Wie gaan in 2019 regeer? deur Jan-Jan Joubert: ’n lesersindruk

  • 0

Wie gaan in 2019 regeer?
Jan-Jan Joubert

Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868429080

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Met ’n titel soos Wie gaan in 2019 regeer? ontstaan daar ’n aantal vrae vir wie ook al na so ’n boek mag kyk. Vir my was die vraag: Wil ek ’n boek lees wat aan een jaartal gekoppel is? Moet mens nie eerder klassieke boeke lees wat minder tydsgebonde is nie? Maar die titel skep ook verwagtinge by sommige mense dat die skrywer besig is met ’n kristalbal-aksie. Dat mens dié boek kan optel en daaruit die toekoms kan ken, asof dit ’n Nostradamus- of Siener van Rensburg-tipe boek is. Moet dus nie verbaas wees as mense wat jou die boek sien lees vir jou vra: "Nou wat sê Jan-Jan Joubert − wie gaan die verkiesing wen?" soos wat daar inderdaad met my gemaak is nie. Dit is egter allermins die doel van hierdie publikasie om te voorspel wie presies Suid-Afrika gaan regeer. Reeds in die inleiding vergelyk Joubert sy werk as politieke verslaggewer met ’n onvoorspelbare belegging op die aandelemark, waar selfs ’n weldeurdagte besluit moontlik op ’n mislukking kan uitloop. Maar sy inleiding getuig ook van ’n man met ’n intense liefde vir en belangstelling in sy land, en in die politieke ontwikkeling van die land. Dit is trouens so keurig geskryf dat ’n mens eenvoudig nie anders kan as om verder te wil lees nie.

Joubert begin sy relaas oor Suid-Afrika se komende 2019 algemene verkiesing met ’n terugblik op die gebeure van 2016, toe die regerende African National Congress (ANC) verskeie groot metrogebiede tydens die plaaslike verkiesings verloor het. Die arrogansie van Suid-Afrika se twee grootste partye, die ANC en die Demokratiese Alliansie (DA), en hoe dié twee partye vir hierdie arrogansie moes boet in die verlede, vorm regdeur die hele boek telkens ’n belangrike motief. Wie sal byvoorbeeld vergeet hoe die ANC se leiers gespog het dat hulle party sal regeer tot met die wederkoms van Jesus, en hoe die vakbondleier Zwelinzima Vavi toe in reaksie in 2016 getwiet het dat Jesus in die strate van die Nelson Mandelabaai-metro opgemerk is. Die kort van die lank is dat die uitslae van die 2016 plaaslike verkiesing ’n ondenkbare presedent geskep het wat sedertdien begin momentum kry het, en dit is die gedagte aan die moontlikheid dat die ANC dalk vir die eerste keer sedert 1994 in die verkiesing van 2019 substansiële mag kan verloor.

Maar dit gaan alles afhang van hoe die belangrikste politieke partye hulleself posisioneer in die aanloop tot die verkiesing. Die vroegtydige einde van Jacob Zuma se tweede termyn en die verkiesing van Cyril Ramaphosa tot president van die ANC plaas die ANC moontlik op ’n nuwe trajek (ten tye van die publikasie van die boek was Zuma egter nog staatspresident). So gewigtig is die rol van Ramaphosa in Suid-Afrika se politiek dat Joubert ’n hele hoofstuk aan sy invloed wy. Maar Suid-Afrikaanse politiek begin en eindig nie by Cyril Ramaphosa nie. Die uitslag van die 2019 algemene verkiesing gaan deur verskeie faktore beïnvloed word, veral die rol van koalisiepolitiek. Hierdie gevolgtrekking word weer eens sterk gebaseer op dit wat in die 2016 plaaslike verkiesing afgespeel het, toe twee van die skynbaar mees onwaarskynlike politieke speelmaats, die DA en die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), skielik met mekaar begin saamwerk het.

Die 2019-verkiesing gaan waarskynlik deur die ANC, EFF en die DA oorheers word. Daarom fokus die meeste van die materiaal in hierdie boek op dié drie partye. Behalwe dat Joubert deurgaans skryf met die oog op die 2019-verkiesing, is die boek ook ’n uitstekende bron van eietydse Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis. Trouens, in sy inleiding verwys Joubert na die joernalis Philip Graham, ’n voormalige hoofbestuurder van die Washington Post, wat na die politieke verslaggewing verwys het as “a first rough draft of history”. Nietemin, ten spyte van die sterk fokus op die drie grootste partye word daar darem ook ’n hele hoofstuk wat gewy aan “Kleiner partye se opsies vir 2019”. Volgens Joubert is dit veral die Inkatha-Vryheidsparty en tot ’n mindere mate die United Democratic Movement wie se steun in die 2019 algemene verkiesing ’n opwaartse kurwe kan toon.

Dan is daar die onderwerp van grondhervorming, een van die taaiste tameletjies waarmee Suid-Afrika vandag gekonfronteer word. Trouens, ’n mens kan redeneer dat die hele beweegrede vir die ontstaan van die ANC, en die ontwaking van Suid-Afrikaanse Afrika-nasionalisme, deurweef is met die saak van grondbesit, aangesien die ANC vanaf sy ontstaan in 1912 die kwessie van grondeienaarskap konstant aangeroer het. In terme van grondhervorming bestaan daar nie net reuseverskille tussen die verskillende partye nie, maar daar is ook geweldige verdelings binne die heersende ANC oor hoe presies grondhervorming hanteer moet word. Volgens Joubert kan die grondvraagstuk ’n bepalende faktor in die 2019-verkiesing word, en sal dit in die hele land se belang wees indien die verskille oor hoe grondhervorming in die praktyk moet uitspeel, voor die verkiesing deur koalisievennote uitgestryk word.

Behalwe die onderwerp van grond is daar ook heelwat ander faktore wat ’n noemenswaardige invloed op die 2019-verkiesing kan uitoefen. Die ANC het byvoorbeeld na 25 jaar van regering die beeld van ’n korrupte politieke party. Indien hierdie beeld nie verander nie, kan dit die ANC baie skaad. Joubert wy ook ’n hoofstuk aan “Arbeid en swart ekonomiese bemagtiging”. Alhoewel swart ekonomiese bemagtiging (BEE) sedert die ontstaan daarvan herposisioneer is as “Broad based Black Economic Empowerment” (BBBEE), voel baie Suid-Afrikaners steeds uitgesluit daarvan, en word swart ekonomiese bemagtiging dikwels met agterdog bejeën as ’n proses wat slegs die elite en mense met konneksies verryk. Die stand van die ekonomie en selfs die weerpatrone op stemdag, geniet ook aandag in die boek. Volgens Joubert kan ’n reënerige dag die stempatrone van die armste kiesers, wat nie toegang tot motors het nie en dikwels verder moet reis, negatief beïnvloed. Dit kan ’n effek hê op die uitslae van die partye wat daardie kiesers verteenwoordig.

Met die ANC wat tydens die 2016 plaaslike verkiesing slegs 53% van die steun geniet het, kom Joubert uiteindelik tot die versigtige gevolgtrekking dat Suid-Afrika na afloop van die 2019 algemene verkiesing heel moontlik ’n koalisieregering in die gesig kan staar. Dit is volgens hom die “beste vroeë aanduiding”, hoewel hy toegee dat die prentjie nog heelwat kan verander, veral nadat die kiesersregistrasiesyfer bekend word. Elkeen van die drie grootste partye, die ANC, DA en die EFF, se eie interne politiek is stormagtig. Die ANC, wat enorme steun in KwaZulu-Natal geniet, het byvoorbeeld nie meer een persoon uit dié provinsie in die ANC se top-6 nie. Daar is selfs sprake in die media dat ’n wegbreekparty ’n moontlikheid kan wees, die sogenaamde African Transformation Party, wie se ondersteuning hoofsaaklik uit KwaZulu-Natal en die Vrystaat is.1

Jan-Jan Joubert se Wie gaan in 2019 regeer? is ’n boek wat lof verdien. Hoewel dit nie ’n klinkklare antwoord bied op hoe die 2019 algemene verkiesing gaan uitspeel nie, bied dit soveel meer as ’n kristalbalvoorspelling. Dit kan inderdaad as ’n soort eerste konsepdokument van die toekomstige geskiedenisboeke gesien word. Joubert sit nietemin wel sy kop versigtig op ’n blok deur ’n koalisieregering vir Suid-Afrika na afloop van die 2019 algemene verkiesing te voorspel, maar hoe hierdie koalisie gaan lyk, is nie moontlik om nou al te weet nie. Die moontlikheid is selfs glad nie uitgesluit nie dat ’n regering van nasionale eenheid, soortgelyk aan die een wat na 1994 onder Nelson Mandela regeer het, weer na vore kan tree. Daar is selfs ’n moontlikheid dat ’n regering van nasionale eenheid deel kan vorm van die ANC se 2019 verkiesingsveldtog. Indien dit die geval gaan wees, sal dit nogal ’n dramatiese sprong wees vir ’n party wie se leiers enkele jare gelede nog gespog het dat hulle party tot die wederkoms van Jesus sal regeer.

Eindnota

1 Marietjie Gericke, “Nuwe party kan ANC kos – veral in Vrystaat” in Volksblad, 27 Junie 2018, bl 2.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top