Wie is die naakte Boer? ’n Literêre verkenning

  • 0

LitNet het in die verlede akademies ondersoek ingestel na die lyflike en 'n seminaar hieroor gereël: Die Lyf-miniseminaar. Maar sedertdien het ook ander materiaal oor hierdie onderwerp verskyn. Die akademiese artikel “ek het ’n liggaam, daarom is ek”: Outobiografiese elemente in Antjie Krog se Verweerskrif behandel die lyflike en die persoonlike aard daarvan in die skryfwerk van Antjie Krog. Ondersoeke na seksualiteit het elders op LitNet verskyn. Die laaste bousteen tot hierdie webseminaar se vraagstuk het uit 'n onverwagse oord gekom: 'n Gesprek met die redakteur van die tydskrif Playboy SA wat vrae laat ontstaan het oor die Afrikaner, wat so graag erotiese materiaal lees, se verhouding met die lyf.

Wie is die naakte Boer?

Izak de Vries, skrywer van Byna liefde, ondersoek die kwessie.

1 Waarin die skrywer dink dat hy stout gaan wees en sê: “Boere en seks? Dis ’n oksimoron.”

Maar dit is natuurlik nie waar nie.

2 Waarin die skrywer wil vertel dat sy ouma De Vries, wat twaalf kinders vir haar man gebaar het, baie trots was daarop dat haar man haar kwansuis nooit kaal gesien het nie.

Praat van die kat in die donker knyp.

3 Waarin die skrywer vertel dat hy preuts opgefoeter is in die Calvinisme en ook wil beweer dat die Broederbond seks banaal gemaak het.

In die vroeë negentigs was ek ’n diaken in een van Pietermaritzburg se NG gemeentes. Een van die dominees het dit goedgedink om dalk weer die sensuur te wou uitdeel aan sy kudde. Hy het die diakens opdrag gegee om uit te vind hoe die gemeentelede daaroor sou voel.

In my wyk was talle mense wat al stewig grys was. Die meningspeiling was openbarend. Mense van onder die 70 het skouers opgetrek en gesê sensuur is seker maar goed. Mense óór die 70, manlik en vroulik, het almal heftig negatief gereageer.

Iemand wat in 1990 70 jaar oud was, moes in 1920 gebore gewees het. Hulle was dus in 1941 mondig.

Die laat dertigs en die vroeë veertigs in Suid-Afrika het saamgeval met die kerk en die politiek wat amptelik en op groot skaal hande gevat het. Apartheid, wit heerskappy en goddelike suiwerheid het skielik oorheers. Die breinspoeling deur die staat, die Party, die skool en die kerk was allesoorheersend. Selfs kerklike sensuur is vanaf hierdie punt in die Afrikanerpsige skaapagtig deur die massas aanvaar.

My ouma De Vries het dus óf gejok, óf sy was nie ’n normale Boeremeisie nie. Die Afrikaners hét eens op ’n tyd ’n gesonde sekslewe voor én buite die huwelik gelei; die kerk het hulle egter bitter seergemaak met die geweld van tugstappe deur dominees en ouderlinge.

4 Waarin die skrywer die leser wil herinner aan insigte uit die penne van twee bekende outeurs.

Ek gryp na die letterkunde as ek Afrikaanssprekendes se sekslewe wil probeer verduidelik, want dis al wat ek het, behalwe nou my eie kennis.

Die skrywer Etienne Britz (2008) het by geleentheid hier op LitNet ’n interessante opmerking gemaak:

Daar was die sensuele plaas- of kleindorpslewe van die Afrikaner. Kaalvoet loop. Dun somerklere. Boomklim. Bok-bok speel. Broeke af en duik in die modderdam. Afgesonderde stoorkamers en solders. Emosionele binding tussen ouer en kind met behulp van hale oor die sitvlak, 'n erotiese sone. Die Afrikaner het destyds grootgeword binne 'n idille met die onskuld van kaal meisievel. 

Dan was daar die Britse skoolstelsel in Suid-Afrika. Dit het gesorg vir die skooluniform. Geheime koshuis- en slaapsaalrituele. Skole-atletiek en skoolsport. Die rottang. Die toeknyp van boude, die rek van bene, die gesweet, die gefluister, die gegil van jong lywe. Alles stimulante vir fetisjismes wat oor die hele eertydse Britse Empire versprei het.

Ten slotte was daar die Victoriaans-Calvinistiese verburgerliking van ons destydse boeremense, verpersoonlik deur die figuur van die predikant. Die sedes verkondig van die preekstoel het in die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu nog steeds die toon aangegee onder ons boeremense, veral op die platteland. 

Niks is so stimulerend vir jeugdige erotiese fantasieë as stilsit in die kerk nie. Of binne bly en stilbly terwyl Pa en Ma op Sondagmiddag rus. Die libido, maar ook die hart, is 'n dromer en 'n rebel. 'n Predikantsdogter, die dorp se prinses van die voorbeeldigheid, was die ideale teelaarde vir die ontluiking van nuwe seksuele personae …

Dink ook ’n bietjie aan Koos Prinsloo se behandeling van “rus” na ’n maaltyd. In Jonkmanskas se openingsverhaal, “By die skryf van aantekeninge oor ’n reis”, staan daar (Prinsloo 1982:10):

Ná die middagmaal het almal behalwe sy suster gaan skuins lê. Maar die jongman was gou verveeld en het van sy bed af opgestaan. In die voorhuis, met sy suster voor die klavier, het hy die familiekroniek opgeneem. Hy het na die begin van sy grootvader se Mij Ervaringe geblaai.

In die volgende bundel, Die hemel help ons,is ’n spieëlverhaal. Die jongman kom ook tuis en word weer meegevoer met die oupa se vertelling. Hierdie verhaal heet “And our fathers that begat us”. Die woord begat is ’n belangrike een, want dit verwys na seks tussen ’n man en ’n vrou. Die jongman en die res van die gesin gaan weer skuinslê ná ete, dié keer ’n Kersmaal (Prinsloo 1987:16):

Die man gaan lê op die bed in die ligroos kamer. Terwyl hy masturbeer, kyk hy na die afdrukke in die vergulde rame: Lost Orchid en The Weeping Rose. Voordat hy ’n klimaks bereik, draai hy op sy sy en slaap.

Dié daad van selfbevrediging, of dan onanisme soos die outydse dominees dit sou beskryf het, is ’n steriele daad en staan teenoor die Kersdag (’n geboorte) en die vadere wat kinders verwek. Let ook daarop dat nie een van die twee Tretchikoff-skilderye daardie tipiese soel vroue bevat nie – albei is skilderye wat handel oor blomme wat besig om te verwelk. Die seun se kinderlose lewe word hier reeds voorspel.

Die derde verhaal wat hierop inspeel, is “Die affair” in Prinsloo se derde bundel, Slagplaas. In hierdie verhaal besoek die man nie die huis nie. Hy praat wel met sy ouers oor die foon en hy beleef albei deur na hulle paspoorte te kyk.  Hy beland egter – in sy drome – in sy ouers se bed (’n insestueuse oomblik, dus). Die man is nou ook uit die kas en is vasgevang in ’n sekslose gay-verhouding. Die verteller se pa begin dan ’n verhouding met ’n ander vrou. Die karakter merk dan op:

En my toentertydse terapeut het gesê my pa het die affair namens my en die kleinkinders wat ek nie gaan verwek nie en dat my ma my pa deeglik aan die balle beet het (Prinsloo 1992:12–13).

5 Waarin die skrywer verduidelik waarom hy na die letterkunde gryp ...

Een van die organiseerders van hierdie seksseminaar het laat weet: “Ek wil jou graag uitnooi as bydraer (my kapstok waaraan ek jou bydrae hang, is dat jy Byna liefde geskryf het).”

Ek is dus genooi om deel te neem op grond van my skryfwerk en, helaas, nie op grond van enige praktiese sekstoets wat ek moes slaag nie.

In Byna liefde het ek hard probeer om aan te sluit by my voorgangers wat Afrikaanssprekendes as ’n groep uitbeeld waarin verskeie vorme van seksualiteit geniet word. As kortverhaalskrywer kon ek nie anders nie as om ook Koos Prinsloo deeglike te lees en in gedagte te hou.

Die Afrikaanse letterkunde kan trots wees dat ons die mens as volle seksuele en sensuele wese teken.

Die aanhalings uit Prinsloo se werk betrek gay-seks, die affair en ook masturbasie. Die vrou wat haar man aan die knaters beet het – figuurlik gesproke – is ewe belangrik. Laasgenoemde staan teenoor die gestrenge patriargie wat steeds in die land te bespeur is (sien in hierdie verband byvoorbeeld Van der Westhuizen 2011 hier op LitNet).

In Afrikaans het ons romanses, hygromans, lesbiese romans en Karel Schoeman se steriele romans. Daar is talle vorme van seks in ons letterkunde waarin die Afrikaner, die Boerin of die Afrikaanse haarself kan eien.

Ek het gewoon maar meegedoen.

In Byna liefde het ek hard probeer om ’n veelheid van seksuele voorkeure te omskryf. Daar is die onskuldige, eerste liefde (“Die engelman”), maar dan ook die werklikheid van mense wat ná ’n paar jaar saam ander betrek by hulle verhoudings (ons ontmoet dieselfde paartjie weer in “Diep blou”).

Ek het geskryf oor gay-seks (“Once threw a party”), geslagsruiling (“Transgressie”), impotensie (“Los kruit”), asook  verkragting en ongenaakbaarheid (“Om ’n sekretarisvoël lief te hê” en “Daai een met die tieties”). Daar is ook verhale oor die viering van ’n sekslose lewe (“Die groot skoenlapper” en “Die selibaatdokter”).

Waar kom ek aan hierdie verskillende vorme van seks?

“Diep blou” is geskryf na aanleiding van ‘n gesprek met ’n vrou wat ná ’n jaar van getroud wees haarself as “tegnies ’n maagd” beskryf het. Haar man, ’n beeldskone Moslem-man, se oog was die hele tyd op soek na mooi mans. Sy eie, verruklike vrou kon ongelukkig nie met die jong manne meeding om sy seksuele attensies nie. Ek en my vrou is ook baie goed bevriend met ’n Afrikaanse man wat onlangs uit ’n huwelik geklim het nadat hy én sy vrou besluit het dat dit beter is dat hy sy seks kry by mans – soos hy dit al die jare begeer het.

Ek het dus mense se stories probeer oorvertel – die mooi en die hartseer daarin.

Die seksuele hartseer lê dikwels opgesluit in dit waaroor nié gepraat word nie, daardie ding wat geheim moet bly. Ek wou die geheime verklap, hulle uitstal en mense laat glo hulle is nie alleen nie.

Wat mense wel aan die praat gehad het met Byna liefde, was die openheid waarmee sommige paartjies ander mense aanvaar het in hulle huwelik (“Haar verlange”, “Diepblou” en “Bernard moet leer dans”).

Waar kom dit vandaan? Hier op LitNet het Christina Landman (2010) geskryf:

Die afgelope tien jaar het ek dikwels (wit) mense in berading begelei wat in meer-partner-verhoudings is. Die man kan nie wettig met meer as een vrou trou nie, omdat hy moet kan bewys dat dit deel is van sy tradisie, en ’n wit mens kan dit natuurlik nie bewys nie. Daarom kom die man en sy twee partners ooreen dat hulle in ’n verhouding ingaan waar die man ’n intieme verhouding met twee vroue het wat van mekaar weet. Sommige van hierdie verhoudings werk, en sommige werk nie. Ek kan opsommenderwys sê dat dié wat werk, gebaseer is op die gelykheid van al die partners. Ek moet dadelik iets anders bysê: dikwels werk hierdie verhoudings nie. Maar dis nie omdat die man nie die vroue gelyk behandel nie. Dis omdat die vroue in so ’n mate hulle subkultuur verinnerlik het dat hulle meeding om ’n man se aandag. Die verhoudings wat nie werk nie, is dié waarin die vroue die man dwing om tussen hulle te kies en hulle ongelyk te behandel.

Ek is goed bevriend met ’n lid van een van hierdie troikas. Landman het baie vir hulle beteken. Hulle drieledige “huwelik” hou reeds jare – veel langer as talle van my gekerkte vriende s’n. Hulle “huwelik” is een van trou aan mekaar. Die vroue doen soms goed saam, maar hulle deel hulle man. Die enigste rede waarom die woord huwelik hier bo nog tussen aanhalingstekens staan, is dat die staat hulle drie nie die reg wil gee om dit sonder aanhalingstekens te skryf nie. Dié drie se “huwelik” is dan ook veel anders as die “loslappies” waarvan Rapport onlangs berig het. Marlene Malan (2012) het berig dat daar meer as 115 000 Suid-Afrikaners al geregistreer het op ’n webwerf wat buite-egtelike verhoudinge reël. Jip, die Boere kan kafoefel.

Is dit verkeerd om te kafoefel? Vir sommige werk dit. Die gevaar van Vigs moet natuurlik in gedagte gehou word. Ek is dus baie bly om te sien dat die hygverhale hier op LitNet dikwels darem kondome laat gebeur voor enige penetrasie plaasvind. Dit keur ek goed (sien byvoorbeeld “Dankie, Minette” deur Jakob Regop (2012)).

Ja, ook as dit by kafoefel kom, het ons in Afrikaans ’n letterkunde wat kan meeding met enige ander in die res van die wêreld. Almal is nou gaande oor die Fifty shades of grey (wat ek nog nie gelees het nie), maar wie ken Annelise se tekste? Maanvrug, Weerloos en Slavin is heerlike mommy porn (die term wat kwansuis deur EL James tot kliteratuur verhef is).

6 Waarin die skrywer die leser herinner dat die Boere nie uniek is nie.

Penny Siopis, ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat goed bekend is met die teorieë van Freud, het ’n reeks kunswerke rondom die karakter Pinky Pinky geskep:

In the Pinky Pinky series of hand-printed lithographs Penny Siopis explores the psychological and mythical terrain of South African teenage girls. Pinky Pinky is a ''mythical" figure that makes himself known to pre-pubescent and pubescent girls in the largely Black townships and schools of South Africa. He tends to be an urban creature but has put in an appearance in rural areas. (Anon 2012)

In Afrikaans het ons Antjie Somers, maar Pinky Pinky is veel meer: hy is ’n wese met ’n blatante seksualiteit. Hoekom? Want die “Boere” en die “swartes” is nie so apart soos sommige graag wou glo nie. ’n Enorme deel van ons swart bevolkings voldoen aan al daardie beskrywings wat Etienne Britz (2008) geskep het van die Afrikaner; die ure van sit in die kerk is ’n goeie voorbeeld.

Maar is dié onderdrukte seksuele histerie uniek aan die suidpunt van Afrika? O, nee. Ons dink graag aan Nederlanders as ons bevryde broeders en susters, maar dít is nie altyd die geval nie. Die refreingedeelte uit Robert Long se liedjie “Het leven was lijden” gaan so:

Want 't leven was lijden, als je danste een heiden
Als je lachte te luchtig, als je kustte ontuchtig
Als je niet wilde werken of je ging niet ter kerke
Als je lui in de zon lag, als je fietste op zondag
Kortom alles was verkeerd, want dat had je geleerd.

’n Paar versreëls later sing hy:

Een keer sliep je met mij maar je was niet alleen
Want de satan of wie ook hing steeds om je heen
Als die er niet was was je vader d'r wel
Met een spreuk uit de bijbel van zonde en hel.

Klink dit bekend, Boere en Boerinne? Dit klink bepaald na mý opvoeding. Vir die volledige liriek, die klanksnit en ’n Engelse vertaling, kliek hier.

7 Waarin die skrywer iets uit sy eie huwelik verklap.

Die predikantsdogter van wie Etienne Britz ons hier bo vertel het, word uiteindelik groot en vergoed dan vir al die voorbeeldige jare op die kerkbank. Ek is met ’n predikantsdogter getroud. Ek weet.

In Byna liefde is daar ’n hele paar verwysings na paartjies wat reeds lank gelukkig saam is. Ek en my geliefde is nou al byna agtien jaar lank getroud.

Ek sou egter die leser maan om nie té gou outobiografiese elemente in Byna liefde te gaan soek nie. Navorsing het ek wel gedoen, maar uiteindelik skryf ek fiksie. ’n Diepgaande biografiese lees van Byna liefde, soos Marissa Botha (2012) doen met Antjie Krog se Verweerskrif, is dus gevaarlik.

Van belang vir hierdie seminaar sou egter die volgende wees:

a) My vrou is biseksueel en baie lief vir ander vroue.
b) Ons is al agtien jaar getroud.
c) Ons sekslewe is goed, baie dankie.
d) Ons is waarskynlik een van die verveligste paartjies in Kaapstad.

Vir diegene wat ’n geredigeerde, outobiografiese vertelling van my vrou se reis wil lees, beveel ek aan “Ons sal rank” in Elise van Wyk (2009) se Miriam dans, vroue wat vroue liefhet. Laat haar self oor haar seksualiteit praat.

8 Waarin die skrywer (uiteindelik) ’n preek afsteek oor goeie seks.

Die één aspek van seks wat natuurlik te alle tye taboe moet wees, is die molestering van kinders. Kinders is van jongs af seksuele wesens; maar dit is nié vir volwassenes om hulle behoeftes op kinders los te laat nie. ’n Mens sou kon noem dat sommige kinders veel jonger as sestien reeds seksueel ryp is (dink aan Nabokov se Lolita), maar dan is dit nie vir volwassenes om hierdie aspek te misbruik nie. In Prinsloo se “Die affair”, waaruit hier bo aangehaal word, is daar ook die kortstondige droom van ’n ma-seun-verhouding. Kinders het soms erotiese gevoelens jeens hulle ouers, maar daar mag onder geen omstandighede toegelaat te word dat volwassenes kinders benadeel nie. Dit is werklik die enigste voorskrif waaraan ek sterk vashou. Vir verdere toeligting, lees gerus Carel Van Wyk (2011) se Jungiaanse verslag hier op LitNet oor mishandeling.

Wat egter tussen volwassenes gebeur, mag maar, solank albei (of meer) partye gelyke vennote is en toestem tot dit wat plaasvind.

Ek is nie ’n seksuoloog nie, maar die afleidings wat ek uit my eie huwelik, en ander s’n, maak, is dat ’n mens jou genoot baie ruimte moet gee en mekaar moet respekteer. Diegene wat jaloers is en mekaar geen ruimte gun nie, sukkel dikwels.

’n Goeie vriend het eenmaal oor sy eie huwelik gesê: “As ’n gelukkig huwelik só moeilik is, hoe moet ’n ongelukkige huwelik nie voel nie?”

Die realiteit is dat min mense volle bevrediging kry by een genoot vir ’n hele lewe lank. Hóé daardie bevrediging, of gebrek daaraan, moet uitspeel, is iets wat ek nie kan voorskryf nie.

Met Byna liefde het ek egter seksualiteit probeer beskou as iets wat ook buite die tradisionele, patriargale, monogame, heteroseksuele huwelik kan bestaan én mooi kan wees.

My een karakter, Debbie, maak heel teen die einde van die boek beswaar teen dit wat ek met haar gedoen het. Sy sê: “As karakter voel ek my vasgevang in hierdie staat van byna liefde, want ek weet daar is ’n storie agter” (De Vries 2008:280).

Debbie is reg. Ek kan nou eenmaal net skryf. My karakters is egter veel interessanter as ek.

9 Waarin die skrywer besluit om tóg iets outobiografies te vertel.

Mense wat my baie, baie goed ken, sal weet daardie toneeltjie wat Debbie beskryf oor John Keats se “Ode on a Grecian Urn” (De Vries 2008:280), baie na aan die been sny. Ja, daar was ’n Debbie in my lewe; en ja ... ek het een aand daardie gedig aan haar voorgelees. En, ja, my vrou is een van die min mense wat weet hoe ek regtig oor Debbie gevoel het.

Ek en my geliefde deel ons verhale met mekaar.

Seks is ’n vreemde ding. Dit kan jou opneuk (verskoon die woordspeling as julle Nederlands magtig is) en dit kan jou oneindig baie plesier verskaf.

My geliefde het die ander dag gesê sy wil die woord mannetjieswind borg in die WAT. Toe wil sy by my weet watter een ek sou wou borg? Masturbasie was my antwoord.

Wat my weer laat gryp na die meester, Koos Prinsloo (1987:5): “Wat is die verskil tussen seks en masturbasie?” wou sy een karakter weet. Die antwoord, aldus die karakter, is: “You meet new people.”

10 Waarin die skrywer dink.

Dalk, dink die skrywer, is dit nie so ‘n slegte idee om nou en dan my inkennigheid te oorwin, die papier te verlaat en nuwe mense te ontmoet nie.

11 Waarin die skrywer die leser herinner dat die struktuur van hierdie bydrae trek op die pikareske roman, waarvan daar in Afrikaans baie is. Die pikaro is dikwels lief vir seks.

Die pikaro is egter ook ’n vertrouenswendelaar – die teenoorgestelde, dus, van wat die skrywer in sy preek oor die huwelik bepleit het.

’n Geskrif oor seks kan nie anders as om byna by die waarheid te kom nie. Daar is altyd ’n papier tussen die leser en die werklikheid. En, ja ons het wel ’n literêre ontsnaproete in Zirk van den Berg se Ekstra dun vir meer gevoel, maar Kleinboer se hoofkarakter (in Kontrei) sal die leser herinner dat daar niks so lekker is soos seks sonder iets tussen-in nie.

Leef voluit en geniet mekaar.

 


Bronne

Anon. 2012. Penny Siopis. The Artists’ Press. Afgelaai op 11 November 2012. http://www.artprintsa.com/penny-siopis.html

Botha, Marisa. 2012. “ek het ’n liggaam, daarom is ek": Outobiografiese elemente in Antjie Krog se Verweerskrif”. LitNet Akademies, 9(2).

Britz, Etienne. 2008. Verlange na 'n lywige lyf. LitNet (2008-04-15).

De Vries, Elma. 2009. Ons sal rank. In Miriam dans, vroue wat vroue liefhet. Kaapstad: Aqua.

De Vries, Izak. 2008. Byna liefde. Kaapstad: Tafelberg.

Kleinboer. 2003. Kontrei. Dainfern: Praag.

Landman, Christina. 2010. “Christene en poligamie”. LitNet, 2010-01-18. 

Long, Robert. 1989. Het leven was lijden. Van die CD: Liedjies uit de Krullentijd. EMI.

Malan, Marlene. 2012. Stellenbosch het meeste “loslappies”. Rapport, 2012-09-22.

Prinsloo, Koos. 1982. Jonkmanskas. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1987. Die hemel help ons. Emmarentia: Taurus.

—. 1992. Slagplaas. Kaapstad: Human & Rousseau.

Regop, Jakob. 2012. Dankie, Minette!. LitNet, 2012-09-11.

Van den Berg, Zirk. 1989. Ekstra dun vir meer gevoel. Kaapstad: Tafelberg.

Van der Westhuizen,  Christi. 2011. Konformering tot sekere manlikhede is dodelik. LitNet, 2011-08-25.

Van Wyk, Carel. 2011. ’n Jungiaanse perspektief op die reekstekeninge van ’n seksueel mishandelde kind. LitNet Akademies, 8(3).

Van Wyk, Elise (samesteller). 2009. Miriam dans, vroue wat vroue liefhet. Kaapstad: Aqua.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top