Weg

  • 1

LitNet se Stemme is ’n reeks van 10 kort, kragtige monoloë, geskryf deur gevestigde en opkomende dramaturge, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, KKNK en NATi.

In Carlo Daniels se Weg speel Daniels die rol van ’n gevangene wat besin oor dinge soos manwees, vaderskap, skuld en selfverwyt. Andrew Buckland het die regie behartig.

Hier vertel Carlo Daniels van sy samewerking met Andrew Buckland tydens die produksie van Weg:

Weg

’n Man, ’n klip, of boem, ’n man sterk. ’n Pa, broer, ’n oupa. ’n Man is ek wat ’n seun is van iemand, ’n pa van ’n laaitie.

Ek vóél soes ’n man voel. Ek huil’ie oo dinge wat see maak’ie. Huil kom vanself een kee ’n jaa; ek’t nog nooit ’n jaa geskip’ie. Om eerlik te wies, daa is ’n paa sagte dele an my. Baie van my liewe sal ek different maak as ek kon. Ryk wil ek’ie wiesie, ek verlang nogal’ie klompe geld hettie, maa krag admit ek sal nice wies … miskien … ek wiet’ie. Nie krag om anders te kan almal rule nie, maa net krag genoeg om’ie heeltyd in’ie donke te wies’ie. Strength of mind over matter. Krag net om hulle happy te maak, nou ees? Sy is nou deur my “weg”. Toe gelukkig ek was, was ek nie gelukkig nie. Nie gewiet wat is genoeg. Binne was ’n monster gebore uit’ie donke van onderdrukte pyn, goedjies wat my se selwes tot in’ie kluise van my gestoot het, daa bou golwe.

Ver diep uit my grotte roep stemme heeltyd, stemme bly skree, sing, praat, maa fluiste meestal. Heeltyd my insecurities oo’ genoeg wies, ek, altyd, minder as genoeg. Wat is ooit genoeg? Sy is nou deur my weg.

Ek onthou deur my, haa gesig huil. Êrens in my krake, my gange, kamers, in my kas in my laaie, diep binne was gelukkig ek, keer op keer as sy huil, dit het my iets gegee. Vol gemaak die leeg. Tot die laaste huil van haa. Die stilte van haa. Ek klem nou nog my vuiste soes ek gedoen’t in my woede, dis net leeg nou dat sy weg is. Leeg, alleen, opgesluit in my skuld.

Incomplete ’n man is ek. Times two sonder haa. Ek is ’n swak bastard. Ek voel ek kan huil, wiet jy? Skree en huil gelyk, in my speeksel verstik, my kop opslaan na die berge terwyl die water van skuldgevoelens rol van my gevriet, as ek nog een oo’ het. Ek wil teen die sel se mure skop en slaan, wat kan ek nog doen in dié plek? Spoeg, oral kak en lê daa’in en mamok. Begin sny aan myself. Hoekom het ek die wêreld onder my eie voete uitgeruk? Deur my is sy weg!

Ek wil ’n pa wies, leer, en stories vertel. So wil ek geëindig’t. Ek liewe in die stories wat ek my laaitie vertel’t, ek droem, ek tik aan wonderwerke, ek fluiste in my slaap. Die nag is my ienagste virend, wanneer ek tyd kry om te praat met my se self. As ek gesuip is, kan ek baie praat, maa hie is mossie wyn hie binne nie. So stilte … dis al wat ek soek, seer maak my gedagtes, dit lag my uit: die geeste van’ie dag. Ek is bang vir agteroo’ val deur die donke ’n ewigheid, of brand, wat ook al gebeur in hel. Wanne gaan die geraas stop? Die voëltjies, duisende, die hok verlaat? Is ek nog ’n man of iets anders? Miskien is ek net ’n storie wat eindig met: So sal jy jou les leer. Deur my is sy dood. My se selwes volgende.

***

Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die Stemme-monoloë word in die volgende nege weke op hierdie blad vrygestel:

Stemme

Lees hier meer oor die Stemme-projek:

Stemme: LitNet se monoloogprojek met Suidoosterfees, KKNK en NATi

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top