WF 2015: Die toekoms

  • 0

Die dag sal kom wanneer alles rondom jou gaan verander. Alle aspekte van jou lewe waaroor jy elke dag beheer het, sal teen jou draai. Met die tegnologie wat so vinnig vorder, sal kunsmatige intelligensie binnekort ontwikkel. Ons sal robotte kan installeer wat die intelligensie het om al ons behoeftes en begeertes te bevredig.

As jy inkopies moet doen, gaan jy winkel toe met jou beursie en inkopielys. Jy loop deur die hele sentrum op soek na die produkte wat jy dan in jou las van ’n mandjie of trollie laai. Asof dit nie erg genoeg is nie, moet jy nog in ’n ry staan waar jou inkopies een vir een opgelui word deur die dikwels onplesierige kassiere. Met swaar sakke in die hand loop jy na jou motor ... In die toekoms, met kunsmatige intelligensie, sal jy jou inkopies makliker en vinniger kan doen.

Ons masjienaangedrewe persoonlike dienaars sal ons inkopielys neem en die korrekte produkte vir ons koop. Met die vinnige reaksies van robotte sal daar nie net kos in ons yskaste wees nie, maar volle maaltye op die eettafel, soos die robotte inligting oor kosmaak ontvang.

Daagliks sukkel ons in die verkeer op pad werk toe. Daar kan verskeie redes wees hiervoor, naamlik padongelukke, padwerke of net eenvoudig te veel motors op die pad.

Die pyn en frustrasie van verkeer sal ook iets van die verlede wees. Kunsmatige intelligensie sal in motors en verkeersligte installeer word. Sodoende sal alles op die pad gekonnekteer word om die verkeer so vloeiend as moontlik te maak. Jy sal soggens in jou motor klim, en sonder om te bestuur, die vinnigste en kortste pad na jou bestemming aanpak.

Leerlinge en studente woon tans klasse by. Almal het al ’n vervelige opvoeder beleef wat jou aan die slaap praat, terwyl jy in die ongemaklike en harde banke moet sit. Daar is ook toetse en eksamens met die meegaande stres, want jy weet die neerskryf van inligting (wat jy die vorige aand in jou kop moes kry) op papier kan jou toekoms bepaal.

Hierdie onregverdige stelsel sal ook tot ’n einde kan kom. Ons sal nie meer gedwing word om kennis te probeer opdoen wat ons nooit weer sal gebruik nie. Elkeen van ons sal gespesialiseerde aanlegtoetse deurgaan. Sodoende word een beroepsarea vir elke persoon bepaal. Inligting oor die beroep sal deur masjiengedrewe opvoerders aangebied word, wat aangepas kan word vir elke mens. Daar sal ook ’n persoonlike robot vir elkeen beskikbaar wees wat oor al die kennis van die wêreld beskik. Dus sal elke mens ’n “ekstra brein” hê wat hierdie kennis kan oordra.

Troeteldiere het nog altyd ’n spesiale plek in ’n mens se hart gehad, maar tog kan hulle ’n groot verantwoordelikheid wees. Daar is altyd iets wat skoongemaak moet word, of kos moet aangedra word – en dan praat ek nie eers van die stryd om oppassers te vind vir wanneer ons wil weggaan met vakansie nie.

Met kunsmatige intelligensie sal ons diere selfversorgend kan word. Die liefde en liefkosing sal bly, maar hulle sal in staat wees om hul eie kos te kan kry. Hulle sal ook hulle eie gemors kan skoonmaak. Geen oppassers sal benodig word nie.

Al die bogenoemde is goed en wel, maar kunsmatige intelligensie volg op logika. Masjiene en diere wat vir hulself kan dink, sal gou agterkom hoe ’n groot las die mensdom vir die aarde is. Ons uitvindings kan dus teen ons draai en die hele mensdom uitwis. Dit is tog net logies. So dink mooi wanneer jy volgende keer weer van jou tegnologie gebruik maak.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top