
Titel: We inherit the fire
Skrywer: Kagiso Lesego Molope
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776393244
Sommige boeke is bitter moeilik om te lees as jy tot die groep van voormalige onderdrukkers behoort.
Kagiso Lesego Molope se stem is sterk genoeg dat jy meegevoer word deur haar woede en jou vir ’n wyle verbeel jy behoort tot haar skare sterk vroue met vuur in hul are en melanien in hul vel. Die dapper storievertellers en kamerade wat geveg en gely het vir vryheid, terwyl slegs manlike comrades se name gedenk word. Dit begin altyd met die vroue, sê hulle in die township. “Any story worth telling must begin with the women.”
Die storie: Kelelo Melodi se ma, Dolly, is ’n stuggle-heldin. ’n Joernalis het ’n foto van Dolly Malaka geneem waar sy as tiener haar wysvinger teen ’n polisieman se voorkop druk. Die foto het ikoniese status bereik, en Dolly ook. Sy is op 16 tronk toe gestuur vir terrorisme en was vier en ’n halfjaar agter tralies. Eintlik het sy nooit werklik die tronk verlaat nie. Want sy is stukkend. “How do you become a mother and remain a comrade – a soldier? But it’s the same thing. It’s exactly the same thing.” Sy is ’n emosioneel afwesige ma: “Maybe there isn’t so little to give your children. Maybe there is a lot, but you can’t know if you never had a chance to grow into womanhood on your own terms.”
Daar is dae wanneer Dolly nie uit die bed kan opstaan nie. Die tronk leef voort in haar: die vrot kos, die reuk van ontlasting en bloed, die gille van babas wat kort ná geboorte weggeneem word van hulle ma’s, die hoonlag van die sadistiese bewaarder, Potgieter.
Toe Dolly vrygelaat word, hunker sy na ’n huis in die township, met ’n tuin, ’n man en kinders. Sy wou nie meer agiteer nie. Ongelukkig was haar man, King Melodi, begogel deur haar aktivistestatus. Sy plan was dat hulle saam in die struggle sou wees. Hy het haar haar struggle-verlede beny; hy was jaloers daarop. Wanneer hulle by ’n sjebeen instap, het die mense háár naam geroep, nie syne nie. Hy wou die land verlaat om opgelei te word as soldaat, as comrade, maar sy het gesmeek dat sy en die kinders hom nodig het. Hy het gebly en skatryk geword, met heelwat besighede. Maar hy het nooit meer met haar oogkontak gemaak nie. Sy het toenemend afgesny gevoel van haar man en kinders – vier pragtige dogters wat sy graag in nuwe klere geparadeer het. Sy het, soos daar van haar verwag is, die illusie van ’n perfekte gesin lewend gehou.
Dolly het geen verhouding met haar ma gehad nie. Haar ouma, Oumama, was haar ma. Haar ma en tantes is haar vier dogters se ma’s. Ek weet nie of dit deel van die Tswana-kultuur is of tot hulle familie beperk was nie.
Kelelo word, soos haar ma, al hoe stiller. Almal beny haar haar beroemde ma, maar hulle weet nie van die stiltes in haar huisgesin nie. Dan word sy na ’n privaatskool gestuur waar daar maar ’n handvol swart meisies is. Die nonne en onderwyseresse is streng: Slegs Engels mag gepraat word, en jy moet werk aan jou aksent. Kelelo floreer nie. Die gesin se geld koop tot ’n mate vryheid, soos die vryheid om in ’n vyfsterhotel tuis te gaan, maar hulle word stief behandel – dis die 1980’s, voor die koms van die demokrasie.
Dit was nie altyd so nie, vertel haar ouma. Voor die Groepsgebiedewet en die stootskrapers het hulle in ’n gesellige buurt gewoon met papajabome en ’n groot groentetuin. Hulle bure was mense van verskillende kleure en hulle kon heelwat tale praat. Daar is baie waaroor haar ouma en tantes swyg, onder andere oor haar ouma se ligte vel en reguit hare.
Die leser beleef die verhaal om die beurt deur Kelelo en Dolly se oë.
Toe die verkiesing uiteindelik nader kom, sê Dolly se man vir haar: Die mans wat in die buiteland opgelei is en vryheidsvegters was, die comrades, gaan die regering oorneem. En Dolly antwoord: Hulle weet nie hoe hard het ons wat by die huis gebly het, geveg nie. “Almal weet hoe hard jy geveg het, kry hy die laaste woord in.
We inherit the fire is ’n boek oor die kameraadskap van vroue, draers van die geskiedenis. In die tronk is Dolly, nog maar ’n kind, onder die vlerk geneem deur ouer vroue wat haar bemoeder het. Self weet sy nie hoe om te bemoeder nie. Dis ’n roman oor alles wat van mense gesteel is en nooit teruggegee kan word nie, soos grondgebied. Oor die terloopse wreedheid van wit mense. Die opofferings van geslagte vroue wat moes voortgaan met hul lewens. Die manier waarop gevangenskap ’n mens se siel verkneg en nooit bes gee nie. Kelelo se struggle-heldin-ma is nooit ingestel op haar nie, eerder op beginsels, op swart kinders in die algemeen. Toe sy en twee maats in ’n wit bus geklap en verneder is, is haar ma woedend:
[But she] wouldn’t ask how I was, she wouldn’t hold my hand, she wouldn’t tell me everything would be okay. My mother would be angry that a Black girl was slapped, not that her daughter had been crying for hours. She would be enraged by the injustice of the country inflicted on Black children.
So herhaal die geskiedenis hom. Mense sal dieselfde wonde toedien wat hulle ontvang het. Toe die polisie Dolly kom haal het, was haar ma, pa, ouma en tantes nie by die huis nie. Hulle was besig om ander swart kinders te beskerm wat in gevaar was.
Sy dink na oor die nuwe geslag, die born-frees:
On the other hand, envying them the privilege and safety of not knowing the cost of war on the families of soldiers, I think how very deeply I sometimes hate this country. In the night I wake up with this fire blazing inside me, spreading to the tips of my fingers and toes. I want to burn everything, for what it has done to my family … And in those times I am afraid I have inherited my mother’s mind: the fire, the fury, the weight of the country’s past.
Hoeveel geslagte sal dit verg – en sal hierdie wond ooit genees? Min of meer al wat ons kan doen, voel ek soms, is om na ander se stories te luister en ’n kykie in hul lewens te kry.
Kagiso Lesego Molope woon en werk nou in Kanada.
Lees ook:
We inherit the fire by Kagiso Lesego Molope: A reader’s impression

