Wie is ek? deur Louis Awerbuck en Lise Swart

  • 2

Titel: Wie is ek?
Outeurs: Louis Awerbuck en Lise Swart
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781920654603

Koop Wie is ek? by Kalahari.com

Louis Awerbuck en Lise Swart se Wie is ek?-reeks op RSG gee vir gewone mense kennis van algemene sielkundige kwessies, soos angsversteurings. Wie is ek? het pas as boek by Naledi verskyn en Louis en Lise vertel vir Naomi Meyer waarom hulle dink daar's 'n ongemaklike vraag wat elke mens op aarde behoort te antwoord.

Hallo Louis en Lise. Julle boek, soos jul program op RSG, se titel is 'n belangrike vraag wat min mense lus het om te beantwoord. Hoekom is dit belangrik om die vraag te vra?

Louis: Deel van die evolusie van bewussyn is die ontwikkeling van 'n metaperspektief, waar die mens vanuit 'n sogenaamde objektiewe waarnemingsposisie na hom- of haarself kyk. Nog nooit vantevore was 'n "buiteperspektief" van jouself en jou interaksie met andere en jou omgewing so relevant soos vandag nie. Die vinnig veranderende wêreld en hoe dit ons denke, gevoel en gedrag beïnvloed, veroorsaak dat die vraag “Wie is ek?” nie meer 'n saak van interessantheid is nie, maar 'n saak van oorlewing.

Lise Swart (foto: )
Louis Awerbuck (foto: RSG)

Mense is dikwels skaam om 'n sielkundige te spreek, en nou praat julle oor die radio en in die openbaar oor sielkundige kwessies. Waar het die idee vir so 'n geselsprogram vir julle albei begin?

Lise: Dit is eenvoudig so dat mense oor die algemeen oningelig is oor die betekenis en behandeling van sielkundige probleme. Omdat nog minder mense toegang het tot privaat behandeling, is dit vir my verstommend dat dit nie vroeër gedoen is nie. Een uit drie van alle Suid-Afrikaners ly aan 'n geestestoestand! Omdat ek van nature baie vrae oor die meeste onderwerpe het, het ek deur Louis se antwoorde agtergekom dat mense baie oor hulself en die invloed van hul omstandighede kan leer. Ons begin toe ’n radioprogram vir gemeenskapstasies (gratis), en toe ons sien hoe baie mense daarvan hou en daaruit leer, het ons met RSG begin gesels.

In 'n land waar baie mense nie geld het vir brood nie, sal mense eerder 'n dokter betaal wanneer 'n liggaamlike krisis opduik, eerder as om die sielkundige te gaan spreek. Heel prakties: Kan jul program mense help wat raad nodig het, of moet hulle maar spaar en hul eie sielkundiges gaan spreek vir persoonlike probleme?

Louis: Ons probeer ons bes om in elke program praktiese raad te gee wat vir enigiemand verstaanbaar behoort te wees. Dit is natuurlik nie altyd maklik nie, want mense se omstandighede verskil. Verder onderneem ons ook dat enige luisteraar ons direk per e-pos kan kontak, waar ek gratis advies gee so goed as wat ek per e-pos kan. Verwysing gebeur slegs as iemand dit kan bekostig, of daar geen ander alternatief is nie.

Lise: Wat mense ook nie altyd besef nie, is dat báie fisieke toestande as gevolg van geestelike probleme ontstaan. Die kop is deel van die lyf en hulle beïnvloed mekaar. Ons almal verstaan tog dat stres jou baie siek kan maak.

Wat is die mees algemene navrae wat julle ontvang?

Louis: Die meeste mense sukkel met verhoudings wat ongelukkig is. Probleme wat aan angs en depressie verwant is, kom ook baie voor, asook verslawingsprobleme, veral alkohol.

Lise: Ek kom agter dat mense oor die algemeen vreeslik sukkel met alleenheid en eensaamheid. Ons almal ken die gevoel en ons almal vrees dit.

As iemand wat hier lees, nog nie van jul program gehoor het nie, gee asseblief vir hulle agtergrond dat hulle volgende keer kan inskakel (dag van die week, tyd, en hoe die program werk).

Ons is weekliks op RSG: Vrydae 12:05. As hulle die program mis, kan hulle na die potgooie (podcasts) op RSG se webwerf luister (www.rsg.co.za).

Was daar 'n spesifieke program waarop daar baie terugvoer was?

Die episode oor alleenheid en eensaamheid. Ons het geweet dit sal ’n belangrike episode wees, maar geen program het al ooit só ’n reaksie gekry nie.

Skakel: http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

Episode: Wie is ek? 20 Junie 2014

Naledi het die boek Wie is ek? uitgegee. Met eerste oogopslag fokus hierdie boek sterk op angsversteuring. Wat is dit en hoe algemeen kom dit voor?

Louis: Ons het in die boek gefokus op 'n breë agtergrond van menslike gedrag, en die twee geestestoestande wat baie algemeen is. ’n Toestand is iets wat jy onder lede het en ervaar, en het niks te doen met wie of wat jy is nie. As ons van angs praat, verwys ons nie na realistiese vrees nie, maar na fisieke simptome van angstigheid met sielkundige oorsake. Die meeste mense ervaar ’n mate van angs tydens nuwe, uitdagende of gevaarlike situasies. Oor die algemeen is dit bekend as stres. Gesonde angs maak ’n mens gereed om hierdie situasies te hanteer deurdat jou liggaam jou as ’t ware voorberei op dit wat volg. As die liggaam egter hierdie angs oordryf, of meer gereeld laat voorkom as wat nodig is, begin ons van ’n angsversteuring praat wat in die meeste gevalle negatief op ’n mens se lewe inwerk. Dit is belangrik om daarop te let dat ’n angsversteuring ’n medies diagnoseerbare toestand is. Soos met enige ander siekte kan dit ook in verskillende vorme en grade voorkom. As jy ’n loopneus en krapperige keel het, herken jy dit as verkouesimptome en besef normaalweg dat dit nie so ernstig is nie. Wanneer die simptome vererger en jy byvoorbeeld ’n hoë koors ontwikkel, weet jy egter dat dit gevaarlik kan raak en meer indringende mediese aandag benodig.

Angs (naas depressie) is vinnig besig om die siekte van ons tyd te word. Oor die hele wêreld sukkel miljoene mense daagliks met die een of ander simptoom van angstigheid wat hulle lewe negatief beïnvloed. Angs kan jou lewe op verskillende gebiede negatief beïnvloed. Dit kan byvoorbeeld jou produktiwiteit verminder en veroorsaak dat jy nie soos vroeër in jou alledaagse lewe kan funksioneer nie.

Is angsversteuring in 'n land soos Suid-Afrika nie moeilik om te identifiseer nie? Ons almal is uitgelewer aan misdaad, ongeag kultuur of kleur. Hoe weet mens dat wat jy ervaar, nie normaal is in 'n land met 'n buitengewone misdaadsyfer nie? Of wat kwalifiseer nog as algemene angsversteuring?

Louis: Net soos met die “familie” van verkoues, byvoorbeeld ligte verkoue, griep, longontsteking en so meer, kom angsversteurings ook in ’n “familie” voor. Alhoewel daar verskillende lede van die familie is (onder meer obsessief-kompulsiewe versteurings, fobies en paniek), fokus ons in die boek op twee van die algemeenste lede, naamlik algemene angs en posttraumatiese stres. Terwyl algemene angs 'n sielkundige oorsaak het (dus nie noodwendig objektief en logies nie), het posttraumatiese stres ’n spesifieke oorsaak. Vanweë die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika is die voorkoms van posttraumatiese stres natuurlik baie hoog, en heelwat hoër as in die meeste ander lande.

Waar kan lesers julle boek in die hande kry?

Wie is ek? is beskikbaar by alle boekhandelaars. Jy kan ook 083 409 6751 skakel en jou eksemplaar word dadelik gepos.

?Dit is ook te kry by Kalahari.com by ?http://www.kalahari.com/Books/Wie-is-Ek_p_48909686.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • My naam is Ina Opperman. Ek het in 2011 'n effusie van my l4 en 5 gehad. Vir meer as ’n jaar het ek erge pyn gehad. Na n 2e effusie is vasgestel dat die skroewe totaal los was, dit het erge senuskade aangerig. Ek is op Warfarin-medikasie wat dit moeilik maak om sommige pynmedikasie te gebruik. Ek het meer as R60 000 spandeer aan spesialiste, chiropraktisyns ,met laserterapie, nou onlangs, meer as 20 behandelings is gedoen, met geen verligting van pyn nie. Ek moet ’n maand wag dan weer laserterapie kry. Ek werk steeds as ’n verpleegster, agv erge pyn het ek ook osteo-artritis in albei my knieë, vir 4 jaar lank gebruik ek pynmedikasie. My lewe is totaal ingeperk, ver ry is onmoontlik. A. lê ek op die agtersitplek van die motor, die vibrasie maak die pyn ondraaglik, met die gevolg ek ry slegs werk toe en moet dan onmiddellik pynmedikasie neem om net my werk te kan doen.
    Die situasie plaas erge druk op my man, ons het geen sosiale lewe nie. Ek is op breekpunt, ek kan myself nie vorentoe sien met die hel waarin ek verkeer nie. Soms oorweeg ek selfdood. My daaglikse bestaan by die werk bestaan uit ligte werkstake wat ek selfs sukkel om te voltooi. My persoonlike higiëne is ook swak, ek sukkel om te stort. Soms neem eek meer medikasie as wat toelaatbaar is, net om te stort, sodra my rug of knieë koue vang kan ek skaars loop, ek kan nie lank sit of op een plek stilstaan nie dan is my bene loodswaar. Ek is dankbaar vir my werk, almal help en ondersteun my, maar dikwels huil ek waar niemand my kan sien nie. My lewe bestaan daagliks uit huil.
    Ek kan ’n neurostimulator-inplanting doen wat my mediese fonds weier om te betaal en my dr het ’n verslag van 10 bladsye ingestuur vir motivering, hul beveel ’n derde operasie aan wat geensins nodig is nie, want hoe gaan ’n ander rug-operasie die senu-skade kan herstel? Ek voel ek het by ’n doodloopstraat gekom; ek is bang vir die gevolge van die daaglikse pynmedikasie, ek voel dikwels eensaam in my pyn. Al my vriende is ook nie meer in kontak met ons nie, dis net ek en my man en niemand weet wat werklik ons omstandighede is nie. Mense verstaan eenvoudig nie as jy verduidelik dat die pyn net te erg is, my man kry baie swaar, hy sien elke dag hoe swaar ek kry, en dis besig om ons albei te vernietig.

  • Margret Botha

    Goeie dag Lise en Louis

    Ek luister na julle program op RSG en ek wil graag weet hoe om met julle in kontak te tree. Ek wil 'n praatjie vir dames aanbied ivm hoe depressie die rol van die man, die rol van die vrou beïnvloed en wil weet of julle beskikbaar sal wees. Ek is van Bloemfontein. Die tema is man se rol, vrou se rol, broodrol en vetrol ... Sien uit om van julle te hoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top