Wie was die voorsate van die moderne mens?

  • 21

Die moderne mens was nie altyd alleen op aarde nie; hier was ander intelligente wesens saam met ons. Hoekom is ons dan vandag so arrogant oor ons intelligensie midde ons lomp en wrede heerskappy oor alles en almal, en glo baie mense steeds ’n bomenslike wese het ons spesiaal gemaak?

Minder as ’n 100 000 jaar gelede was die moderne mens meestal beperk tot Afrika – die vasteland waar ons almal ontstaan het. Hulle neefs en niggies, die Neanderdalmense, én die Denisovans, het onderskeidelik in die weste en ooste van Eurasië geleef. ’n Enorme gebied.

Skulpies wat in sedimete in die Cueva de los Aviones in Spanje gevind is. Die oudste hiervan is 120 000 jaar oud en dit is bewerk en gekleur met oker deur Neanderdalmense. Foto: J Zilhão

Bewyse oor hoe ons en dié twee spesies aan mekaar verbind is, is die afgelope tyd toenemend gepubliseer. Die idee dat net ons unieke, slim heersers oor die landskap was, kan nie meer gehuldig word nie.

Die verhaal begin by die migrasie van mense uit Afrika tussen 70 000 en 60 000 jaar gelede toe daar ’n Ystydperk was. Die seevlakke was aansienlik laer as vandag en die kruising oor die Rooi See makliker.

Die moderne mens het byna nie oorleef nie; kenners meen daar was op een stadium so min as 10 000 mense (Homo sapiens). Ander meen daar kon selfs minder gewees het. Ons is deur ’n genetiese bottelnek. Een van die plekke waar mense in Afrika oorleef het, was by Pinnacle Point by Mosselbaai, waar die seevlak destyds tot 90 km van die huidige kuslyn teruggetrek het.

Evolusie het ons nie vorentoe gestoot na perfeksie nie. Dit is nie soos die evolusie van die vliegtuig of motor waar die modelle poog om die vorige een te verbeter nie. Dit is hoekom evolusie nie liniêr is en van minder na meer kompleks loop nie. Natuurlike seleksie is ook nie ’n bewustelike proses met ’n bepaalde uitkomsgerigte doel nie. Helaas, is ons ook nie geskep nie; ons het net-net daarin geslaag om deur natuurlike seleksie aan te pas.

Tot so onlangs as agt jaar gelede is daar gedink ons en Neanderdalmense het nie gekruis nie, en hulle was net ’n brutale, dom, spesie wat grommend rondgehol het. Gelukkig weet ons nou van beter, omdat die wetenskap bly ondersoek en homself korrigeer.

In 2010 is die volledige genoom van Neanderdalmens gekarteer onder leiding van Svante Pääbo, verbonde aan die departement van evolusionêre genetika by die Max Planck-instituut vir Evolusionêre Antropologie in Duitsland. Dié eerste genoom, en die ses ander wat gevolg het, is kaarte uit ’n era van ons stamboom. Jy kan daarmee terugstap in tyd, want gene bewaar ons herkoms. Dan word dit vergelyk met vandag se genetiese kaarte.

Die raming is dat moderne mense en Neanderdalmense tussen 650 000 en 700 000 jaar gelede ’n gesamentlike voorsaat gehad het, en dat ons daarna geskei het, maar die genetika vertel nou ’n ander verhaal. Dié skeiding het dalk 400 000 jaar gelede gebeur.

Om die prentjie nog meer ingewikkeld te maak, was daar ook ’n derde spesie – waarvan ons weet – in die omtrek. Dié hominiede, die Denisovans, het ook tot die genus Homo behoort en het minstens 130 000 jaar lank in een gebied in Siberië gewoon. Dié was die eerste hominiedspesie in die geskiedenis wat nie volgens die tradisionele taksonomie beskryf word nie, maar met DNS-analise.

Die rotstekening gemaak deur Neanderdalmense 64 800 jaar oud, dit is 20 000 jaar ouer as dié van moderne mense. Die skets wys wat op die rots in Spanje geteken is. Foto: Breuil et al/Science

Die rotstekening gemaak deur Neanderdalmense 64 800 jaar oud, dit is 20 000 jaar ouer as dié van moderne mense. Foto: Breuil et al/Science

Net ’n paar tande en beentjies is in ’n grot in Siberië gevind, maar die gene het onbetwisbaar gewys dit is ’n ander argaïese spesie. Drie afsonderlike spesies wat op een tyd geleef het.

Dink net wat sou gebeur het as dit vandag was. Ons sou seker spesie-diskriminasie ontwerp het.

Vanjaar is daar is die eerste bewyse gekry dat Denisovans ook met die Neanderdalmense gekruis het. Dit is gesien uit die fossiel van ’n 13-jarige meisie van 50 000 jaar gelede wie se ma ’n Neanderdalmens was en haar pa ’n Denisovan. Die pa het baie ver terug op sy stamboom ook ’n Neanderdal-voorsaat gehad, soveel as 300 tot 600 generasies terug voor sy leeftyd, uit ’n ander groep Neanderdalmense as dié van die ma.

Die kruisings het ’n hele vloei in die genepot veroorsaak, net soos vandag, wat aan ons ’n verbintenis met die diepe verlede gee.

Wie dra wie se gene? Daar is op 26 November vanjaar nog nuwe werk gepubliseer wat die verhaal nog meer interessant maak. Daar is eers gedink dat die spesies mekaar dalk net een keer sou raakgeloop het; dit is egter nie so nie. Ons het verskeie kere oor die verloop van duisende jare met mekaar in aanraking gekom en die resultaat was vele babas.

Die uitsig vanaf die grot waar die fossiele van die Denisovans gevind is. Dit is in die hedendaagse Rusland.  Foto: B Viola, MPI Evolutionary Anthropology

Die jongste nuus is dat moderne bevolkings van Oos-Asië tussen 12% en 20% meer Neanderdalgene in hulle genoom het as ander mense. Mense wat van Europese afkoms is, het tussen 2% en 6% van Neanderdalgene in hulle, en dié van nie-Europese afkoms niks, omdat hulle voorsate in Afrika was.

Die Neanderdalmense het verskeie dinge aan ons oorgedra: Dit speel ’n rol in vel- en haarkleur, hoë cholesterolvlakke, die opbou van vet om jou middel, lupus, rumatoïede artritis (’n outo-immuniteitsiekte), die risiko vir skisofrenie; dit het ’n invloed op jou slaappatrone soos bepaal deur jou interne horlosie, en verskeie allergieë.

’n Belangrike erfenis was beskerming teen RNS-virusse. Soveel as 152 gene wat mense van Europese en Asiese herkoms van Neanderdalmense gekry het, beskerm teen dié tipes virusse. Dit het ook ons voorsate gehelp om die virusse te beveg toe hulle uit Afrika migreer het en vir die eerste keer in aanraking gekom het daarmee.

Toe ons en die Neanderdalmense se gemeenskaplike voorsaat geskei het, het elkeen daarna sy eie stamme van die menslike papilloomvirus (MPV) ontwikkel. Nadat ons weer met hulle in aanraking gekom het, het ons weer nuwe MPV-stamme by hulle gekry en dit is steeds met ons. Dit is hierdie stamme wat onder meer die oorsaak van die meeste servikale kankers en van sekere mond- en keelkankers is. Ons het tuberkulose en herpes aan hulle oorgedra.

In drie grotte in Spanje is die oudste simboliese rotskuns op aarde, deur Neanderdalmense gemaak. Dit is minstens 64 800 jaar oud, 20 000 jaar voor die eerste moderne mense se kuns.

Die sketse van diere, met kolle en geometriese vorme in rooi en geel oker, en in swart kleure, wys hulle het simbolies gedink. Om dit te doen het jy ’n bepaalde kognisie. Aanvanklik is daar gedink dit was moderne mense se werk, maar vanjaar is daar uraan- en toriumdatering gedoen en daar is besef dit is onmoontlik – mense was nog in Afrika.

Die toetse dateer die opbou van karbonaat op die kuns. Dit bevat spore van die radioaktiewe elemente uraan en torium, wat wys wanneer die neerslae in die grot gevorm het. Dit was ook nie ’n eenmalige gebeurtenis nie; hulle het 25 000 jaar lank in die Maltravieso-, La Pasiega- en Ardelesgrotte in Spanje kuns gemaak.

Seker die mooiste nog is die fyn skulpies wat die Neanderdalmense bewerk het, waarvan die spore van gekleurde oker ook nog daar is. Dit is in sedimente in die Cueva de los Aviones in Spanje gevind . Die oudste hiervan is 120 000 jaar gelede gemaak, toe hulle met stukkies gereedskap koeëlronde gaatjies daarin geboor het. Dalk om ’n veltoutjie deur te ryg om krale mee te maak?

Neanderdalmense het 175 000 jaar gelede unieke strukture diep in ’n grot gebou, gemaak van stalagmiete, wat hulle in kringe opgestapel het. Die enigmatiese struktuur van 400 stalagmiete is twee jaar gelede diep in die Bruniquel-grot in die suidweste van Frankryk gevind.

Die druipstene is afgebreek in stukke van sowat 30 cm en opgestapel in “muurtjies” wat sowat 40 cm hoog is. Die een sirkel is 6,7 m x 4,5 m en die tweede 2,2 m x 2,1 m. Vuur is gebruik om van die stalagmiete te verhit, en dit is rooi en swart gekleur.

Dit herinner aan rituele gedrag, en baie vroeë simboliese en kognitiewe denke by ’n ander spesie as die mens. Sodra jy simbole het, het jy kultuur in jou evolusieproses. Jy het ’n “ideologie” en jy moet oor ’n vorm van taal beskik. Jy is ’n denkende wese.

Hierdie mense was ook glad nie reuse, met koppe soos rotsblokke en ’n borskas soos ’n vaatjie, wat bo my en jou sou uittroon nie. By die Natuurhistoriese Museum in Londen is twee lewensgrootte-afbeeldings wat na aanleiding van fossiele gemaak is van ’n vroeë moderne mens en een van ’n Neanderdalmens.

’n Neaderdalmens (links) en ’n moderne mens. Foto: Ian Tattersall/American Museum of Natural History

Die mens is 1,75 m lank en lenig gebou – gemaak vir langafstandhardloop. Die Neanderdal is 1,55 m lank, en het, net soos die mens, sy liggaam met oker versier en velle as klere gedra. Beide het gereedskap gemaak en suksesvol gejag. Nie een van die twee was “aapmense” nie.

Baie onlangse navorsing toon die Neanderdalmens se toraks – daardie borskas soos ’n vaatjie – was baie dieselfde as dié van mense. Dit het dieselfde vorm gehad as ons s’n; dit was net wyer aan die onderste segment. Hulle sou meer met die diafragma asem gehaal het, en sou ’n groter longkapasiteit gehad het.

Die idee dat hulle lewens gewelddadiger was, of dat hulle “wilder” sou gewees het, is nie waar nie. Daar is ewe veel trauma aan die fossiele van beide spesies van destyds. Dit was gevaarlik vir beide om te jag en die sosiale en lewensomstandighede het ’n ewe groot risiko vir beserings en dood ingehou.

Kenners het onlangs werk gepubliseer en die beserings aan 114 Neanderdal- en 90 mensskedels uit Eurasië tussen 80 000 en 20 000 jaar gelede bekyk. Daar was nie ’n verskil in die hoeveelheid of aard van beserings nie. Al wat uitgestaan het, is dat die mans meer beserings gehad het – en dit is vandag steeds so.

Van die mense en Neanderdalmense het nie beswyk aan die beserings nie, maar hulle het van die gruwelike wonde en beenbreuke herstel. Dit kon net gebeur het indien die ander na jou omgesien het. Jy was in dié tyd ’n las; jy kon nie ’n bydrae maak om kos in te samel, na die kinders te kyk, of die groep te beskerm nie. Dit is ’n gevorderde stap in evolusie.

Altruïsme en sorg vir ander – om te gee, of om te gee sonder om iets terug te kry – is ’n funksie wat nie eie aan die mens is nie. Dit is ook nie eie aan ons genus of spesie nie, maar kom ook voor onder sjimpansees. Nog minder is ons die enigste wat gereedskap gebruik.

’n Stel tande wat van ’n Neanderdalman ontleed is, het gewys hy het ’n aaklige abses aan die bo-kaak gehad. Dit kon gesien word aan ’n mikro-organisme wat ontleed is van die plaak aan sy tande. Die parasiet het erge diarree veroorsaak. Hy het egter populier geëet wat ’n bron van aspirien is, asook ’n natuurlike antibiotiese skimmel wat ’n bron van penisillien is. Nog een het sy tande met ’n “tandestokkie” gesit en pik – so erg dat dit merke gelaat het, en die tande geskuif het, soos wanneer ’n mens pyprook.

Die hominied met die bynaam Hobbit (Homo floresiensis) het tot so onlangs as 50 000 jaar gelede op ’n Indonesiese eiland geleef voordat hulle uitgesterf het. Lede van die spesie het omtrent ’n meter lank geword. Daar is geen bewyse dat hulle met die ander spesies gekruis het nie, maar hulle en die ander vier spesies het op dieselfde tyd geleef.

Dit lyk ook of die moderne mense ouer as 200 000 jaar is, so oud as 300 000 tot 350 000 jaar, volgens fossiele van moderne mense van Marokko wat verlede jaar op minstens 315 000 jaar oud dateer is.

In Suid-Afrika is Afrika se rykste fossielterrein die Wieg van die Mensdom. Duisende fossiele van Homo naledi is al in twee afsonderlike grotkamers van die Rising Star-grotstelsel gevind. Dié fossiele, waarvan minstes 18 individue, is tussen 335 000 en 236 000 jaar oud – jonk genoeg dat hulle saam met die vroeë moderne mense in Suid-Afrika op die grasvlaktes gewandel het.

Hulle het die donker, afgeleë plekke gebruik om hulle dooies te daar plaas. Daar is geen bewyse van trauma, siekte, roofdiere of enige uitwissingsgebeurtenis nie. Homo naledi het iets baie besonders met hul dooies gedoen, op twee plekke, want daar is geen ander ingang gevind buiten die nou tonnels nie. ’n Soort begrafnis, wegbêre, sodat die roofdiere nie die liggame kry nie.

Wie het die gereedskap op talle van Suid-Afrika se terreine gemaak? ’n Mens kan nie meer aanneem dat ons weet wie dit gemaak het nie. Dit kon Homo naledi gewees het. Dit is ook moontlik as hulle die wêreld met moderne mense gedeel het, of daar kon nog ander intelligente wesens hier, of elders op aarde gewees het. Net soos daar Denisovans, Hobbits en Neanderdalmense was.

‘n Graveerde vuursteen wat deur 'n Neanderdalmens gemaak is. Dit is in die hedendaagse Krim gevind. Foto: Ana Majkic/Plos One

Spesies het in prehistoriese tye weens ’n komplekse verloop van omstandighede uitgesterf. Die Neanderdalmense was langer hier as wat ons hier is, en so ook vele ander hominiede wat deel van ons stamboom was, so ver terug as sewe miljoen jaar gelede. Geen spesie leef vir ewig nie – die takke van die stamboom van die lewe loop dood.

Ons is maar net nóg ’n spesie. Op ’n rots. In ’n oeroue heelal, vol triljoene planete en sterre wat al vinniger en vinniger van ons af uitdy. Ons was gelukkig om te oorleef, vir nou. Dis al.

  • Bronne: Nature (14 November 2018); Nature, Ecology & Evolution (26 November 2018); Science (22 Februarie 2018); PLOS Genetics (8 November 2018); Cell (4 Oktober 2018); Science (23 Februarie 2018); Nature (7 Junie 2017); PLOS One (2 Mei 2018).

Teks en foto's verskaf deur: Elsabé Brits

  • 21

Kommentaar

  • Johann W.Groenewald

    Baie dankie! Dit is nou iets wat ek geniet het om te lees, seker omdat ek daarin belangstel. Boonop in my eie taal! Pragtig!

  • George Bekker

    Brits skryf interessant oor 'n saak waaroor mense graag meer wil weet. Sy meld van drie afsonderlike spesies en dan volg hierdie ongewone paragraaf: “Dink net wat sou gebeur het as dit vandag was. Ons sou seker spesie-diskriminasie ontwerp het.”

    Myns insiens, is daar net een werkwyse wat sin maak: beskryf elke spesie wetenskaplik en erken die verskille, want noodwendig sal daar verskille wees.

  • Daan Cromhout

    Akkuraatheid van datering is die grootste kritiek teen artikels van hierdie aard. Hoe word ouderdom van nie-organise materiaal soos rotse en daarmee saam rotstekeninge bepaal?
    'n Webskakelverwysing sal help.

  • Annora Eksteen

    Aanvanklik is daar gedink dit was moderne mense se werk, maar vanjaar is daar uraan- en toriumdatering gedoen en daar is besef dit is onmoontlik – mense was nog in Afrika.

    Die toetse dateer die opbou van karbonaat op die kuns. Dit bevat spore van die radioaktiewe elemente uraan en torium, wat wys wanneer die neerslae in die grot gevorm het.

  • Daan Cromhout:
    Na aanleiding van jou versoek vir skakelverwysings oor datering van baie ou materiaal.
    "Scientists can use different chemicals for absolute dating:
    The best-known absolute dating technique is carbon-14 dating, which archaeologists prefer to use. However, the half-life of carbon-14 is only 5730 years, so the method cannot be used for materials older than about 70 000 years.
    Radiometric dating involves the use of isotope series, such as rubidium/strontium, thorium/lead, potassium/argon, argon/argon, or uranium/lead, all of which have very long half-lives, ranging from 0.7 to 48.6 billion years. Subtle differences in the relative proportions of the two isotopes can give good dates for rocks of any age." http://www.actionbioscience.org/evolution/benton.html
    In 'n akademiese artikel in Nature staan in die opsomming met betrekking tot baie ou datering van stalagmiet-brokstukke wat in 'n konstruksie in die Bruniquel-grot gebruik is:
    “Uranium-series dating of stalagmite regrowths on the structures and on burnt bone, combined with the dating of stalagmite tips in the structures, give a reliable and replicated age of 176.5 thousand years (±2.1 thousand years), making these edifices among the oldest known well-dated constructions made by humans. Their presence at 336 metres from the entrance of the cave indicates that humans from this period had already mastered the underground environment, which can be considered a major step in human modernity.
    Hier is iets in Wikipedia - nie altyd die mees betroubare bron nie: https://en.wikipedia.org/wiki/Bruniquel_Cave
    Meer oor daardie grot is hier te lese:
    https://www.livescience.com/54904-photos-neanderthals-created-cave-ring-structures.html
    Hierdie artikel en foto’s pas goed aan by wat Elsabe geskryf het.
    Verstommend - beide die deur wie en wat hulle so diep in die grot gedoen het - selfs al het ek al heelwat oor die voorgeskiedenis gelees. Die logiese vraag, nè soos met die Naledi-grot naby Johannesburg, is die waarom?
    https://www.maropeng.co.za/content/page/the-story-of-homo-naledi
    Hoop dit is vir jou van hulp en ook vir ander lesers wat hierin belangstel.
    Weer dankie aan Elsabe vir die oorsig-artikel en aan LitNet vir die plasing daarvan.

  • Probeer Max Planck institute for the science of human history.
    Daar mag moontlik artikels wees wat kan help.
    In Fact and faith kan daar ook artikels wees.

  • Domkop Onnosel Bosvark

    Baie dankie vir hierdie interessante artikel.

    En waar pas die San en Khoi-khoi en swartmense in die Suid-Afrikaanse prentjie? En is daar wetenskaplike bewyse op die antwoorde gebaseer op aanvaarbare aantal ewekansige steekproewe regoor Suid-Afrika?

    En welke DNS genome dui op verskillende spesies Homo sapiens sapiens?

  • Daan Cromhout

    Dankie vir die oorvloedige terugvoer op my vraag. Ek weet nou meer van dinge wat ek nie geweet het ek 'n behoefte het om te weet nie.

  • Enige idee wat die rooi tekeninge voorstel?
    Dit lyk amper soos die lugaansig van 'n dorpie, en die rooi kolle wat dalk hutte voorstel. Met 'n groot varkkamp volgens die skets wat lyk soos 'n vark se agterent, en dan ook 'n beeskraal, volgens die skets wat lyk soos 'n beeskop. Regs daarvan lyk amper soos 'n soort slee met 'n effense dakkie oor die een persoon wat daarop sit en 'n groot lugskroef aan die agterkant. Baie soos hedendaagse vaartuie wat in groot grasmoerasse gebruik word.

  • Daan Cromhout

    Verstaan ek reg dat Homo Naledi vir 100 000 jaar (tussen 335 000 en 236 000 jaar gelede) die Rising Star-grotte bewoon het?

  • Annora Eksteen

    Ek dink Homo naledi het nog in die bome gewoon (geslaap?) en hulle dooies diep in die grotte begrawe. 'n Varkkamp? Homo naledi? Ja, eienaardige tekeninge. Mens wonder wat alles saam met hulle op die grasvlaktes rondgehol het.

  • Hans Richardt

    Daar word vele hierogliewe uit Egipte gewys, met simbole van moontlike vliegtuie en ook helikopter. Daar word stede opgegrawe onder grond en ook in oseane ontdek.
    Die bybel was geskrifte geskryf deur mense en as morele kompas.
    Na die vertellinge in die vier evangelies, is daar kerkbriewe van die Jerusalem en Roomse kerke. Hoe kan die bybel voorgehou word as manier om die aarde en gebeure te dateer? Ek het onder die Rothchild woning in Jerusalem gestaan, drie verdiepings onder hul huis, waar argeologiese opgrawings gedoen is oor ou Jerusalem, met badkamer en toilet wat aan moderne geriewe herinner, maar uit bruin gebakte klei.
    Ek bly stomgeslaan, dat sg gelowiges nog aan Jerusalem-sindroom ly, na besoek aan die Ottoman herboude Jerusalem.
    Geloofsisteme bestaan voor die bekende geloofsisteme deur kerke, moskees en shuls, gevestig is.
    Nêrens word bv uitgebrei oor priester wat Abram bekeer om Abraham te word en hoe Jerusalem gelyk het, voor dit deur bv Joshua ingeval was. Maw daar is feitlike gebreke in beskrywings van gebeure en omstandighede. Tewens, die mens het bestaan toe stede, piramiedes en tempels gebou was in Egipte mbv Israeliete as slawe.

    As daar metode is om ouderdom te bepaal, dan is dit daar om gebruik te word. As daar binnelandse seë was, waar nou woestyne is, was reis en bevolking baie anders. Ek wonder hoe argeoloë oor 3000 jaar van nou sal dink en debateer oor ons huidige beskawing, wat besig is om tot niet te gaan..

  • Ons sou die vliegtuie opgegrawe het as daar was. Prentjies is verwarrend veral as mense soos Von Daniken en Hancock vooropgestelde idees het.

    Ek stem met jou "Jerusalem-sindroom" afleiding saam. Dit is dieselfde as die Golgota en Betlehem-sindroom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top