Gedigkompetisie: huis, woning, tuiste

  • 15

LitNet – Die boekehuis met baie wonings.
Vertel vir LitNet van jóú huis.

Hierdie kompetisie het reeds gesluit. Hier is die aankondigings van die kortlys en wenners.

Mense vind hul tuiste op verskillende plekke – in ’n dorp of huis, die natuur, geloof, ’n ander persoon, die liggaam wat die siel huisves of in die wete dat die wêreld net ’n tydelike huisvesting is. Vir party is dit ’n plek waarvan hulle wil wegkom, vir ander ’n plek om na terug te keer.

Nelson Mandela het gesê: “Daar is niks soos om terug te keer na ’n plek wat onveranderd gebly het en om te vind op watter wyses jy self verander het nie.”

Skryf ’n gedig oor jou huis, jou woning, jou tuiste. Jy kan die tema so letterlik of figuurlik interpreteer soos jou woorde dit toelaat.

LitNet plaas deurlopend die inskrywings soos dit ontvang word. Lees die inskrywings hier.


Pryse

Wenner: R1 000 kontant en ’n boekpak wat die volgende boeke bevat:

collage_1

Boeke geborg deur LAPA, Human & Rousseau, Lux Verbi en Tafelberg.

Naaswenner: ’n boekpak wat die volgende boeke bevat:

collage_2

Boeke geborg deur LAPA, Human & Rousseau, Lux Verbi en Penguin Random House.


Hier is ’n paar aanhalings om jou kreatiewe denke aan die gang te sit:

 

Mammie
            ek het gedog
as ek eendag huis toe kom
sal dit onverwags so teen skemerdag wees
met jare se opgegaarde rykdom
op rûe van ysterkoeie

Uit: “Die hand vol vere” – Breyten Breytenbach


 

elementêre huis

ek wil graag vir jou ’n huis bou
’n huis nie ’n woning nie ’n woning is te deftig nee ’n huis
met vier mure
met ’n rooi dak
met ’n rokende skoorsteen

’n huis sonder deure
’n huis sonder vensters
ons sal die wêreld buite hou
so ’n huis

’n huis waarin net ons sal wees
net ek en jy
niemand anders nie
niemand nie

ek sal vir jou ’n huis gee
ons sal vergeet van baie dinge
van lewe van dood van verwoesting
dat bestaan daarbuite moontlik mag wees

ek wil vir jou ’n huis bou
’n huis sodat ons kan vergeet
’n plek iewers tussen die planete
waarin ons mekaar dae en nagte kan opsom

DPM Botes


 

Jan Tuisbly se spannetjie

deesdae kies baie vuurvlieë
koers na Kanada of Australië
maar ons geankerdes sal gekreef
in singels van die steenbok leef;
met ’n suiderkruis opgesaal
ver van huis ’n halfrond afgedwaal,
gepos deur ’n verdwaalde skippie
op Afrika se soutste tippie,
’n spesie wit en vreemd
ingeburger tuis ontheemd.

Etienne van Heerden


 

“Die woude roer, die water roei verwaarloos
Toemaar, toemaar, toe
Dit is stil in die huis

En dis veilig onder jou plafon
Met jou vreemde klanke
En jou vreemde son
Ek is broos soos die waarheid vir ’n leuen
Sê my waar is jou verliefde heen”

Uit: “Bittermaan” – Danie du Toit (Spoegwolf)


 

Ek voel die Tyd soos ’n gewas wat aanhou vreet.
Waar is die dag? Waar die geluk? Wie weet?
Die tram staan stil. Ek stap na huis. Ek moet gaan eet …

Uit: “Tram-ode” – Uys Krige


Hoe om in te skryf:

Stuur jou gedig(te), naam en adres na skryfwerk@litnet.co.za, met die onderwerp “Gedigkompetisie: Huis”. Jou inskrywing moet ons voor of op 28 Februarie 2017 bereik. Gedigte sal aan ’n keuringsproses onderwerp word.

Reëls:

  • Die werk moet jou eie wees en nog nie vantevore elders (insluitend sosiale media soos Facebook) verskyn het nie. Geen vertalings van ander se werk sal aanvaar word nie.
  • Maak seker dat jou naam, selnommer en posadres jou gedig vergesel.
  • ’n Maksimum van vyf gedigte per persoon sal aanvaar word.
  • Lengtebeperking: maksimum 250 woorde per gedig.
  • Alle goedgekeurde inskrywings sal op LitNet verskyn.
  • Die beoordelaars se besluite is finaal.
  • 15

Kommentaar

    • Hallo Annemarie, ons aanvaar inskrywings in Engels ook. Vriendelike groete, Liné Enslin, redaksionele assistent

    • Hallo Jan. Soos in die afdeling "Hoe om in te skryf" hier bo genoem, kan jy jou inskrywing aan skryfwerk@litnet.co.za stuur, met die onderwerp "Gedigkompetisie: Huis". Vriendelike groete, Liné Enslin, redaksionele assistent

  • Die lighuis, die man en die mot

    Rys op rots, ferm in die see.
    Plegtig, seker, sy skyn doelgerig
    en brandstraal haar lewenslig.

    Beslis, bewaker van die fondament.
    Hy, die stralekrans se stoker,
    bestendig waar die storms moker.

    Glimmer glans, jy's broos soos kant.
    Verguld teen wolkerand,
    aangedryf, verslind deur stormwind.

    Wat jy speur, soek en vind,
    maan se kind,
    is geen steen en muur,
    maar wat skuil in haar: lig en vuur.

  • Kan ek inskryf met oorsese posadres? Of is dit net vir SA burgers wat in SA woonagtig is? Dit sal my eerste SA inskrywing wees. Dankie😀

    • Hallo, Don. Enigiemand kan inskryf, maar omdat die pryse boekpakkies is, gaan ons ook 'n Suid-Afrikaanse posadres nodig hê waarheen dit gestuur kan word indien jy een van die wenners is. Vriendelike groete, Liné Enslin, redaksionele assistent

      • Wonderlik! Baie dankie Liné! Ja ek het SA adres wat ek kan insluit. Ek is nou so opgewonde! Groete uit Frankryk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top