Wees bevrees: Genesis deur Chris Carter, ’n lesersindruk

  • 0

Skrywer: Chris Carter
Titel: Genesis
Uitgewer: Simon & Schuster
ISBN: 978-1-4711-9757-4

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Voordat jy Chris Carter se nuutste boek Genesis oopmaak, gaan sluit jou voordeur en maak seker al die vensters is op knip. Want die vrees klim uit die bladsye van sy boek en sluip saam met jou onder die komberse in.

Ná ’n dosyn Robert Hunter-rillers agter sy naam het die 65-jarige Sunday Times-blitsverkoper sy tegniek om lesers subtiel vreesbevange te maak, vervolmaak. As ’n voormalige kriminele sielkundige met meer as 100 sake van reeksmoorde, grumoorde en geharde misdadigers onder sy belt, weet hy hoe om met ’n paar sinne – sonder dat hy die bloed en derms in die fynste detail uitryg – lesers te vang: hoek, lyn en sinker. Daarna begin hy jou met nege-en-negentig kort hoofstukke inkatrol sodat jy tevergeefs rondspartel om te werk, maar om die dood kan jy nie die boek neersit nie.

...
Genesis het my so vreesbevange gehad, ek wil beslis nie ’n karakter in een van sy boeke wees nie.
...

Die eerste hoofstuk, waar die moordenaar met die karakter Melissa Hawthorne kommunikeer, het my aan die vroeë werke van maestro Stephen King herinner. Pure vrees! Ek kon die boek eers in daglig voltooi.

Die skrywer bou op dié vrees met vlymskerp opmerkings. “Do you believe the Devil exists? ... The reason I ask, Detective Hunter, is because if you don’t ... you might change your mind once you get here,” verduidelik die karakter Speurder William Barnes. En dit is nog voordat ons ’n voorskou van die moordtoneel gekry het!

In ’n neutedop: ná ses maande op haar eie ontmoet Melissa ’n aantreklike man, Mark, in die Broken Shaker-nagklub tydens haar beste vriendin se verjaarsdag. ’n Paar uur later hang sy in haar kombuis aan ’n vishaak.

Robert Hunter en Carlos Garcia moet vasstel of dit ’n haat-moord is.

Hoe meer hulle oor Mark uitvind, hoe meer kom hy verdag voor. En soos in alle goeie reeksmoordboeke is daar nooit net een lyk nie. Die karakter Kirsten Hansen is volgende...

Genesis het my so vreesbevange gehad, ek wil beslis nie ’n karakter in een van sy boeke wees nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top