
Foto: verskaf (fotograaf: Jesse Kramer)
Dit was ’n rapsie meer as sewe jaar gelede dat ek ’n resensie gedoen het vir LitNet oor die Afrikaanse vertaling van Edward Albee se Who’s afraid of Virginia Woolf? waarin Marius Weyers en Sandra Prinsloo se verbysterende Afrikaanse dialoog die gehoor telkemale na hul asems laat snak het.
Dit was by die voormalige Fugard-teater in Kaapstad op die planke. Ek het toe geskryf dat Saartjie Botha se vertaling puik was en die trefkrag van die woorde in Afrikaans amper erger as in Engels.
Christiaan Olwagen het dié regie behartig.
Nou is die stuk terug vir die 60ste herdenking van sy oorspronklike speelvak – hierdie keer in sy oorspronklike Engels, met Alan Committie en Robyn Scott, Sanda Shandu en Berenice Barbier in die rolverdeling en Sylvaine Strike as regisseur.
Die verskil in regie- en stelaanslag tussen die twee produksies is groot. Dis lekker, want dit maak die stuk weer vars vir die gehoor, en veral vir my, wat dit jare terug ook in Engels gesien het. Waar en met wie het lankal vervaag, maar die impak wat dit gelaat het, nooit te ver van oproep nie.
Ek trek my woorde terug oor die trefkrag van die Afrikaans – dis snydend en uitmergelend in enige taal.
Die storie wat oor twee en ‘n halfuur met twee kort pouses ontvou: ’n Senior geskiedenisdosent aan ’n New England-kollege, George (Alan Committee), en sy vrou Martha (Robyn Scott), wat al baie jare getroud is en tussen wie die ses jaar ouderdomsverskil duidelik vir George ’n klein triomf is, nooi ’n nuut-aangestelde jong biologiedosent, Nick (Sanda Shandu), en sy vrou Honey (Berenice Barbier) vir ’n laaste drankie ná ’n fakulteitsfunksie. Die gashere het egter reeds te veel gedrink teen die tyd dat die paartjie skuins na 02:00 arriveer.
Martha se pa is die kollegerektor en haar voortdurende verwysings na hom en sy ideale suggereer haar aanbidding vir hom én teleurstelling in George, wat net nie sy skoonpa se skoene kan volstaan en leiding oorneem nie.
George se walging is duidelik as hy telkemale vir die jong biologiedosent sê dat Martha se pa nooit gaan sterf nie en reeds meer as 100 jaar oud is en “ons almal weet hy is god”.
’n Nag van waansin (wat eintlik nie veel meer as ’n paar vroegoggendure is nie, maar oneindig voel) volg: Die niksvermoedende jong paartjie word drank gevoer en dan verneder; met slim manipulering deel van die verbale uitmekaarskeur van hul gashere en soos drenkelinge op ’n vyandige strand uitgespoel.
Sylvaine sê: “By die 60ste herdenking voel die regie van Edward Albee se buitengewone Who's afraid of Virginia Woolf soos ’n opwindende deurgangsrit, en ek is beide nederig en opgewonde! Hierdie wonderlike donker komedie is ’n dier; ’n tydlose klassieke werk wat afspeel oor die lengte van 'n enkele aand waartydens bourbon en brandewyn in groot hoeveelhede deur sy vier protagoniste verorber word. Ondeunde gedagtespeletjies is slegs die punt van die drank aangevuurde ysberg en laat die gehoor geen ander keuse as om sy heerlike wilde tuimeltrein van skreeusnaakse, wreedheid en waansin te ry nie.”
Nie alleen kry die gehoor ’n intieme kykie in die hartverskeurende maalkolk waarin George en Martha vasgevang is nie, maar die krakies in die jong paartjie se mondering word vinnig diep skeure. George en Martha het oor die jare die kuns vervolmaak om die teer rofies oor hul eie wonde af te krap en nie op te hou, tot die bloed loop nie. En hier is nuwe prooi wat ook verskeur kan word.
...........
Nie alleen kry die gehoor ’n intieme kykie in die hartverskeurende maalkolk waarin George en Martha vasgevang is nie, maar die krakies in die jong paartjie se mondering word vinnig diep skeure. George en Martha het oor die jare die kuns vervolmaak om die teer rofies oor hul eie wonde af te krap en nie op te hou, tot die bloed loop nie. En hier is nuwe prooi wat ook verskeur kan word.
..............
Daar is melding van hul seun wat die volgende dag vir sy 21ste verjaardag sal huis toe kom, maar die gehoor is nooit seker of hy wel bestaan nie. Later blyk dit dat hulle nie kinders kon hê nie, maar die seun geskep het om ’n normale lewe voor te stel. Miskien is dié kinderloosheid die rede vir hul diep walging in mekaar.
Mens se kop duisel, want Martha lewer lang, dronkverdriet-monoloë oor haar afsku in George en hy verdra baie daarvan, maar smeek tog af en toe dat sy moet ophou.
Op ’n stadium lyk dit of sy hom oor die afgrond gedryf het, want eers breek hy doelbewus ’n drankbottel en kom staan voor haar met die afgebreekte bottelkop en dan gaan haal hy ’n haalgeweer. Hy trek die sneller, maar daar skiet ’n vrolike sambreel voor uit. Die jong Honey is bykans histeries van die skok en begin ook te veel te drink, hoewel sy erken dat sy nie gewoonlik drink nie.
Martha vertel dat sy niks meer voel nie, maar erken dan ook dat George die enigste een is wat haar waarlik gelukkig kan maak. Sy sê ook dat sy ween waar niemand haar kan sien nie, en dat George ook ween waar niemand kan sien nie, maar dat hulle nie saam kan ween nie.
Soos die drank vloei, verloor die jong paartjie ook al hul inhibisies en raak hul tonge jeens hul gashere – en mekaar – ook al losser en snydend. Dis soos om te kyk hoe ’n motorongeluk gaan gebeur en totaal magteloos te staan oor die verwoesting wat dit gaan saai.
Alan skryf in ’n nuusbrief ’n paar weke gelede dat hy uitsien na “behoorlike toneelspel” en hoop almal kom kyk die vertoning, “want dis ’n aand by die teater wat jy nie wil misloop nie”.
Wanneer ons net na 23:00 in ons motor klim, voel ons voorwaar emosioneel uitgeput en kan nie dink hoe die vier akteurs moet voel nie. Dis toe dat die gesprek begin. Was die jong paartjie regtig daar? Was hulle dalk ’n suggestie van George en Martha 30 jaar tevore? Het George en Martha net ’n briljante toneelstuk voorgedra, of haat hulle mekaar waarlik só?
Who’s afraid of Virginia Woolf? is in 1962 op Broadway opgevoer en het ’n Tony-toekenning én New York Drama Critics’ Circle-prys vir beste nuwe stuk ontvang. Dat dit 60 jaar later steeds vol sale trek, is bewys van die briljante teaterwerk van die skrywer, die regisseurs en die akteurs.
Ek lees op my selfoon op die internet dat die Amerikaanse dramaturg Edward Albee vir drie van sy werke die Pulitzer-prys vir drama en vir twee van sy werke Tony-toekennings ingepalm het. Van sy bekendste werke is The zoo story, The American dream en The goat, or who is Sylvia?, maar Virginia Woolf bly sy heel bekendste werk, onder meer danksy Mike Nichols se klassieke 1966-filmweergawe met Elizabeth Taylor, Richard Burton, George Segal en Sandy Dennis in die rolverdeling.
Toe ek intik wat die storie agter die storie nou eintlik is, kom daar interessante verduidelikings op, waaronder dat die woorde “Who’s afraid of Virginia Woolf?” wat Martha op die deuntjie van “Who’s afraid of the big bad wolf?” sing, beduidend is omdat dit die temas van kind-wees, ouerskap, realiteit versus fantasie en loopbaansukses saambind.
Op interestingliterature.com vind ek hierdie paragraaf insiggewend: “Who’s afraid of Virginia Woolf? word dikwels ontleed as ’n reaksie op 'n spesifieke oomblik in die Amerikaanse geskiedenis: In 1962, toe die toneelstuk sy première gehad het, was John F Kennedy president, en die Verenigde State het die aansien en selfvertroue gehad as die voorste wêreldmoondheid. Terselfdertyd het spanning met die USSR, veral oor Kuba, tot onsekerheid oor die toekoms gelei. Die Amerikaanse leefstyl en selfvertroue, wat dalk in die 1960’s op sy hoogtepunt was, het soos 'n tweesnydende swaard begin lyk: knus en gemaklik aan die buitekant, terwyl dit as 't ware gasheer speel vir donkerder en meer kommerwekkende geheime en angs.”
En verder: “En as ons Who's afraid of Virginia Woolf as ’n absurdistiese allegorie vir Amerika op ’n bepaalde punt in sy geskiedenis, die vroeë 1960’s, beskou, kan die seun wat nie bestaan nie, ontleed word as ’n simptoom van die land se angs oor sy toekoms. Net soos die egpaar geen kinders het nie, is hul denkbeeldige seun die hart en siel van hul konflikverhouding. Só kyk Amerika na sy toekoms – die ruimtewedloop waarmee Kennedy die dekade begin het – terwyl hulle die probleme en uitdagings nader aan die huis ignoreer.”
Hoe dit ook al sy, die toneelstuk se trefkrag is veel wyer as ’n Amerikaanse kampus of ontnugterde Amerikaanse egpaar. Elkeen wat al vir bevordering oor die hoof gesien is, al ’n loopbaanmislukking gesmaak het, deel van die akademici se wedywering was, of die hartseer van kinderloosheid moes trotseer, sal hierby aanklank vind.
En ek wil my verstout om te sê dat in die ses dekades waarin die toneelstuk reeds regoor die wêreld opgevoer word, daar kwalik ’n beter George en Martha kon wees as Alan Committie en Robyn Scott. Hulle wórd daardie verbitterde egpaar en breek jou hart.
Who’s afraid of Virginia Woolf?
Met: Alan Committie, Robyn Scott, Sanda Shandu en Berenice Barbier
Deur: Edward Albee
Regie: Sylvaine Strike
Stel: Wolf Britz
Theatre on The Bay, Kampsbaai, en Pieter Toerien’s Montecasino Theatre in Fourways, Johannesburg
16 September tot 8 Oktober en 14 Oktober tot 6 November 2022
Tye: Dinsdag tot Saterdag om 20:00, Saterdag om 16:00 (Kaapstad) en Woensdag tot Saterdag om 20:00 en middagvertonings om 15:00 Saterdag en Sondag (Johannesburg).
Geen onder 13 (T)
Kaartjies deur Computicket of by die teater se kaartjiekantoor by 021 438 3300.

