Wenners: "Huis, woning, tuiste"-gedigkompetisie

  • 3

Die wenner en naaswenner van die gedigkompetisie is pas bekend.

Die kortlys is saamgestel vanuit die LitNet-redaksie, waarna die bekende digter en vertaler Daniel Hugo die finaliste se gedigte beoordeel en die twee wenners gekies het.

Daniel Hugo (Foto: Naomi Bruwer)

Wenner

Elodi Troskie met "snow angels in victoria"

snow angels in victoria

28 minute oor 11 tik ek ’n boodskap aan myself
sodat ek môre herinner kan word
dat enige iets ’n gedig kan wees
dis maandag en ons probeer om
die naweek se kalorieë weg te draf
dinsdag vergaan ons in die biblioteek en
ons wag vir woensdag om
halfprys nachos te gaan koop
donderdagoggend mis ons almal ons agtuurklasse
en vrydagaand maak ons snow angels in victoria
saterdagmiddag klim ons tot by die bruggie
op die berg en ons praat oor alles en niks en
eendag en gister en miskien en
sondag slaap ons laat en bestel koshuis-breakfast
dan gaan ons kerk toe en belowe
om dié week beter te wees voordat ek
25 voor 12 my alarm stel om betyds te wees
vir die nuwe week
en weer te besef
dat die hele stellenbosch eintlik maar
uit versreëls bestaan

Klik hier om Elodi se ander inskrywings te lees.

Elodi wen R1 000 kontant en ’n boekpak wat die volgende boeke bevat:

collage_1

Boeke geborg deur NB Uitgewers (Human & Rousseau, Lux Verbi en Tafelberg) en LAPA.

Naaswenner

Sandra Norval met "die beloofde land"

die beloofde land

verby die uniegebou in stanza bopape
oktoberpers in die stowwerige reën
hyg oorvol oranje putcobusse dieselasem
oor rooi ligte
verby bloederige plakkate en hoerhuise

’n bedelaar hink honger tussen motors op skuld:
hy sê sy naam is kaleb –
hy’t uittand verdwaal op soek na
die beloofde land

Sandra wen ’n boekpak wat die volgende boeke bevat:

collage_2

Boeke geborg deur NB Uitgewers (Human & Rousseau en Lux Verbi), LAPA en Penguin Random House.


Hier is meer inligting oor die kompetisie:

LitNet – Die boekehuis met baie wonings
Vertel vir LitNet van jóú huis.

Mense vind hul tuiste op verskillende plekke – in ’n dorp of huis, die natuur, geloof, ’n ander persoon, die liggaam wat die siel huisves of in die wete dat die wêreld net ’n tydelike huisvesting is. Vir party is dit ’n plek waarvan hulle wil wegkom, vir ander ’n plek om na terug te keer.

Nelson Mandela het gesê: “Daar is niks soos om terug te keer na ’n plek wat onveranderd gebly het en om te vind op watter wyses jy self verander het nie.”

Skryf ’n gedig oor jou huis, jou woning, jou tuiste. Jy kan die tema so letterlik of figuurlik interpreteer soos jou woorde dit toelaat.

Besoek hierdie kategoriebladsy om die ander inskrywings te bekyk.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Michele Meyer

    Baie geluk en dankie vir inspirerende werk! Dankie LitNet, vir geleenthede soos hierdie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top