|
Naomi Meyer gesels met musikante, musiekkenners en musiekliefhebbers in die wêreld van klassieke musiek. Vandag is Willem Pelser – aanbieder van U eie keuse – aan die woord.
|
Naam
Willem Pelser
Beroep
Omroeper, vervaardiger, skrywer, stemkunstenaar en MC.
Watter rol speel musiek in jou lewe en hoe is jy daarby betrokke?
Musiek is so te sê my alles. Ek kan my lewe nie sonder musiek voorstel nie. My hele lewe kan ek koppel aan musiek, ’n klankbaan as’t ware. Ek is dan ook in die uiters bevoorregte posisie om elke dag met musiek te werk vanweë my beroep. Ek bied ’n paar klassiekemusiekprogramme aan, maar ook programme met eietydse musiek.
Maak jy self musiek, en indien wel, watter instrument(e) kan jy speel?
Ek speel klavier. In ’n stadium het ’n vriend my kitaar leer speel en ek het myself tromme leer speel. Ongelukkig het ek dit al bietjie verleer, maar klavier speel ek byna nog elke dag.
Na watter instrumente luister jy graag?
Uit die aard van die saak trek ’n klavier dadelik my aandag. Maar ek bewonder iemand wat met die akoestiese kitaar kan toor.
Wat is jou gunsteling-lied of -snit (en, as dit vir jou belangrik is, ook die orkes/groep of persoon wat dit vertolk)?
Jô! Daar is so baie. Ek kry nog altyd hoendervleis as ek Mozart se Requiem hoor.
Hy is ook verantwoordelik vir van die bekendste wysies. Dink maar aan musiek uit Die Huwelik van Figaro en Die Towerfluit. Beethoven se Keiserkonsert is seker die keiser van alle klavierkonserte.
Pianiste soos Emil Gilels en Murray Perahia mag maar! Dan ook sy 9de Simfonie.
Daar is ook min wat Rachmaninov se Klavierkonsert no 3 kan speel soos Earl Wild. Oor die algemeen hou ek van kragtige, swaar werke waar jy kan hoor die betrokke instrument word gemoker!
Wie is jou musiekhelde?
Natuurlik Mozart, Beethoven en Rachmaninov. Maar ook Rossini, Grieg, Saint-Saens en Tchaikovsky. Meer modern kyk ons na Andrew Lloyd Webber, Ennio Moricone, Michael Kaman, John Williams, James Horner en Danny Elfman.
Na watter ander musiek luister jy ook graag? (Noem asseblief verkieslik ’n stuk musiek of ’n kunstenaar se naam sodat ek relevante klanksnitte kan soek.)
Ek hou van die “cross-over” tipe klank. Dis wat my aanvanklik lief gemaak het vir klassieke musiek en ek dink die puriste onderskat die genre se vermoë om mense na klassieke musiek te lok. Dis hoe dit met my gebeur het!
Het die musiek waarby jy betrokke is, nog ’n rol te speel in Suid-Afrika vandag, en waarom sê jy so?
Ja, absoluut. Maar vir dit om te gebeur sal die snobs en puriste hul streke moet laat staan. Klassieke musiek is nie net bedoel vir ’n groepie uitgelese mense wat weet hoe om musiek te lees en alles mooi en reg uit te spreek en tientalle instrumente kan speel nie. Dis vir almal wat daarna wil luister ... en soms nié luister nie! Dink maar aan rolprente, advertensies, kinderprente ... oral word klassieke musiek gebruik en almal het dit al gehoor, êrens.
Wys asseblief vir ons lesers een van jou gunsteling musiekuittreksels op YouTube.



Kommentaar
Die 70 jaar program was baie besonders. Baie dankie vir al die mooi herinnerings met elke program.
Was nie lief vir radio, maar U eie Keuse altyd geluister wat my mettertyd hier en daar na programme gelok het. Willem Pelser is beslis die beste, sluit al sy voorgangers in. Mooiste stem, puik nie uit-die-hoogte aanbieder, beslis 'n lokaas om na RSG dis die een! meer en meer te luister.
Speel bietjie orrelmusiek; geniet die program baie. Asb bv Widor Simfonie no 5, Mars van Aida. Grand march van Wagner.
Ek luister reeds sedert 1959 na U eie keuse. Is dit dalk 'n rekord?
Speel asseblief die MARTHA OVERTURE van Flutoff. (spel van van ?)
My vrou en ek geniet "U eie keuse" altyd en is sommer hartseer wanneer ons dit mis vir welke rede ookal. Hou ASB so aan!!
Weet jy van enige opnames van die SA-Polisie-orkes? Het verskeie van hulle vertonings bygewoon gedurende die jare 50/60's en nog nooit weer nie. (Ek is nou 75 en ken Martin en Bettie Pelser goed uit die ou Harding-dae.)
Willem, die naam van die tweedelaaste musiekstuk net voor 8h30(strykorkes) gespeel het asb. Baie dankie. Ons geniet jou. Mosselbaai.
Ek probeer nou al maande om uit te vind waar ek die cd kan kry waarop die volgende snit voorkom: "Carried by grace" geskryf deur Geoff Bullock,verwerk en opgevoer deur die Praagse Simfonie-orkes onder leiding van Paul Petrocinni, ASB ek het dit gehoor op U Eie Keuse. Ons plattelanders weet nie waar om dit te kry nie,al simpel gesoek op Google ook. Help my asb.
Hallo Willem, wil baie graag na die inleidingsmusiek van Vallei van Sluiers luister. Ken ongelukkig nie die naam daarvan nie en of dit volledig is nie. Wil ook vir jou sê dat ek graag na jou uitsendings luister aangesien jou Afrikaans so korrek en mooi is.
Liewe Willem, ek luister al vir baie jare na U eie keuse. Ek sien elke week uit na die program. Ek sal graag die lied "Zie aan't raam die laatste rozen bloeien (Willy Derby) vir my familie will speel. Ons familie is nou oor die hele wêreld versprei en nou gaan my jongste kleinseun na China. Ek geniet jou program en wens jou alle sterke toe. Norah Du Preez Henley on Klip.
Willem, ek luister (al weer) toe kom iets by op. Jy sal moet help asb. Vincent van Rooyen se mondfluitjie. Het al verskeie ligte klassieke nrs van hom gehoor. Onthou oa Granada. Kan jy help asb, wil dit graag deel met Mel en Ann Toerien. Lank leef die program en jy. Enige ligte klassiek wat jy kan opspoor sal goed wees. Dankie Willem sal waardeer.
Speel asb vir ons Andries en Gerrrida Mynhardt van Pennington in KZN Mantovani se verwerking van "Village Swallows".
Dit is nou op "U eie keuse". Sal dit werklik waardeer. Baie dankie.
Ek is 'n negentig-jarige ouma en luister al baie jare elke Saterdagaand na u eie keuse. Speel asb vir my die Duitse kinderkoor 'Lieber Got lass die Sonne wieder scheinen (verskoon die grammatika en spelfoute).
Dierbare Willem,ek en my man geniet jou program ONGELOOFLIK baie.Baie dankie vir dit wat jy insit om aan ons soveel genot te verskaf.My gusteling musiek stuk Cavalleria Rusticana - Intermezzo.....Kan jy my hiermee verras op my gunsteling program...U eie Keuse?
Musiek so mooi. Fantastiese program. Dankie Willem, ek luister al sedert 1956.
Hi Willem, speel asb op U eie Keuse asb HOOKED ON CLASSICS.
Dankie Willem ... Program my weeklikse hoogtepunt. Heerlike luister sedert sestigerjare. Seënwense vir jou en al die luisteraars.
Hi Willem, kan jy asb vir my en my familie Shubert se Serenade speel... gesing deur Della Reese. Hou baie van Shubert se musiek.
Goeie dag, ek wil graag weet : wat is die naam van die musiek stuk wat Boris Hvorostofsky gesing het Saterdag aand 27 Feb 2021. Groot asseblief!
Goeie dag. My naam is Andrew Hailstones, ek is 15 jaar oud, ek bly in Baynesfield, net buite Pietermaritzburg, en ek hou so baie van U Eie Keuse. Ek luister elke Saterdag daarna. Volgende Saterdag, 24 Julie, mag ek vra dat u die kenwysie van U Eie Keuse vir my speel. Dit sal wonderlik wees. Ek vra ook vir die naam van die kenwysie.
Baie dankie! Jy is 'n fantastiese omroeper. Ek geniet elkeen van jou programme. Jou stem en jou manier van aanbieding is pragtig! Hoop jy is nog baie jare vir ons gespaar.
Baie geluk, Willem, met 'n spogprogram en musiek uit die boonste rakke, keurig uitgesoekte musiek. Dit was 'n fees vorwaar, die 80-jarige viering van "U eie keuse".