in die suburbs, waar sy vir ’n Fleur du Cap-prys genomineer is as beste aktrise.
Dit was ’n voorreg om in 1972 deel te wees van Friedrich Schiller se Maria Stuart, waar Wilna die rol van Elizabeth I vertolk met Sandra Prinsloo in die titelrol. Hierdie opvoering word tot vandag onthou as ’n hoogtepunt in die teaterbedryf.
In 1973 verhuis die Smit-gesin na die Stad van Goud, nadat Jaap aangestel word by die Randse Afrikaanse Universiteit in Johannesburg in die departement van opvoedkunde. Wilna het bedank by TRUK en weereens begin ’n nuwe fase in hul lewens.
Adam Small se klassieke stuk, Kanna, hy kô hystoe, is in 1974 vir die eerste maal deur TRUK opgevoer, met Wilna in die rol van Makiet. Dit was ’n wegholsukses en ’n keerpunt in haar loopbaan en lewe. “Na dit was daar nie meer by my enige twyfel dat daar wel vir my ’n toekoms in die teater lê nie. Dit het bewys dat daar geen toevalligheid in die sameloop van ons lewensomstandighede bestaan nie, maar dat alles volgens ’n Goddelike plan verloop.”
Ondanks die koms van televisie in 1975, wat noodgedwonge baie veranderinge in die vermaaklikheidswêreld teweeggebring het, het lewende teater haar eerste liefde gebly. Kunstenaars kon voortaan betrokke raak by verskeie vermaaklikheidsfasette soos radio, dramas, joernaalprogramme en oorklanking. Haar eerste ervaring met die medium van multikameras vir televisie, was met die vertaling van die Franse stuk La Musica deur Marguerite Duras in 1975, waar Wilna en Marius Weyers die twee sentrale karakters vertolk het. Daarna volg ’n Seder val in Waterkloof, ’n komedie van PG du Plessis. Tussen teaterwerk deur volg televisieproduksies soos Die kersietuin (Anton Tsjechof), Pase (August Strindberg) en The House of Bernarda Alba (Federico Garcia Lorca). Een van die opwindenste ervarings was Oresteia deur die Griekse dramaturg, Aischúlos, ’n trilogie vir KRUIK.
1980’s
In 1981 maak Wilna deel uit van die span van grensverskuiwende kabaretprogramme saam met Merwede van der Merwe. Dit skop af met optredes saam met Laurika Rauch, Sonja Herholdt, Carike Keuzenkamp, Pieter-Dirk Uys en andere in die Musiek en liriek-reeks. Dit het die weg gebaan vir volbloed kabaretreekse soos Die lewe is ’n grenshotel, Die lewe is ’n maskerbal, Die lewe is ’n oude doos en Die lewe is ’n speeltoneel. Hennie Aucamp som dit op: “Kabaret is beskaafde protes. Op artistieke wyse mag dit bereik wat baniere, stakings en geweld nie kan regkry nie; humor is sy basis. En humor is ’n oorlewingstaktiek …”
Die begin tagtigerjare was die begin van die bloeitydperk vir kabaret op televisie. Daar was Kabaret-Kabaret met Tobie Cronjé, Sam Marais, Jennifer Ferguson, Natalia de Rocha, Kurt Egelhof, Paul Ditchfield, Janice Honeyman, Paul Slabolepszy, Mike Huff, Amanda Strydom en Wilna; die Variété-reeks opgeneem van 1981 tot 1986 en in 1986 die eerste opname van ’n volledige musiekblyspel in Afrikaans, Goudstad, goue stad.
In 1981 is teaters landwyd oopgestel vir alle bevolkingsgroepe en die Pretoria Staatsteater open sy deure. Die vlagskip en hoogtepunt van die openingseisoen was die aanbieding van die epiese versdrama, Germanicus, deur NP van Wyk Louw. Siener in die suburbs en Kanna, hy kô huistoe is ook in die Staatsteater herhaal. Die Napolitaanse komedie, Filumena deur Eduardo de Filippo, was een van die produksies in die openingseisoen. In die tydvak van 1981 tot 1986 het Wilna op vryskutbasis vir kunsterade in Kaapstad, Durban, Windhoek en Bloemfontein, sowel as die Markteater, KKNK en Grahamstadse Kunstefees gespeel.
Die enigste Shakespeare-produksie waarin Wilna gespeel het was in Hamlet, as Gertrude saam met Louis van Niekerk, Marius Weyers en Sandra Prinsloo. Dit was ook Francois Swart se laaste produksie voor sy dood.
Die negentigs
In 1990 open Wilna se eerste solovertolking by die Grahamstadse Kunstefees met Dear Mrs Steyn, die verhaal van Emily Hobhouse, ’n projek wat vyf jaar geneem het om te verwesenlik onder leiding van Deon Opperman. Die sukses van die solostuk neem dit na Suid-Afrikaanse ambassades in Engeland, Skotland, Duitsland en Oostenryk, waar dit opgevoer word. Die vertolking van die verhaal van hierdie merkwaardige Britse vrou wat haar tydens die Anglo Boereoorlog oor die vroue en kinders in die Britse konsentrasiekampe ontferm het, is ’n hoogtepunt in haar latere loopbaan. Die historiese samestelling is gedoen uit die geskrifte en briewe van Emily Hobhouse tydens die Anglo Boereoorlog. Die boek, Boer War Letters, is saamgestel deur Rykie van Reenen en Deon Opperman het gehelp met die samestelling van die teks en die regie van die verhoogstuk waarmee Wilna landswyd opgetree het. “Talle interessante ervarings tydens hierdie solo optrede en die reis, wat my nie onveranderd gelaat het nie, bly my nog steeds by. Tot vandag toe is dit, asook Makiet in Adam Small se Kanna, hy kô huistoe van die hoogtepunte van my loopbaan en lewe.”
Met hul aftrede in 1993, verhuis die egpaar na Franschhoek, waar sy verskeie produksies doen vir Marthinus Basson asook aanbieder word van Anne Myers se TV kookprogram, Food for Life. Sweet Sorrows volg in 1995, ’n eenvrouvertoning wat Deon Opperman spesiaal vir haar geskryf het en waarmee sy die land volgetoer het.
Na drie jaar in Franschhoek, koop hulle ’n vakansiehuis in Hermanus en ’n meenthuis in Durbanville.
In 1999 tree sy op uitnodiging van Carel Trichardt en Petru Wessels weer op in Dear Mrs Steyn. Dit lei tot ’n landswye toer in die verloop van die gedenkfeeste van die Anglo-Boereoorlog van 1999 tot 2002. Kort hierna word sy die rol aangebied van die matriarg, Madel Terreblanche, in die reeks 7de laan, wat haar die nuwe millennium inlei.
Die nuwe eeu
In 2002 word Wilna gediagnoseer met borskanker,’n ervaring wat sy beskryf as “iets wat my lewe verryk en my gees bevry het”. Die gewas is verwyder en sy het bestraling ontvang. Oor die jare het sy gereeld opgetree as motiveringspreker vir KANSA en ander organisasies.
In 2006 word haar outobiografie, genaamd Memoires (Hemel & See Boeke), gepubliseer.
In 2011 het sy die rol van Ouma vertolk in die televisiereeks, Hartland.
Aftrede
Tydens haar aftrede woon sy op Hermanus. Na haar man se afsterwe het sy haar gevestig in ’n aftreeoord. Haar oudste seun, sy vrou en twee kinders woon in Engeland. Bennie, Lize en klein Lukas in Durbanville en haar dogter Lize en haar seuntjie in Hermanus.
Tydens haar roemryke loopbaan, waarin hierdie ongeslypte diamant nou tot haar volle reg gekom het na haar meer as vyftig jaar in die vermaaklikheidsbedryf, het sy 19 toekennings ontvang asook 10 nominasies. Sy bly ondanks al hierdie suksesse ’n nederige Christen en sê: “Ons is per slot van rekening doodgewone mense wat slegs ’n buitengewone werk doen.”
Oor die toekoms van teater in Suid-Afrika sê Wilna: “Die toekoms van die teater word deur die eeue heen bepaal deur die geskiedkundige, politieke, sosiale en geestelike verhaal van die mens. En daarom sal die teater, soos Geloof en Hoop en Liefde altyd die kern vorm van ’n eeue oue verhaal wat geen spesifieke begin of einde het nie. Dit vorm ’n integrale deel van ons menswees en ons interaksie met die Goddelike en die ewige soeke na die Waarheid.”
’n Tyd om te kom en ’n tyd om te gaan
“Onwillekeurig kyk ek terug op die sewe dekades van my lewe. Ek staan weerloos voor die ontdekking dat verandering en transformasie intrinsiek deel is van die mens se lotsbestemming. Die lewe is kosbaar, niks is tevergeefs nie, alles wat ons op ons lewenspad te beurt val is betekenisvol, as die krag van Goddelike liefde ons vertrek- en eindpunt sal wees. Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan, by wyse van spreke.”
Kommentaar
Wilma was nog altyd ’n heldin vir my. In 1960 het ons in dieselfde huis loseer in Stellenbosch. Ek het pal ingeval by haar en Ester se kamer. Hulle was die mooiste en "most glamorous" meisies wat ek nog ooit gesien het. Later jare het ek die wêreld ronfgeswerf as die vrou van ’n Amerikaanse diplomaat en teruggekeer SA toe in 1994. Ek het haar in ’n solo vertoning gesien in ’n klein teatertjie in 1995. Sy was briljant! Ek het agterna backstage toe gegaan, maar ek dink nie sy het my onthou nie.