Wilde klawer deur Vita du Preez: ’n resensie

  • 0

Wilde klawer
Yolanda Wessels

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799384994

Vita du Preez is bekend om haar liefdesromans en sy verkies dié genre omdat sy aan gelukkige eindes glo. Haar tuiste is op Onrusrivier, soos sy verwys, “’n stukkie hemel op aarde” waar sy ook artikels oor die Hermanus-omgewing, walvisse en haaie vir die toerismebedryf skryf. Die man in haar lewe se huis in die Strand het ’n ongerepte uitsig oor Valsbaai waar baie van haar stories gebore word.

Sy kry haar inspirasie uit die alledaagse lewe en skep graag ’n fantasiewêreld waarin die ideale held die heldin se diepste behoeftes verstaan. Haar lewensmotto lees dat gelukkige eindes kan ons almal beskore wees as ons ons lewensvreugde en humorsin behou.

Haar eerste romanse, As sterre blom, het in 1996 verskyn. Daarna het verskeie titels uit haar pen die lig gesien. Sy het sedert 2002 voltyds vertaalwerk gedoen vir Jacklin Enterprises se Mills en Boon-reeks in Afrikaans. Ná tien jaar het sy besluit om weer op haar eie skryfwerk te fokus. Waar die son omdraai, haar eerste liefdesroman, het in 2014 verskyn. Skuiling van die hart, ’n historiese liefdesroman wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel, beleef in 2015 ’n derde herdruk.

Wilde klawer is die vierde boek in die Vinkel & Koljander-reeks en volg op Solitaire, Woestynroos en Droomland.

In Wilde klawer beleef die hoofkarakter, McKenna Wilde, ’n reis na selfontdekking. Ná ontvangs van ’n brief wat haar konfronteer met haar ma se verlede en die Wildes se betrokkenheid by die Ierse Republikeinse Weermag se bloedige stryd teen Britse oorheersing, word sy genoop om haar geboorteland, Noord-Ierland, te besoek.

Die skrywer neem jou op ’n reis wat jy deurlopend saam met McKenna onderneem: Haar spesiale gawe om die onsienlike te sien (wat sy as ’n vloek eerder as ’n seën ervaar), waar jy as leser haar ontnugtering en diep emosies beleef. In dié reis moet McKenna leer dat sy nie van haar herkoms kan vlug nie.  

Verskeie mense kruis haar pad in Portballintrae, waar sy hul familiehuis opknap terwyl sy voortsoek na antwoorde op die baie vrae wat haar teister. Gou moet sy leer dat nie almal haar noodwendig goedgesind is nie en die antwoorde haar bly ontwyk al smag sy na verlossing wat net die waarheid kan bied. Die skrywer slaag daarin dat jy jou saam met McKenna in Ierland bevind, in die klein dorpie waar sy hoop om haar (en haar ma) se verlede te ontsyfer. Die angs, onsekerheid, beklemming en hartseer wat haar volg op haar soeke na die waarheid, gryp mens aan en roer jou hartsnare. Die geheime van lank gelede, weggebêre in ’n kas, maar wat deur die aanraking van metale die arme McKenna teister, bevestig dat dit allermins ’n gawe in haar geval is om in staat te wees om beelde te sien wat veral die hangertjie oproep.

Bladsy vir bladsy stap jy die pad van ontdekking saam met McKenna en wag jy ademloos op oplossings van al die raaisels wat deurlopend ontvou. Die uiteenlopende karakters wat haar pad kruis, is allermins ’n hulp en lei tot meer vrae waarop jy nie kan wag om te verstaan en die hele legkaart inmekaar te kan skuif nie. Vita skep ’n spanningslyn, ondanks die dieper betekenis en soeke van McKenna na antwoorde en liefde van ’n blywende aard, wat jou ook tot die slotsom roep dat intimiteit sonder liefde inderdaad bloot ’n gejaag na wind is, soos die sub-onderskrif op die voorblad noem. Dit is noodsaaklik om ’n man met jou hart te kan vertrou voordat jy hom met jou lyf kan vertrou. Sy stel dit dat dié tipe liefde blywend van aard, en nie net sinnelose plesier van ’n verbygaande aard is nie.

Wilde klawer slaag daarin om jou deurlopend te boei en inderwaarheid as gevangene te hou totdat antwoorde ontknoop en McKenna die geheime van lank gelede ontsyfer. Alhoewel dit nie ’n boek is wat ek noodwendig twee maal sal lees nie, bied dit vermaaklike leesstof en val dit in lyn met haar vorige romanses.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top