In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Daar word dikwels oor die legendariese politikus advokaat Tielman Roos geskryf en gepraat. Maar miskien moet ons vandag by Tielman Roos die regsgeleerde stilstaan. Ons aanknopingspunt is sy toelating as advokaat op 14 April 1902 – vanjaar 111 jaar gelede.
Tielman was 'n goeie regstudent. Hy het die BA-graad in 1899 met onderskeiding aan die destydse South African College behaal, en twee jaar later ook die LLB-graad terwyl hy reeds begin werk het as klerk in 'n prokureurskantoor.
Na sy toelating as advokaat het hy hom in Pretoria gevestig, waar hy spoedig 'n bloeiende praktyk opgebou het. Saam met dr Hjalmar Reitz skryf hy in daardie tyd ook 'n boek met die titel Principles of Roman Dutch Law. Hy was 'n uitsonderlik bekwame advokaat wat met sy vlymskerp intellek blitsvinnig die kern van 'n saak kon snap. Daar was min regskollegas wat by hom as debatteerder kon kers vashou.
Maar Tielman Roos se kop het politiek toe gestaan. Kort voor Uniewording het hy na vore getree as 'n sterk voorstander van 'n federale grondwet vir Suid-Afrika. Maar sy werklike kans het gekom toe genl Hertzog in 1912 uit die kabinet van genl Louis Botha gesit is. Roos het Hertzog gehelp om gestalte te gee aan die nasionale beweging en is in 1914 verkies tot eerste leier van die Nasionale Party in Transvaal. Tussendeur het hy ook nog as advokaat gepraktiseer.
Toe Hertzog in 1924 aan bewind kom, is Roos in sy kabinet opgeneem as adjunkpremier en minister van justisie. Tydens sy ampstermyn is veral drie belangrike wette op die wetboek geplaas: die Maatskappyewet van 1926, die Insolvensiewet van dieselfde jaar en die Drankwet van 1928.
Hy was 'n onkonvensionele minister. Die staaltjie word vertel dat hy op die agterkant van 'n verkreukelde koevert wat aan Die Minister van Justisie geadresseer was, die volgende belangrike notatjie vir 'n bekende senior advokaat, Saul Solomon QC, geskryf het: "My dear Solomon, are you prepared to accept an appointment to the Transvaal bench? Tielman." Dit was seker die ongewoonste manier waarop 'n senior advokaat nog deur 'n minister genader is om 'n regter van die hoër hof te word!
Toe hy besig was om te skaaf aan die Drankwet van 1928, het hy en 'n ander bekende senior advokaat een aand in die kroeg van die ou Queens Hotel in Pretoria gekuier. Die Minister was besig om met die aanvallige dametjie aan die anderkant van die kroegtoonbank te gesels. Hy vra toe vir haar hoe lank sy al as kroegmeisie werk, waarop sy antwoord: "O, slegs 'n jaar." Nou: 'n artikel in die ontwerp-Drankwet het die regte van kroegmeisies beskerm eers as hulle twee jaar diens gedoen het. Adv Roos het nog 'n drankie by die mooi juffrou bestel, dit weggeslaan en toe reguit na sy hotelkamer gestap, waar hy die vereiste van twee jaar diens in die wetsontwerp na slegs een jaar verkort het!
Hy was 'n sensitiewe mens. As minister van justisie was dit altyd vir hom baie moeilik om by die kabinet aan te beveel dat 'n doodsvonnis voltrek moes word. En hy het nie van aanstellerigheid gehou nie. Iemand vertel die storie van 'n verwaande ou wat homself een aand by 'n onthaal as 'n vrederegter aan Roos bekend gestel het. Hy het nie geweet dis die Minister van Justisie met wie hy praat nie, en toe hy vra watse werk hý doen, het Tielman blitsvinnig geantwoord: "Ek is die gek wat jou aangestel het."
Roos het in Oktober 1929 as gevolg van swak gesondheid uit die politiek getree, en 'n paar weke later is hy as appèlregter aangestel, wat ook 'n baie ongewone verskynsel was. Hy was egter nie baie gelukkig op die regbank nie, en na nog 'n kort – veels te kort – draai in die politiek sterf hy op 28 Maart 1935 op die jeugdige ouderdom van byna 56 jaar.
Bronne
1 Kahn, Ellison: Law, life & laughter – legal anecdotes & portraits.Kenwyn: Juta & Co, 1991, bl 209
2 De Kock, WJ (red): Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, vol I. Kaapstad: Tafelberg, 1968 (tweede druk 1976) bl 709
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

