WF 2015: Neongroen nanogoggas

  • 0

Dr A James se verslag

Datum: 23 Maart 2003

Status: Gewond in aksie

Plek: Konfidensieel, Irak

Toestand: Kritiek

 

Beskrywing

Pasiënt Omar McKnight is om 07:03 ingebring na die militêre hospitaal in Bagdad ná ’n terreuraanval in suidoos-Bagdad. Die pasiënt is in ’n kritieke toestand. Na drie ure se pogings om bloeding te stop, is daar besluit om al vier ledemate te amputeer. Die pasiënt is intussen teruggeneem na sy tuiste in Chicago, Illinois, waar verdere ondersoek ingestel sal word en die pasiënt sal herstel.

 

Na een maand

Op die oog af lyk McKnight goed onder omstandighede. McKnight is steeds in ’n koma. Die Amerikaanse Mediese Navorsingsraad het my as sy dokter kom spreek oor ’n eksperimentele behandeling vir McKnight. Dit behels die gebruik van nanogoggas om die pasiënt se brein en fisiese vermoëns ten volle te herstel. Dit is eksperimenteel en sal gedoen word by ’n wetenskaplike toetssentrum in Mount Charleston, Nevada (Privaat).

Ek het vir sy eie beswil besluit om die aanbod te aanvaar. Volgens beplanning begin projek Nanotech oor ’n week. Ek het die lewensgrootte militêre Airbus by die Chicago lugmagbasis betree.

Dit is tyd vir die operasie om te begin. Die vertrekke is wit, spierwit. Ons klere is spierwit, die ligte is wit, selfs die vloere is wit. Ek en die ander dokters wat die operasie sal lei, is geklee in volledige, lugdigte hazmat-pakke. Die pasiënt lê in ’n glaskis. Aan die kis is ’n paar handskoene vas – dit is ’n buitengewoon groot hazmat-dampkis.

Die nanogoggas is in ’n buis met ’n dik spuitnaald geplaas. Hulle is ’n skakering van lemmetjiegroen en wemel in die inspuiting. Hulle is die kleinste vorm van lewende wesens. Daar word beweer dat hierdie nanogoggas die vermoë besit om gestremdes se ledemate weer te laat aangroei. Let wel: beweer. Dit is ’n vorm van eksperimentele behandeling. Dit kan enige uitkoms hê.

Die dokter wat die operasie lei en die chemiese ingenieurs wat bystaan, het almal hulle hande in die Hazmat- dampkis. Die nanogoggas word direk in sy bloedstroom ingespuit. Die pasiënt begin ritmiese stuiptrekkings kry. Ná ’n minuut hou dit op en die pasiënt word alleen gelaat.

Ná ’n week word ons weer toegelaat om die pasiënt te besoek. Die pasiënt het intussen wakker geword en stompies is besig om te groei uit sy ledemate wat ’n week terug afwesig was. Dit is ’n buitengewone en onnatuurlike verskynsel. As ’n soldaat sy ledemate verloor het, was daar tot dusver nog geen manier gewees om enige groei op daardie ledemate te bewerkstellig nie. Dit is ’n wetenskaplike baanbrekeroomblik. Die nanogoggas stimuleer selle om teen ’n onnatuurlike spoed te groei.

Stadig maar seker begin die ledemate teruggroei en die pasiënt begin weer lewe kry. Hy is intussen verskuif na sy eie kamer in die laboratorium, maar word steeds onder bewaring in ’n lugdigte dampkis gehou.

Slegs ’n maand na die terreuraanval is die pasiënt ten volle terug op die been en begin oefen op die gimnasium se masjinerie wat aan hom gegee is. Die pasiënt begin abnormale spiergroei toon en begin bewus raak van die feit dat hy ’n lewende laboratoriumrot is. Hy begin kap teen die dampkis om uit te kom. Hoe meer daar aan hom probeer verduidelik word om rustig te raak, hoe harder kap hy teen die kis.

Die span dokters het besluit om die operasie te kanselleer voor dit verder handuit ruk. “Tsssssssssssssssssss.” Die dampkis word gevul met die spierverslappinggas tot die pasiënt uiteindelik ineenstort weens hartstilstand.

Die brief aan sy ouers volg.

 

Dokter A. James se verslag

Datum: 23 April 2003

Status: Dood in aksie

Plek: Konfidensieel, Irak

Toestand: Gedeeltelik verbrande liggaam

Beskrywing: Geen nadoodse ondersoek sal uitgevoer word nie, weens onvoldoende toetsmateriaal.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top