Wilbur Smith: Iewers in ’n Afrika-woud het ’n seder geval, maar nie in stilte nie

  • 0

Kan jy glo … Wilbur Smith is dood. Onwerklik. Solank as wat ek kan onthou, was hy daar, groter as lewensgroot, een van die blinkste sterre aan die skrywershemel hier uit Afrika. Ja, hy sou nie ’n Booker wen nie, maar die top van die verkoperlys dikwels. Hy was ’n skryf-fenomeen wat meer as 140 miljoen boeke verkoop het en sy eie tropiese eiland en huise in vier lande besit het.

Daar word dikwels gesê dat Engelssprekende skrywers in Suid-Afrika met internasionale outeurs kompeteer en daarom verkoop hulle swakker as Afrikaanse outeurs. Wilbur Addison Smith (9 Januarie 1933 – 13 November 2021) was wel nie ’n Suid-Afrikaner nie, want hy is in Zambië gebore, maar ek reken sy Suid-Afrikaanse aanhangers het hom as “een van ons” beskou, dog ook ’n internasionale ikoon onder avontuurverhaalskrywers. Hy het immers gesorg dat hy een van daardie internasionale outeurs geword het waarmee hier meegeding moet word.

........

Wanneer daar genoem word dat ’n skrywer se naam ’n handelsmerk kan wees, dink ek dadelik aan mense soos Wilbur Smith, Stephen King en Louis L’Amour.

..........

Wanneer daar genoem word dat ’n skrywer se naam ’n handelsmerk kan wees, dink ek dadelik aan mense soos Wilbur Smith, Stephen King en Louis L’Amour. Al drie skrywers het aan my en miljoene ander ure se genot verskaf, en al drie skrywers het outobiografieë geskryf (King: On writing, L’Amour: Education of a wandering man) wat ek gretig gelees het. Hulle deel ook graag hulle lewensfilosofieë en skryftegnieke, wat neerkom op: lees baie, skryf waaroor jy kennis dra, en skryf eerder as om oor jou stories te praat.

Wilbur Smith se outobiografie, On Leopard Rock (2018), onthul heelwat oor sy ingesteldhede, sy grille en sy talente, maar ek moet erken dat ek later aan begin wonder het of hy nie dalk onder die versoeking om nogmaals te vergroot en aan te dik geswig het nie. Nietemin, Smith het nooit daarin gefaal om ’n vermaaklike storie aan te bied nie – sy miljoene aanhangers het altyd geweet hulle sal waarde vir geld (vir wat hulle spesifiek verlang) kry, vandaar sy suksesvolle handelsmerk. As jy oor aantreklike, atletiese, intelligente, vaardige, ryk en waarskynlik op enige tydstip in die boek ook karakters wat hul seksueel uitleef wil lees, wat boonop ongelooflike avonture beleef, sou Smith jou nie teleurstel nie.

Lesers sal sekerlik verskil oor watter van sy nagenoeg 50 boeke (hy het ook twee kinderboeke geskryf) hulle gunsteling is, maar min sal stry dat sy debuutroman, When the lion feeds (1964), hom met ’n brul aan die wêreld bekendgestel het. Toe die opvolg The sound of thunder (1966) ná The dark of the sun (oor die berugte slagting in die Kongo) verskyn het, was dit duidelik dat lesers meer avonture saam met sekere van sy heroïese karakters wou beleef. So het sy reekse oor die Courtneys, die Ballantynes en antieke Egipte ontstaan en gedy. Daar was ook talle ander romans, soos Shout at the devil (1968) waarvan films gemaak is (daar was sewe sulke films), en Wild justice (sy eerste topverkoper in die VSA, in 1969). Hy het aanvanklik hoofsaaklik geskryf oor omgewings en aktiwiteite wat hy self ervaar het, soos Gold mine (1970) – hy het self in ’n myn gewerk – en The eye of the tiger (1975) asook Hungry as the sea (1978), na aanleiding van ervarings wat hy in vissers- en walvisskepe gehad het. Hy skryf ook dikwels oor vliegtuie en luggevegte – soos sy vader, het hy oor ’n vlieglisensie beskik. Vir my was Eagle in the sky (1974) ’n groot gunsteling.

Van sy vader Herbert gepraat, het Smith sy liefde vir boeke by sy moeder, Elfreda, gekry, terwyl sy vader, ’n robuuste en vreeslose man (oa ’n bokser en jagter, wat baie aan etlike van sy hoofkarakters herinner), volgens Smith nooit ’n boek gelees het nie, insluitend dié van sy seun. Sy vader het om ook ontmoedig om te skryf, of om selfs ’n joernalis te word, en gebied om ’n “regte” werk te kry, met die gevolg dat Smith toe ’n handelsgraad voltooi het en as boekhouer gewerk het. Soos baie mense wat eventueel groot name geword het – ek dink dadelik aan Langenhoven en Jan Smuts uit ons omgewing, asook Damon Galgut (hy het as kind aan limfkanker gely) – was Smith ook sieklik, met serebrale malaria en polio op sy kerfstok, en sy groot en gespierde metaalwerker-pa moes uiters intimiderend gewees het. Hy noem self dat hy eers as twintigjarige vir homself begin dink het.

Ongelukkig het sy mensekennis en individualisme hom nie veel gebaat wanneer dit by die vroulike geslag gekom het nie. Hy is vier keer getroud en het nie veel goed te sê oor sy eerste drie eggenotes nie. Dalk steek daar waarheid in wanneer sy kritici hom van vrouehaat beskuldig, maar sy vrouekarakters is gewoonlik net so ongelooflik wonderlik (of verskriklik boos) as sy manlike karakters – ek het nooit gevoel hy is seksisties, of rassisties, soos sy werk ook al bestempel is nie. Ek vermoed die probleem lê eerder by die leser; watter bril hy/sy op het en watter persoonlike vooroordele daarmee saamkom. Smith het self verklaar dat hy met die mislukking van sy eerste, ongepubliseerde roman (“The gods first make mad”) geleer het dat hy sy politieke sienings eerder moet weglaat wanneer hy skryf. Tog is daar heelwat politiek en geskiedenis in sy werke ingeweef, en niemand kan dit miskyk nie. Skryf jy daaroor, sal jy egter altyd iemand kwets.

Na my mening het hy meestal gepoog om ’n ewewigtige beeld van strydende partye te skets. Nogtans is van sy boeke deur die vorige SA-regering verban, soms skynbaar oor seksuele inhoud. Dit kan nie ontken word nie dat daar gedurende die hoogty van apartheid min gewaagde tonele verby die uiloë van die sensors geglip het. Vir tienerseuns, soos ek destyds, was Wilbur Smith en Heinz Konsalik opwindende leesstof, deels juis daarom. Toe ek onlangs, ná jare wat ek laas ’n Wilbur Smith oopgemaak het (die plotlyne en karakters het later regtig vir my te ooreenstemmend begin voorkom, nes dié van baie ander skrywers), die roman Those in peril (2011) begin lees – amper as ’n voorbode vir Smith se dood? – was ek weer eens verbaas oor hoe eksplisiet hy oor ’n jong meisie se seksuele ontwaking kon skryf.

Smith se houding jeens kritiek was redelik ongeërgd of afwysend; dalk ’n dwarsheid wat hy van Herbert geërf het. Hy het ook later geweier dat films van sy boeke gemaak word indien hy nie self die draaiboeke skryf nie. Smith het beweer dat hy vir homself geskryf het, nie met ’n ander teikenmark in gedagte nie. Hierdie spesifieke formule van aksie (ook in die bed), eksotiese en gevaarlike omgewings, helde en heldinne versus dodelike gediertes – twee- en vierbeentipes – en opwindende, hoë-tempo storielyne, mag aan James Bond herinner, maar ek verstout my om te sê dat Wilbur Smith beter draaiboeke vir dáárdie held sou kon skryf, want hy kón skryf!

......

Hierdie spesifieke formule van aksie (ook in die bed), eksotiese en gevaarlike omgewings, helde en heldinne versus dodelike gediertes – twee- en vierbeentipes – en opwindende, hoë-tempo storielyne, mag aan James Bond herinner, maar ek verstout my om te sê dat Wilbur Smith beter draaiboeke vir dáárdie held sou kon skryf, want hy kón skryf!

........

Hoewel hy nie juis deur die literators hoog aangeskryf was nie, het hy sy lewe, na ’n aanvanklike sukkelbegin (sy bovermelde ongepubliseerde manuskrip is 20 maal afgekeur), uiteindelik grootliks volgens sy eie standaarde geniet. Behalwe vir die swak keuses van lewensmaats het hy soveel beter gevaar as miljoene ander met hoop in hulle harte en byna niks anders as ’n redelike mate van talent nie. Hy het gewys wat harde werk en selfgeloof kan meebring en sal altyd as ’n inspirasie dien vir jongelinge wat deur dominerende ouers in dwangbuise gedruk word.

Om af te sluit: Ek het sy boeke baie geniet, al het ek later weggedwaal op soek na groter verskeidenheid in woord en beeld, en ek sal beslis vorentoe na sy laaste romans gaan kyk, veral dié wat hy alleen geskryf het, want ek byt langtand aan boeke wat deur tweemanspanne saamgestel is. Volgens Smith het hy hierdie samewerking gedoen omdat sy lesers vinniger wou lees as wat hy kon skryf. Dit herinner my aan JC Kannemeyer se uitspraak dat Karel Schoeman “vinniger kon skryf as wat God kan lees”. Smith is glo voorheen daarvan beskuldig dat sy navorsing nie altyd deeglik was nie. Wel, dis fiksie, nie akademiese verhandelinge nie. Ek moet wel erken dat ek soms geïrriteerd was omdat sy Afrikaanse dialoog nie al te taalkundig korrek was nie. Hoe moeilik kan dit wees om iemand te kry wat dit kan proeflees?

........

Maar waarvoor sal Wilbur Smith onthou word? Presies vir wat hy wou doen: lekker skop, skiet en donder, dikwels met ’n tikkie Afrika-smaak vir ekstra tekstuur en vir afwisseling ’n draai op die uithoeke van die wêreld, dalk in ’n oerwoud, of ’n woestyn, en baie maal hoog op in die hemelruim.

........

Maar waarvoor sal Wilbur Smith onthou word? Presies vir wat hy wou doen: lekker skop, skiet en donder, dikwels met ’n tikkie Afrika-smaak vir ekstra tekstuur en vir afwisseling ’n draai op die uithoeke van die wêreld, dalk in ’n oerwoud, of ’n woestyn, en baie maal hoog op in die hemelruim. Soms was dit oor hedendaagse avonturiers op soek na weelde en roem, soms het hulle eeue gelede “geleef”. Maar altyd kon sy lesers deur sy wonderbaarlike karakters as avatars van hulle eie daaglikse sleurbestaan weggevoer word. Wilbur Smith kan met reg bestempel word as ’n top-eksponent van die moderne heroïese sage.

Welgedaan, en mag jy in vrede rus, Ou Grote.

Lees ook:

Wilbur Smith, ’n gewone man wat vir gewone mense skryf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top