WF 2012: Schrödinger se tyd (’n liefdes-denkeksperiment)

  • 0

In die universum is daar slegs twee tydlose aspekte: die een is tyd, die ander is liefde, maar watter een seëvier wanneer hulle teenoor mekaar gestel word?

Circa 1900. Die Anglo-Boereoorlog woed voort en twee geliefdes moet van mekaar afskeid neem.  Frederik kyk met innige verdriet in Katrina se oë.  Die tyd het gekom vir hom om te gaan veg vir sy vaderland. “Moet jy regtig gaan?”  vra Katrina met trane in haar oë. “Ek wil nie, maar dit word van my verwag , en jy weet ek is iemand wat doen wat van my verwag word,” antwoord hy beswaard.

“Nou dan verwag ek van jou om veilig terug te kom huis toe.”  Frederik glimlag deur die trane en omhels sy vrou.  Deur al die jare wat hy haar al ken, het haar gelaat nie ’n dag verouder nie.

Katrina wuif vir Frederik toe hy om die draai verdwyn.  Hy het nie sy gesig gedraai om weer om te kyk nie, want nog een laaste kyk sou te veel wees vir hom.

Tyd.

Schrödinger het eens met ’n banale denkeksperiment vorendag gekom.  Hy wou ’n kat in ’n verseëlde boks saam met ’n houer waterstofsianiedsuur en ’n radioaktiewe stof sit.  Wanneer ’n Geigerteller in die houer die straling optel, word die houer wat die gif bevat, gebreek.  So kom die kat dan in ’n superponerende toestand: hy is lewendig, maar tog dood, en andersom.  As die houer oopgemaak word, word die superponerende toestand verloor en is die kat óf lewendig óf dood.

Die Kakies het ’n paar maande later op die oorlogsveld iets van Katrina geëis.  Frederik se tyd het gekom.

Toe die soldate op haar voorstoep verskyn, het sy meteens inmekaargestort.  Haar hele lewe, al was dit nimmereindigend, het tot niet gegaan ...

Eeue gelede, toe die woord “kolonisasie” nog nie bestaan het nie, het Geraldine die Fontein van Jeug ontdek.

Maar nou is sy nie meer Geraldine nie en haar geliefde man lê in ’n kis ses voet onder die kluite.

Liefde.

2020. Al meer as ’n eeu ná haar geliefde se tydverwisseling. 

Hy het die tydelike met die ewige verruil, grondkos geword en haar gelos met ’n gebroke hart.

Tyd het vinnig verbygegaan. Dit voel nes gister wat sy hom totsiens gewuif het en hy nie eens sy gesig gedraai het nie.  Sy het verbete aan haar verlede vasgeklou. Hy was die eerste man wat sy werklik liefgehad het, die enigste man wat sy ooit sal liefhê.

As sy net die tyd kon terugdraai, dan sou sy hom nooit toegelaat het om te gaan nie.

Sy vat-vat aan die verseëlde boks van tyd.  Daar is ’n kat daarbinne, ’n verlede-hede-kat wat in albei tye leef.

Sekondes ...

Haar polshorlosie tik dit af.  Hoekom het sy die toestel as dit nie op haar van toepassing is nie?  Hoekom sal sy haar so uitmergel oor ’n aspek van die lewe wat sy al lank gelede prysgegee het?  Sy het net liefde oor om voor te lewe en selfs dít is van haar af weggeneem.

Sy krap-krap aan die seël van die boks. Moet sy dit waag?  Is dit regtig die moeite werd net om hom weer ’n keer te kan sien?

Sy lewe in die verlede. Selfs honderd jaar later is daar vir haar net één lewe: een saam met Frederik. Sonder hom voel sy leeg.

Die eerste seël frummel op en sy ruk haar hand terug om seker te maak of dit is wat sy wil doen.

Minute ...

Sy stap verby ’n horlosiewinkel en sien ’n advertensie in die venster.  Sy word meteens opgewonde.

BRING JOU VERLORE GELIEFDES TERUG VAN ’n VERLEDE TYD MET BEHULP VAN DIE VERLEDE-HEDE-TYDBOKSMETODE!

Sy neem dadelik die nommer en adres en later, by die huis, reël sy ’n afspraak vir die volgende dag.  Hierdie is nog ’n kans vir haar om Frederik te sien en sy is nie van plan om dit deur haar vingers te laat glip nie.

Die wagkamer is dolleeg en in ’n verwaarloosde toestand; die stoele is deurgesit en stukke spons val plek-plek uit.

“Mevrou Katrina?”  vra die ontvangsdame vriendelik. “Ja, dit is ek,” antwoord Katrina onseker terwyl sy om haar rondkyk. “Asseblief, neem eers hierdie dokument en lees dit deur voor Mevrou by die spreekkamer ingaan,” sê die ontvangsdame en oorhandig ’n vasgekramde stel papiere aan Katrina.

Sy lees die dokumente wat haar waarsku oor wat kan gebeur wanneer sy die vertrek binnegaan.  Daar sal ’n boks daarbinne wees wat die hele verlede en die hele hede bevat. Sodra sy die boks oopmaak, sal sy haar geliefde deur tyd kan trek na haar toe, maar die kamer waarin hulle is, sal verseël moet word sodat die verandering in die verlede nie die res van die heelal se hede sal laat vergaan nie, want hoe kan daar ’n hede wees sonder ’n verlede waarop dit gebou is?

Haar handtekening loop vanuit die pen op die papier en sy gee die dokumente terug voor sy stadig maar seker na die spreekkamer toe stap.

Sy vat-vat aan die verseëlde boks van tyd.  Daar is ’n kat daarbinne, ’n verlede-hede-kat wat in albei tye leef.  Sy krap-krap aan die seël van die boks. Moet sy dit waag?  Is dit regtig die moeite werd net om hom weer ’n keer te kan sien? Die eerste seël frummel op en sy ruk haar hand terug om seker te maak of dit is wat sy wil doen.

Sy begin die tweede en laaste seël afkrap en die boks gaan oop.  Die tegnikus wil nog iets skree van ’n deur wat nie behoorlik toe is nie, toe staan Frederik voor haar en sy wéét dat sy haar tyd goed benut het ...

BRON: Ken & Verstaan Fisiese Wetenskappe deur Karin H Kelder vir Graad 10.  (Verduideliking van Schrödinger se kat.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top