
Dit was voorwaar 'n historiese oomblik, Saterdag 14 September. Net mooi 'n jaar nadat Small die Hertzogprys ontvang het (12 September 2012, om presies te wees), het hy besluit om sy stilte te verbreek. Saterdagmiddag om 14h00 het hy aan die sy van sy vrou, Rosalie, saam met die ATR-voorsitter, Michael le Cordeur, die volgepakte markiestent by die Breytenbach Sentrum op Wellington, sy tuisdorp, binnegestap. Ekstra stoele en sitplek moes inderhaas gereël word. Ander ATR-lede in die gehoor was Danny Titus (ATKV), Danie van Wyk (SBA) en Ria Olivier (projekbestuurder). Ook in die gehoor was skrywers soos André P Brink, Wilma Stockenström en Riana Scheepers. Die voormalige rektor van die UWK (Richard van der Ross), waar Adam Small professor was, het ook kom groet; so ook vriende uit sy jeug, soos auntie Nellie Cavernelis en auntie Sylvia le Cordeur. Fotograwe, TV-spanne en sakemanne, studente en onderwysers, en sommer net gewone Welingtonners wat kom groet het.
In sy verwelkomingswoord het die voorsitter van die Breytenbach Sentrum en die ATR gesê: "Een van Wellington se grootste seuns het hystoe gekom (ala Kanna)."
Vir dié wat gewonder het: ja, Adam is ouer en skraler en ly aan ontsteking van die spysverteringskanaal. Maar sy kop is so helder soos altyd, sy woorde so pittig en skerp soos altyd – en selfs meer, as dit kan.
Foto's: Gerdus Senekal