Werkersdag, 1 Mei 2018

  • 1

Die regering se beleidsdokument van 8 Julie 2016 oor die wenslikheid van ’n belasting op suikerkoeldrank in Suid-Afrika, Taxation of Sugar Sweetened Beverages, het beoog om suiker in Suid-Afrikaners se diëte te verminder. Die stuk verklaar dan ook plegtig: “An increase in the prices of SSBs due to taxes is likely to encourage consumers to reduce their demand, which may lead to less production or changes in the formulation of the product.”

Maar die skrywers rus toe nie daar nie. Hulle ondersoek internasionale ervarings van soortgelyke belastings in ander lande. Soos:

  • In 2014 is belasting op suikerversoete drankies (SVD’s) in Mexiko ingestel as deel van ’n strategie om vetsug te verminder. Ná die inwerkingstelling van die belasting daal verbruik van SVD’s met gemiddeld 6%, en teen Desember 2014 daal dit verder en vinniger, tot 12% in totaal.
  • In 2012 stel Frankryk ’n belasting in op koeldranke met suiker en kunsmatige suiker. Die prys van belaste produkte styg met 5% in 2012 en 3,1% in 2013, en die aanvraag daal 3,3% en 3,4% in die twee jaar onderskeidelik.
  • Hongarye stel in 2011 ’n belasing in op sekere vorme van gemorskos. ’n Jaar later wys ’n impakstudie dat die aanvraag na belaste produkte met ongeveer 25 tot 35% gedaal het.

Enige leser sal uit ervaring weet: as die koste van ’n produk of diens styg, daal die aanvraag daarvoor. Só stel die regering toe wel ook onlangs die suikerbelasting in met juis daardie verwagting.

Dieselfde regering verwag egter oënskynlik dat as mens die koste van arbeid verhoog, en aanhou verhoog, die aanvraag daarna onaangeraak sal bly. Of erger, selfs sal styg. Dit is gewoon waansinnig.

Kom ons kyk hoe die aanvraag na arbeid in Suid-Afrika lyk.

Daar is op die oomblik omtrent 37 miljoen mense in ons land in die ouderdomsgroep 15–64 jaar.

Van hulle is net 59%, oftewel omtrent 22 miljoen, ekonomies aktief. Dit beteken dat baie miljoene mense in ons land dit nie as die moeite werd beskou om eers te probeer om in die ekonomie betrokke te raak nie, selfs al aanvaar ons etlike miljoene is nog op skool of studeer verder.

Van die 22 miljoen wat aktief probeer, werk net 16 miljoen.

Daarteenoor is daar 17 miljoen ontvangers van welsynstoelae.

Laat daardie syfer net ’n bietjie insink: daar is meer mense wat toelae by die staat kry as wat werk.

Hoe het dit gebeur?

Arbeidswetgewing in Suid-Afrika is die arbeidsmarkekwivalent van suikerbelasting. Dit maak arbeid duurder, net soos suikerbelasting koeldrank duurder maak. ’n Buiteruimtelike waarnemer wat dié spul gadeslaan, sal sekerlik aflei dat ons regering nie net beoog om die “euwel” van indiensneming hok te slaan nie – hy slaag uitstekend daarin.

Maar is dit waar? Is daar navorsing wat inderdaad hierdie – op die oog af vanselfsprekende – verband tussen arbeidskoste deur wetgewing, en werkloosheid, getoets het?

In 2009 het die Amerikaanse Chamber of Commerce ’n slim studie uitgedink. In die VSA lê die federale regering die meeste arbeidsregulasies neer. Maar elke deelstaat kan boonop sy eie regulasies daarby voeg, mits sulke regulasies die werker se posisie verbeter. Die navorsers identifiseer toe 33 aspekte van arbeidsreg, in ses afdelings ingedeel. Elke staat kry punte, van 0 tot 100 in totaal, waar 100 die mees gereguleerde staat voorstel. Die state word toe in drie groepe ingedeel, naamlik Goed, Matig en Swak, waar “Goed” die mins gereguleerde groep is, en “Swak” die omgekeerde.

En hier is die uitslae. In die tydperk 2009 tot 2014 was die gemiddelde indiensnemingsgroei per staat in elke groep soos volg:

Goed:  2,72%
Matig: 0,6%
Swak: 0,49%.

Anders gestel: die totale groei aan werkgeleenthede in die Goeie groep was 4,4%, terwyl dit net ’n miserabele 0,6% in die Swak groep was. Die Goeie groep het met 2 124 734 werkgeleenthede gegroei (van ’n basis van 47 miljoen) en die Swak groep met net 390 551 (van ’n basis van 65 miljoen).

Saak gesluit. Al die state het arbeidskoste verhoog, maar die Swak state net soveel meer. Dié state het toe, voorspelbaar, net soos verbruikers van belaste koeldrank hulle inname sny, op ’n arbeidsdieet gegaan.

Maar hier is die kersie op die koek: die Goeie state se per kapita-inkomste in die tersaaklike tydperk het met 1,82% gegroei, teenoor net 1,68% in die Swak state.

Hoekom is dit so? Mens sou tog verwag het dat in state waar arbeid goedkoper is en werkskepping meer, dit teen laer lone sal wees?

Toe nie. Dit is die wonder van ’n betreklik vrye mark in arbeid. Só ’n mark skep nie net meer werk nie, mettertyd doen hy dit ook teen hoër lone. Hoe is dit moontlik? Dit klink kontra-intuïtief?

Onthou hoe aanbod en aanvraag werk: In ’n land sonder duur arbeidswette kan werkgewers mense in diens neem teen marklone en op ander markverwante voorwaardes. Daar is min wetlike beperkings. Daar is nie ’n wetlike “vloer” onder enige loon of voorwaarde nie. Die werkgewer kan albei so laag maak as wat hy wil, mits die werker dit maar aanvaar. Dit beteken baie werkers sal aanvanklik onder die “vloer” wat andersins deur die wet bepaal word, aangestel word. Maar dit beteken ook dat arbeid nou goedkoper is, en meer werkers sal werk kry. Hulle diens sal tog beter waarde vir geld bied.

Namate meer mense in diens geneem word, begin werkgewers mettertyd vind daar is ’n tekort aan werkers. Wat só ’n werkgewer te doen staan, is om hoër lone aan te bied. Anders loop hy die gevaar om werkers aan mededingers af te staan.

Maar sal die werkgewer nie dan verloor as hy meer moet betaal nie? Nee, hy sal nie. Die manier om dit te verhoed, is om tegnologie aan te skaf en werkers op te lei sodat hulle meer produktief is. Hoër lone word dan deur hoër uitsette geregverdig.

Intussen leer die werker aan diens en word meer produktief, bloot deur werkervaring op te bou. Dit alleen dra tot sy bedingingsmag by, en gou-gou kan hy vir ’n verhoging vra.

Op dié manier word lone en ander voorwaardes in ’n vrye mark konstant ten gunste van die werker verbeter.

Dit is nie net ’n mooi teorie nie. Hier is byvoorbeeld die syfers vir die vervaardigingsbedryf in Taiwan, wat oor die jare minimale arbeidsingryping deur die staat gehad het:

 

1961–71

1971–81

1981–91

1992

1993

1994

BBP-groei per jaar (%)

10,0

9,5

7,9

6,8

6,3

6,5

Werkloosheid %

2,9

1,6

2,1

1,5

1,5

1,6

Reële groei in vervaardigingslone (% per jaar)

6,2

8,0

7,4

5,6

3,8

1,8

Bron: Springer Science+Business Media

Let veral op na die groei in lone. Neem kennis, dit is reële groei (dws nadat inflasie in berekening gebring is). Let ook op dat werkloosheid deurgaans baie laag was.

Dit is nie wat in Suid-Afrika gebeur het nie. Sedert die aanvaarding van die nuwe Wet op Arbeidsverhoudings in 1995 het werkloosheid van omtrent 16% tot 27% gegroei. Dit is ’n toename van meer as 150%.

In dieselfde tyd het nog iets egter drasties toegeneem, en dit is welsynstoelae. Vanaf 2000, toe drie miljoen persone toelae ontvang het, het dit tot omtrent 17 miljoen vandag aangegroei.

Nou wil ek ’n lansie breek vir ’n ander soort arbeid as indiensneming. Tradisioneel assosieer ons 1 Mei, Werkersdag, met mense wat by ander in diens is. Maar wat mens maklik vergeet, is dat elke enkele werkgewer in die privaatsektor iewers, eendag, ’n nuwe ondernemer was. Iemand moes iewers, eendag, ’n meubelfabriek, klerevervaardigingsaanleg, myn, kafee op die hoek, supermarkketting, hotel of plaas gevestig het. Dit maak nie saak hoe groot die werkgewers vandag is nie, iewers in die verre verlede was hulle elkeen ’n groen beginner-onderneming. Sonder ondernemerskap sou daar nie ondernemers wees nie, en sonder ondernemerskap sou daar nie mense wees wat vir hulle werk nie. Met die uitsondering van staatsdiensposte (waarop ek later terugkom) sou daar, sonder ondernemerskap, geen werkskepping wees nie.

Dit volg ook dat ’n lae vlak van ondernemerskap noodwendig lae indiensneming beteken.

Daarom is dit kommerwekkend dat ons land so bitter min ondernemers het, as ons onsself byvoorbeeld met Afrika-lande waarvoor statistiek bestaan, vergelyk:

Land

Koers van nuwe ondernemings (%)

Burkina Faso

13,5

Kameroen

10,9

Egipte

6,6

Marokko

4,3

Suid-Afrika

3,3

Gemiddeld sonder Suid-Afrika

8,8

Bron: Global Entrepreneurship Monitor 2016/17 Global Report

En dieselfde geld as ons kyk na voornemens om ’n nuwe onderneming te begin, soos hierdie tabel wys:

Land

Ondernemerskap-voornemens (%)

Burkina Faso

63,7

Kameroen

34,4

Egipte

63,8

Marokko

36,2

Suid-Afrika

10,1

Gemiddeld sonder Suid-Afrika

49,5

Bron: Global Entrepreneurship Monitor 2016/17 Global Report

Suid-Afrikaners stel vergelykenderwys nouliks daarin belang om ondernemings te begin.

Dit is moelik om te dink welsynstoelae het niks hiermee te doen nie. Neem byvoorbeeld Diepsloot, ’n informele nedersetting buite Johannesburg. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-aangeleenthede het bevind dat hoewel onwettige immigrante net 19% van die gebied se bevolking uitmaak, hulle vir 48% van ondernemings daar verantwoordelik is. Dit beteken dan dat immigrante meer as dubbeld soveel ondernemings as Suid-Afrikaners in hierdie mikrokosmos het. Vanselfsprekend kry hierdie immigrante nie welsynstoelae nie.

Dit is nie moeilik om jou voor te stel dat ’n werklose persoon met ’n paar kinders, wat in ’n gratis HOP-huis woon en vir elke kind ’n toelaag kry, dalk daarsonder ’n klein onderneming sou begin het nie. Soos sake staan, sit hy bes moontlik tuis.

Die etos van “die staat sal voorsien” word verder deur swart bemagtiging gedien. Swart Afrikane in besonder kan verwag om werk of direkteurskappe in korporasies te kry. Dis soveel makliker as om ’n nuwe onderneming te begin.

Dieselfde geld staatsdiensposte. Hierde poste, byna uitsluitlik vir swart mense opsy gesit, het van 2000 met 850 000 toegeneem, terwyl privaatsektorwerkskepping feitlik stilgestaan het. Weer eens, dis soveel makliker as om uit te spring en ’n saak te begin.

Wat my by die euwel van staatsbesteding bring. Van die totale staatsbegroting in 2017/18 was 11,5% vir sosiale besteding (toelae en so meer), 12,5% vir gratis behuising en 35% vir staatsdienslone. Die openbare sektor bars nie net uit sy nate nie; dit is ook berug onproduktief.

Hier is twee grafieke wat die verband wys tussen verbruiksbesteding deur die staat en werkloosheid in 24 van Suid-Afrika se eweknieë, gekies bloot op grond van per kapita-inkomste:

Die verband is onmiskenbaar: hoe meer die staat bestee, hoe hoër is die werkloosheid. Die verlammende impak van sosiale toelae – soos hier bo gewys – is een rede daarvoor. Die ander is dat hoe meer geld die staat uit die ekonomie neem, hoe minder is daar vir privaatondernemerskap. Die derde rede is dat hoë staatsbesteding hoë belastings verg, wat weer produktiwiteit ontmoedig.

Die goue draad wat deur al hierdie euwels loop, is dat hulle strukture is wat maak dat ons ten dele iets vir niks kry. Ons werk nie produktief nie.

Suid-Afrika kan werk. Maar net as elkeen sy loon verdien.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Ou Entrepreneur Vlakvark

    Mnr Rautenbach, dankie vir hierdie uitstekende insiggewende artikel. Publiseer asseblief oor 'n jaar die volgende artikel: "Werkersdag, 1 Mei 2019".
    Sal ons raai wat die werkloosheidsyfer en sosiale bestedingsyfer op 01 Mei 2019 sal wees? Hoe spel mens nou weer "Batho Pele" en "entrepreneurskap" en "spaar" en "selfrespek"?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top