Huis, woning, tuiste: Elodi Troskie se inskrywings

  • 9

weeksdaegedigte oor my huis
vir Stellenbosch

i: snow angels in victoria

28 minute oor 11 tik ek ’n boodskap aan myself
sodat ek more herinner kan word
dat enige iets ’n gedig kan wees
dis maandag en ons probeer om
die naweek se kalorieë weg te draf
dinsdag vergaan ons in die biblioteek en
ons wag vir woensdag om
halfprys nachos te gaan koop
donderdagoggend mis ons almal ons agtuurklasse
en vrydagaand maak ons snow angels in victoria
saterdagmiddag klim ons tot by die bruggie
op die berg en ons praat oor alles en niks en
eendag en gister en miskien en
sondag slaap ons laat en bestel koshuis-breakfast
dan gaan ons kerk toe en belowe
om dié week beter te wees voordat ek
25 voor 12 my alarm stel om betyds te wees
vir die nuwe week
en weer te besef
dat die hele stellenbosch eintlik maar
uit versreëls bestaan

ii: die kleur wat vanmiddag was

ek het nog altyd gedink dat alles
’n kleur en ’n ouderdom en dalk selfs
geslag aan hulle het (al bedoel ek dit nie):
soms is ek blou en ander kere geel
maar wanneer ek slaap is ek ’n
dowwe groen-grys en
catwalk is ’n verwarde tiener en
foodlovers ’n besorgde ma
die afrikaanse klas is helder en rooi
maar my franse klas is pers en
middeljarig en vol wêreldkennis
terwyl sielkunde ’n ligblou meisie is
wat strekoefeninge doen op koffiebaai
se strand en jy is natuurlik koningsblou
en te oud vir milkshakes maar te jonk
om wyn te drink saam met jou aandete
en dit is alles vreeslik mooi
maar my gunsteling kleur bly maar
die kleur wat vanmiddag was
toe ek gewonder het hoe op aarde die hemel
eendag gaan lyk as stellenbosch
se verlate sondagmiddagstrate
kon lyk soos dit

iii: dis 2017 en almal dra chokers

daar is meisies in my klas wat nog nooit
iemand gesoen het nie en daar is meisies
wat al kinders het en ek ken ouens
met sleeve tattoos en ouens wat te bang is
om gaatjies in hul ore te skiet en
voor my sit ’n kringleier van die kerk en
agter my sit iemand wat haarself naweke
’n paaldanser noem (omdat sy wil of omdat
sy moet) maar dit betaal darem haar huur
en sy lyk altyd so gelukkig want
dis 2017 en almal dra chokers
dis 2017 en alles is okay solank jy dit kan regkry
om kuns te maak uit ’n droë maandagoggend
dis 2017 en as iemand oor ’n paar honderd jaar
’n foto van ons moet sien
sal hulle geen idee hê waar ons vandaan kom nie
en ek weet self nie eens waarheen ons op pad is nie
maar dis okay want dis maandag
en ek dra my nuwe choker
en ek sit langs die ou met die spul tattoos
en my oor brand want ek het
nog ’n gaatjie laat inskiet

 

ons nuwe huisie saam

onthou jy laas jaar dié tyd
toe die reën te min was
om te kon sê dat die winter ’n winter was
onthou jy toe jou sussie by die huis aangekom het
en gehuil het oor hoe sy swanger geraak het
onthou jy dat die simpel vullislorrie
my hond doodgery het
en onthou jy hoe bang jy was
om vir my te sê wat jy dink?

en nou sit ek op die vloer
van ons nuwe huisie (saam)
ek speel met die kat
en jy maak koffie
(in kampbekers met plastieklepeltjies
want die meubels moet nog kom)
en alles gaan okay wees
want die baba is gesond
en jou ma het gebel –
die brug het oorspoel

en jy sê
ek is alles
wat jy graag sou wou hê ek moes wees

so met apologie aan antjie
skryf ek maar vir jou ook ’n gedig
ek gaan leestekens gebruik
dalk rymwoorde hier en daar
maar ek sal vir my gedig sy eie paar skoene aantrek
dat hy die pad kan vat
en loop tot daar waar jy hom wil hê

want die hemel draai sy krane oop
en ons huil en slaan mekaar se tente op

 


 

Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.

huis1_650

  • 9

Kommentaar

  • Ons nuwe huisie saam het my wind uitgeslaan. Min gedigte lok die tipe reaksie uit my. Dis 'n gedig wat my diep geraak het, seker omdat dit so alledaags geskryf is, maar omdat daar soveel lae aan die gedig is. Dis 'n gedig waarvan ek nie maklik kon herstel nie. Baie dankie daarvoor.

  • Skryf self, maar glo eer moet gaan waar dit toekom! Dis min dat mens 'n gedig kry wat terugpraat, te veel word baie woorde gebruik om min of niks te sê nie, hier word woorde so gerangskik dat dit duidelik baie sê sonder om onnodige woorde rond te gooi. Puik werk!

  • Avatar
    Vaughn en Mike

    Ons as jou taalonderwysers by Charlie Hofmeyr is baie trots op jou en die puik werk wat jy lewer.

  • Elodi! Die kleinste mensie met gewigtige woorde verskuil ... jou siel is mooi,en jou woorde maak my hart lig.Ek hoor musiek ... so trots op jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top