Wie hou nie van klein lughawetjies nie?

  • 1

Foto van Frederik de Jager: Naomi Bruwer

Frederik de Jager op Facebook:

Wie hou nie van klein lughawetjies nie? Ek was gek na die ou lughawens van Durban en Bloemfontein, en die pragtige grasdak-lughawe by Nelspruit. Natuurlik moet alles gaan moderniseer en ge-mall-ifiseer word. Durban-lughawe is nou 'n groot graanskuur met winkels. Bloemfontein, die Noddyland-geboutjie in perfekte Sestigstyl, waar hulle jou by die hek in 'n rigting beduie het en gesê het: "Jy moet na dáái vliegtuig loop." Nou 'n oneienbare generiese steriliteit. Ons het hier op Lesbos ook so 'n ou lughawetjie wat lyk soos 'n buitepos in 'n Sowjet-republiek. Lyk of dit stuk-stuk bygebou is van 'n kloeistal tot 'n lughawe. En ek is versot op die plek. Die vreugde wat ek al hier ervaar het as ek land, en die verdriet as ek vertrek. En in 'n greep van poëtiese flair waarvan die Grieke meesters is, is die lughawe vernoem na een van Griekeland se gootste digters, die Nobelpryswenner Odysseas Elytis. Voor die Duitsers dit gekoop het kon jy na die voerband loop en jou mense wat jy kom afhaal help om hulle tasse te kry. Die drie meter-voerband, bygesê. Bygelieg ook, maar goed dis 'n kortetjie. Dis of alles speel-speel is. As die luidsprekers dieselfde boodskap uitsaai wat jy op groot lughawens hoor, dat jy nie jou tas sonder toesig moet laat nie, wil ek lag. As daar een plek is waar jy jou tas teen die muur kan los om gou te gaan koffie koop of, as jy wild genoeg voel, gou oorkant die straat in die see te gaan swem, is dit hier. En die vertreksaal lyk soos 'n klein skoolsaaltjie wat dubbeldiens doen as gemeenskapsentrum. Daar voor in die hoek gaan jy uit. So jy kan verstaan hoekom ek lag kry toe hierdie kennisgewing in my e-pos sit. Asof hek nommer een ooit gebruik word. Asof dit hoegenaamd moontlik is om nie die hek te vind nie. Ewenwel, 'n kilometer van die bestaande gebou is die Duitse eienaars nou 'n betonkonstruksie aan die bou waar alles soveel effektiewer gaan werk, soveel meer vliegtuie ontvang kan word, en alles soveel meer sielloos gaan wees. Ek dink julle moes my in die twintigste eeu gelos het.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Klein lughawetjies, sê jy? Dis die grotes waar ek probleme het. Soos toe hulle my in LA onder in die kelder toesluit omdat ek konsuls nie die regte visum het nie. Saam met Colombiaanse dwelmsmokkelaars en ander ongewenstes. Of Heathrow waar alles stilstaan omdat die sokker finaal alle lughawens in Europa 'n uur laat het en ek in paniek glo ek het my vlug verpas. Of Wellington in Nieu Seeland waar die vliegtuie soos krappe so skuins in die wind in land dat jy die aanloopbaan by die vensters uit kan sien. Om nie eens van Hong Kong se ou lughawe te praat waar jy in mense se slaapkamervensters kon inkyk terwyl hulle hul pajamas aantrek soos die Boeing vlak langsaan die aanloopbaan nader nie.
    Dan liewer Nelspruit met sy skrikwekkende aanloop skraps oor 'n diep kloof se rant. Of Umtata, waar almal "multitask". Die man wat ons tasse dra gaan sit voor by die loods. Die loods kondig aan dat Xolise ons loods gaan wees. Agter my skerts ouens hulle wil liewer afklim. Xolise lag die lekkerste. Dit blyk dat hy in Israel leer vlieg het en ons tasse gedra het om met ons gek te keer. Die landing by Virginia se vliegveld - te klein om selfs 'n klein lughawetjie genoem te word - was woes, in die middel van 'n wolkbreuk en ons sewe-sitplekvliegtuigie wat soos 'n veertjie rondgegooi is. Ons was maar al te bly oor daardie Israel-opleiding. Handeklap-bly. Maar natgesweet. Die vlug het al drie keer by Durban se ou lughawe in die veld te lande gekom, maar daar was geen ander vlugte beskikbaar nie. (Ek het later met my motor gery, so bang was ek, en dan was dit bokke en fietse en busse trotseer op Transkei se paaie. )
    Om te vlieg is nie natuurlik nie, maar lughawens is duiwels. Ek dink dit is opsetlik so beplan om te verseker dat ons met verligting op die vliegtuie sal klim.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top