Wenners van die 2015 Media24 Boeke Literêre Pryse aangekondig

  • 0

Die wenners van die 2015 Media24 Boeke Literêre Pryse is Vrydagaand in Kaapstad aangekondig. Totale prysgeld van meer as R200 000 is aan die wenners oorhandig. Hulle is:

WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie – romans, kortverhale en drama

Buys: ’n grensroman deur Willem Anker, uitgegee deur Kwela Boeke

Die ander titels op die kortlys was: Ester deur Kerneels Breytenbach (Human & Rousseau), ’n Duisend stories oor Johannesburg deur Harry Kalmer (Queillerie) en Kamphoer deur Francois Smith (Tafelberg). Die beoordelaars was die digter Danie Marais, die akademikus Thys Human en die joernalis Murray la Vita.

Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie

A Sportful Malice deur Michiel Heyns, uitgegee deur Jonathan Ball Publishers

Die ander titels op die kortlys was: Face-Off deur Chris Karsten (Human & Rousseau) en Rachel’s Blue deur Zakes Mda (Kwela Boeke). Die beoordelaars was skrywer Jenny Hobbs en die akademici Johan Jacobs en Molly Brown.

Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse digkuns

Mede-wete deur Antjie Krog, uitgegee deur Human & Rousseau

Die ander titels op die kortlys was Karnaval en Lent deur T.T. Cloete (Tafelberg) en Al die lieflike dade deur Charl-Pierre Naudé (Tafelberg). Die beoordelaars was skrywer Francois Smith, die digter en akademikus Henning Pieterse en die akademikus Ronel Foster.

Recht Malan-prys vir Afrikaanse en Engelse niefiksie

Lost and Found in Johannesburg deur Mark Gevisser uitgegee deur Jonathan Ball Publishers

Die ander titels op die kortlys was Justice deur Edwin Cameron (Tafelberg) en A Man of Good Hope deur Jonny Steinberg (Jonathan Ball Publishers). Die beoordelaars was John Maytham van Kfm, akademikus Elsa van Huyssteen en Chris Swanepoel van RSG.

MER-prys vir jeugromans

Alive Again deur Andre Eva Bosch, uitgegee deur Tafelberg

Die ander titels op die kortlys was Chuck Norris kan deel deur nul deur Annelie Ferreira (Tafelberg) en Chain Reaction deur Adeline Radloff (Tafelberg). Die beoordelaars was oud-kinderboekuitgewer Louise Steyn, Verushka Louw van The Book Lounge in Kaapstad en die kinderboekskrywer en boekeredakteur Wendy Maartens.

MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke

Noko and the Kool Kats deur Fiona Moodie, uitgegee deur Tafelberg

Die ander titels op die kortlys was Die Dingesfabriek: Jannus en Kriek krimp deur Elizabeth Wasserman en Astrid Castle (Tafelberg) en Speurhond Willem en die diamantdiewe deur Elizabeth Wasserman en Chris Venter (Tafelberg). Die beoordelaars was die resensent Lona Gericke, kinderboekkenner Magdel Vorster en skrywer en illustreerder Paddy Bouma.

Volgens Media24 Boeke se uitvoerende hoof, Eloise Wessels, is hierdie toekennings ná ses dekades steeds bewys van die talent en gehalte werk wat deur Suid-Afrikaanse skrywers gelewer word. “Ons is trots om vanjaar weer die topskrywers in die verskillende genres te vereer,” het sy gesê.

Die Media24 Boeke Literêre Pryse word toegeken aan boeke wat tussen 1 Januarie en 31 Desember 2014 by die Media24 Boeke-groep verskyn het. Die wenner in elke kategorie ontvang R35 000. In die kategorie vir geïllustreerde kinderboeke word die geld tussen die skrywer en die illustreerder verdeel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top