Wilken Calitz: "Almal wil ’n spreekwoordelike standbeeld agterlaat"

  • 0

Wilken Calitz, bekend vir sy toorwerk met kitaar en viool, het onlangs sy eerste solo-album, Chromatique, uitgereik. Sy vertoning van dié musiek is te sien by US Woordfees 2018. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Wilken. Hoe’s alles?

Alles is klopdisselboom, behalwe my stygende ysrekening by Pick n Pay Liquor. Met al die voorbereiding vir die Woordfees het my voorarmspiere en hande besluit om nie “op te daag vir werk” nie. Die gevolg is ’n daaglikse armdompeling in my kind se plastiekbadjie ... met ys.

Baie geluk met jou eerste instrumentele solo-album, Chromatique, wat einde 2017 bekendgestel is. Die meeste van hierdie snitte kom al ’n lang pad aan: Hoe baie herbewerking, afronding, “delete”-en-oorbegin was daar betrokke voor jy gereed gevoel het om hierdie stukke op te neem en die wêreld in te stuur? Is daar ’n tyd waarop ’n mens na só ’n versameling skeppings kyk en as’t ware sê, “Dit is goed”? Of moet ’n mens jouself terughou sodat jy nie in die ateljee sit en ad infinitum, vir jare en dekades, verstellings en veranderinge maak nie?

Daar is teenpole wat ek dink in enige skeppingsproses (met ’n oog op die herprodusering daarvan) teenwoordig is: skepping en standaardisering. Die aanvanklike vonk mbt ’n nuwe idee vir ’n musiekstuk is bedwelmend. Dit is amper ’n geval van "Dit is amazing. Ek is amazing." Maar sodra die vonk begin taan, is dit óf klaarmaaktyd óf weggooityd. Hierdie vensterperiode van besluitneming oor of die idee steek hou of nie, is uitmergelend.

Van die snitte op Chromatique het binne twintig minuute tot stand gekom, en die volgende dag het ek dit in die studio opgeneem. Ander komposisies (“Sunday afternoon”, “Cape Town”, “Karoo train”) het letterlik elf jaar lank in my grysstof gedwaal voor hulle die beste pad kon vind om deur my vingers te vloei en sonder aarseling met die staalsnare blad te skud.

In die twee jaar voor Chromatique uitgereik is, het ’n paar groot dinge in jou lewe gebeur: onder meer het jy ’n dogtertjie ryker geword (jy’t aan my genoem die snit “26 Desember 2016” is deur haar, en die uitdaging van ouerskap, geïnspireer). Ook was daar egter ’n mislukte huwelik om te verwerk – verantwoordelik vir “Maria’s heart” en “In memoriam 2831 days”. Hoe werk die proses by jou om sulke gebeure in musiek te omskep? Is dit ’n soort terapie of uitlaatklep? Of eerder ’n noodwendige, eerlike kyk na die emosies opgesluit in die ervaringsveld, en om dit dan te “vertaal” in musiek, wat dan ’n soort terapie word vir die aanklankvindende luisteraar? Hoe werk daardie “vertaling”? Dis alles dalk ’n baie hoitie-toitie manier om te vra: Wat gaan aan in jou kop as daar ’n kitaar jou hand is?

Wanneer die mat onder ’n mens se voete uitgepluk word, voel ek dat daar twee bitter nodige stappe moet wees tot heelwording: verdiep jouself in aktiwiteite wat korttermynuitkomste bied (bier saam met jou tjommies / oordadige braai / retail therapy / spontane leeglê, ens) én soek verwoed na daai een ding wat jy as trofee op jou rak kan sit om te sê: "I went to hell and back and here is the proof."

Om in donker tye te skep is eintlik relatief eenvoudig. Mens het niks meer om te verloor nie, en op ’n manier het jy ’n konstante geestesmiddelvinger gerig na die noodlot. "Maria's heart" het ek letterlik die een vioolpart opgeneem, koffie gaan maak en sonder om weer na die eerste opname te luister, die ander part ingespeel. Dit was die eerste keer in my lewe dat my brein totaal en al oorgeneem het en my ego des moers getrap het, want die stuk het nooit ontstaan voor daai tien minute nie en ek twyfel of ek dit ooit weer sal wil speel. Dit het ontstaan in die studio en ek voel dit moet op die album bly, vir mense om na te luister eerder as om dit op die verhoog te hoor.

"In memoriam" het ’n soortgelyke ontstaan. Ek was so twee jaar gelede ingeboek in ’n hotel-vir-die-gekneusdes (aka MediClinic psychiatric ward). Op die eerste aand was ek nog bedonnerd oor ek nou hier moes wees vir tien dae. Ek het een aand laat gesit en kitaar jol en die getokkel op my foon opgeneem. Sowat ’n uur later het hulle my medikasie vir my gegee en die volgende oggend kon ek niks onthou nie, behalwe dat my kitaar op die vloer langs my bed gelê het. Ek luister toe na die opname en ek dink: "Fokkit, hierdie is weird musiek maar ek like dit kwaai."

Dan is daar ook heelwat stukke wat meer met die eksterne as interne waarneming te doen het: “Cape Town”, “Sunday afternoon” en “Khayelitsha” getuig almal van ’n wil om ’n oomblik, of ’n plek, of ’n lokaalspesifieke gees vas te vang. Hoe gebeur daardie musiek by jou? Moet ’n mens spesifiek in die plek wees terwyl die musiek geskep word, of werk ’n mens op ’n manier – soos talle skilders – van foto’s af (fisies of in die vorm van herinnering)? Voel jy soms daar moet ’n soort respek in die musiek teenwoordig wees, of dalk ’n subtiele erkenning van onkunde (ek wonder spesifiek oor die snit “Khayelitsha”)? Probeer jy ’n soort balans met hierdie goeters bereik, in ’n immer meer kritiese medialandskap, of is dit juis vir jou as kunstenaar ’n bevrydende fok-die-getwyfel-melodie wat uitbasuin moet word?

In een van my vele notaboekies is daar ’n quote wat lui: "Painters should see with their ears and musicians should listen with their eyes." Waarop dit neerkom (vir my) is dat ’n “vibe”, atmosfeer of “scene” musikale idees vorendag bring juis omdat ek nie visueel ingestel is nie. Dit klink teenstrydig, maar op ’n manier is ’n ou man wat krom loop, dalk die inspirasie vir ’n stadige tune, en sy kierie wat klik-klik op die sypaadjie ’n ritmiese element. Op dieselfde wyse kan ’n sonstraal deur ’n venster op ’n Sondag (“Sunday afternoon”) wat stofdeeltjies reën, of die getoet van oggendverkeer in die Kaap (“Cape Town”) ewe bruikbaar wees.

Maar “Khayelitsha” is, om eerlik te wees, ’n cheap trick. Ek is altyd effe skugter om Afrika-ritmes te claim, maar ek was vir ’n week in Khayelitsha as deel van die Habitat For Humanity-inisiatief en voel ek het darem ’n bietjie “street cred”. Langsaan die huis wat ons besig was om te bou het daar ’n man vir letterlik ’n week aan ’n motor se enjin gewerskaf, met ’n konstante “beat” van die township as klankbaan. Daai ritme van gekap in die enjin en die agtergrondklanke het uiteindelik die onderliggende ritme van "Khayelitsha" geword.

Dus is die aksie van kruiskulturele komposisie ’n verantwoordelikheid wat jy met eerlikheid moet aanpak. Gershwin (“Rhapsody in blue”) kan in dieselfde asem genoem word. Hy was ’n musikale aristokraat in die vroeë 20ste eeu en geensins in die mikrokosmos van rou blues-beweging nie. Tog het hy díe genre afgestof, opgetof in ’n tuxedo en in Carnegie Hall staan gemaak.

Oukei, tyd vir ’n makliker vraag! Een van die mees verbysterende snitte op die album is “Snow (for the left hand)”. Die verfomfaaiende element is om dit by ’n regstreekse optrede te sien: hoe so ’n gekompliseerde stuk kitaarspel met een hand uitgevoer word. Waar het die wil vir dié eksperiment vandaan gekom? Hoe moeilik was dit om die tegniek reg te kry? Watter soort terugvoer kry jy hierop by gehoorlede?

"Snow" het ook ’n ander titel: "Pyn" – dit is nou weens die feit dat ek vir vier minute nét met die linkerhand tokkel. Die idee het ontstaan toe ek en ’n paar vriende gaan ski het in die Alpe. Op die eerste dag het ek ’n ligament in my knie geskeur. Gevolglik was ek huisgebonde vir die res van die vakansie. Ek het toe begin dink wat sou gebeur as mens die gebruik van jou een hand verloor voor ’n optrede.

Terug in Suid-Afrika het ek my kitaar gegryp en bykans vir tien jaar lank die tegniek ontwikkel om met net vier vingers die akkoord te druk en gelyktydig die melodie te speel. Mense is gewoonlik uit die veld geslaan wanneer hulle dit hoor, maar wanneer enigiemand anders meer as tien jaar spandeer aan ’n vaardigheid sal dié wat dit hoor/ervaar/sien dieselfde reaksie toon.

Steeds op die punt van “Snow (for the left hand)” ... Dink jy van die trefkrag gaan verlore wanneer dit opgeneem eerder as uitgevoer word? Dis in ’n aparte vraag, want eintlik geld dit vir al die opnames: ek weet jy’s besonder ingestel op die eerlikheid, intimiteit en rouheid van optredes. So, daar sal uiteraard ’n bietjie daarvan verlore gaan in die meer kliniese omgewing van ’n ateljee (ook, soos jy dikwels sê, “the most humbling place on earth”). Hoe gaan jy te werk om die beste balans te kry in hierdie opsig? Met ander woorde, wat probeer jy as ‘t ware in posisie kry om soveel as moontlik van daardie rouheid te behou? Of is dit eerder ’n geval van: dis ’n heel ander sport, met ander reëls, en dit help nie mens probeer die twee vergelyk nie?

"Snow" het vir seker trefkrag op die verhoog. Sekere tunes is weer meer gepas vir sit en luister met jou oë toe.

Dit ís inderwaarheid ’n ander sport. "Cape Town" het byvoorbeeld regtig kak uitgekom in die studio. Dit was te stadig, sonder balls, en disjointed. Ek het ’n paar maande ná die studio-opnames lewende Youtube-video’s opgeneem. Die klank en feel van "Cape Town" tydens laasgenoemde proses het net soveel meer gravitas gehad. Ek het toe die oorspronklike opname diep in ’n kas weggebêre en die klank van die YouTube-opname nét so gebruik.

Gelukkig het die meeste van die ander komposisies die rouheid behou. Dit gebeur slegs wanneer jy ongelooflik goed voorbereid is en dan net gaan sit en vergeet van die tientalle mikrofone wat skrefies-oog na elke noot “kyk” wat jy speel.

Jy het einde verlede jaar ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Kaapstad voltooi. Moerse geluk! Wat dink jy is die ooreenkomste tussen woordskryf en musiekskryf wat uitdrukking, beeldskepping ens betref? Wat is die grootste verskille? Waaruit put jy op die oomblik meer genot – ’n kitaar of viool in die arms, of ’n pen in die hand? Hoe wissel dit van dag tot dag?

Soos ek reeds genoem het, is komponeer vir my ’n multidissiplinêre oefening. Ek sien en ervaar goed en probeer dan om daardie sintuiglike stimulasie te omskep na ’n ander medium. Daar is dus ’n feedback-loop wat hopelik sal plaasvind. Die gehoor ervaar dan die klank en skep dan hul eie beelde of idees uit die klankgolwe.

Skryf is weer vir my ’n klankspesifieke aktiwiteit. ’n Musikale frase is op ’n manier ’n sin of ’n idee. Dit maak deel uit van ’n groter geheel. Wanneer ek pen op papier sit, moet daardie frases/sinne ook ’n vloei hê: ’n begin, ’n einde, aanleiding gee tot dit wat nog op pad is en ook terugskouend die leitmotief eer. ’n Catchy tune is die goue draad van ’n liedjie. ’n Befokte karakter of sentrale idee waarom ’n verhaal wentel, is die skryf-ekwivalent. Party dae wil my vingers oor die toetsbord dans en ander dae wil my vingers oor die snare gly. Ander dae wil ek sing ... maar ek kan nie sing nie. Dan gaan lê ek maar vir ’n rukkie en gryp dan na die een (laptop of kitaar) wat die naaste aan my bed is.

Chromatique is vanjaar by die Woordfees, vir twee vertonings in die Fismer-saal. Jy is al ’n hardebaard wat Woordfees-vertonings betref: musiek- en verhoogstukke by dosyne, bykans van kindsbeen af. As kunstenaar en oudinwoner van Stellenbosch: Hoe het jy die Woordfees sien verander oor die jare? Is daar vir jou spesifiek lekker en spesifiek minder lekker elemente te bespeur in dié opsig? Hoe sal jy verdere of ander soorte groei wil sien afspeel in die toekoms, en hoe sien jy jou plek daarin?

Die Woordfees het ’n baie deurdagte fokuspunt aangaande die tipe produksies wat hulle op die planke sit. Dit is oorwegend kleinkuns, aktuele diskoers en denke-gerig, eerder as ’n bierfees. Bier is daar wel, maar die platform wat daar is vir meer kreatiewe en eksperimentele produksies is grotendeels uniek.

Ek dink die Woordfees kan meer fokus op tweetaligheid. Geografies en demografies gesproke maak dit wel sin om meer Afrikaanse produksies te hê – maar dit is ’n debat op sy eie. Die Woordfees is vir seker my home ground, en ek sien al hoe meer gereelde gesigte by my optredes, meestal my ma se vriendinne. 🙁

Maar, daar is definitief ’n groei in die belangstelling in my werk.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Wilken Calitz, in so verre jy dit kan bestuur? Meer musiek, of meer boeke? Of albei? Gaan Die Skynmaagde ooit weer ’n gig speel?

Ek is tans besig met ’n langtermynskryfprojek wat hopelik oor ’n maand of twee in sy eerste draft-fase sal wees. Verder is daar heelwat konserte wat voorlê, en indien ál die gode aan my kant is, is daar nog ’n solo-album wat aan die einde van die jaar die lig sal sien.

Die roem wat Die Skynmaagde in ’n kort tydjie gekry het, maak dit moeilik vir my om die huis te verlaat sonder om deur ’n aanhanger gekaap te word. As ons laatnag kan oefen (onder streng polisiebewaking) sal Die Skynmaagde weer kan speel.

Bestaan daar ooit iets soos tasbare nalatenskap? Of is dit net ’n mooi storie wat ons vir onsself vertel?

Kyk, almal soek ’n plekkie in die son. En almal wil maar ook ’n spreekwoordelike standbeeld agterlaat wat son kan vang totdat die aardkors homself insluk en alles daarmee saam vernuwe.

Facebook is die go-to platform om jou aardse lewe te verewig. As jy sterf en ander mense ervaar pyn weens jou afwesigheid, is dit ook ’n tasbare nalatenskap. My nalatenskap is hopelik ’n kortstondige pyn in die buik van my naasbestaandes en daarna hoop ek tieners probeer my kitaar-rifs uitfigure met ’n fucked-up ou kitaar in die hand – soos ek gedoen het ná Kurt Cobain se dood. Hy lewe steeds, right?

  • Chromatique word op 3 Maart om 20:30 en 6 Maart om 18:00 in die Fismer-saal uitgevoer. Klik hier vir die volledige Woordfees-program.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top