Watter party sal rêrig die sake van Suid-Afrikaners vorentoe vat ennie net volgens rasgroepe nie?

  • 2

Olivia M Coetzee (foto verskaf)

Oorie afgeloepe wieke praat ek met ʼn paa mense, net om uit te vinne hoe hulle staan met die elections wat gat gebee oppie 8ste Mei. Die een onnerwyser sweer hulle gattie stemmie. Ek gil toe en vra: “Maa hoe kan djy nie wil jou stem gat neesittie, dissan soe belangrik!” Die onnie antwoord en vra toe vi my: “Watsie use, ek wôd tog anyway nie raakgesien nie.”

Nou dit lat my heeltemal voel soes ek innie vekere parallelwêreld liewe. Die feit dat ʼn onnie, ‘n ligdraer van ôs se gemeenskap, voel dat daa issie ʼn doel om te gat stemmie.

Ek het toe later innie wiek ʼn bietjie meedere hoep gekry om te hoo hoe gereed en vol vuu ʼn groep ou tannies is om te gat stem, ennie vi wie nie, maa vi Good. Die een sak af: “Ôs soek ʼn kallid president. Daa was noggie ʼn kallid presidentie. Ôs soek ʼn kallid president.”

Nou net met daai kot gesprek kan mens sien dat mense nie rêrig vestaan hoe politiek wêkie. Wan selfs as allie kallids moet hulle stem druk, sal daa nog steedsie genoeg stemme wies om ʼn kallid president oppie troon te sittie. En ek bedoelie dis wat ek soek, of wat ek promotie. Maa met dit wat daai ou tannie gesê het, kan mens oek sien hoe diep die slote tussen rasse lê. Ek gloe stellig as mens vi Steve Hofmeyr moes vra wie moet president wies, dan sal hy wil iemand sien oppie troon wat lyk soes hy. Iemand met sy velkleur en wat sy stem sal oplig.

En dis al wat mense soek. Amal van ôs. Om gehoo te wôd, en raakgesien te wôd, en om te voel soes ôs menslikheid raakgesien wôd.

Kyk maa net virrie ANC: ek mien hulle moes mos nou die politieke party gewies het wat ôs land in vriede na ʼn bieter tyd toe geniem het, maa dinge gat maa nog net die hele tyd opdraans. Maa die mederheid Suid-Afrikaners stem maa nog steeds vi hulle. En hoekô is dit soe? Miskien stem hulle oek vi mense wat soes hulle lyk. Maa stem mense rêrig virrie ANC ommat hulle soes mekaa lyk? Of gannit oorie feit dat die ANC annie vookant vannie struggle geloep het, soes hulle baklei het virrie vryheid wat amal sinne is vedag.

En dit was natuurlik riede genoeg om virrie ANC te stem in 1994, in 1999, maa hie vanaf 2004 toe moes ôs mos nou beginte wakke skrik het. En ôs hettie, wan soevel soesie anner partye gedink het dat dit hulle kans sal wies ommie leier te wies van Suid Afrika, hettie ANC maa nog net elke kee dit gewen. En dis soes die meer hulle gewen het die minner het hulle omgegie wat hulle met die land se geld en infrastruktuur doen. Maa mense het nog vêder gestem, wan dis die party wat ôs uitie donker in die lig in gebring het, of eeder uitie servant’s quartes uit gebring het tot om selfie mêdem te wies. Die kultuur om nie ʼn gegiewe pêd innie bek te kykie lyk nou soes die pêd nie mee warrie nie en net skop en trap soesit smaak.

Wan dis siekelik nie genoegie om ʼn groep nog steeds te onnersteun wattie brug gebou het, maa nourie brug in sy moeder en vader in bommie.

Maa wat is eindelik daa buite vi ôs? Watter party sal rêrig die sake van Suid-Afrikaners vorentoe vat ennie net volgens rasgroepe nie. Toe president Ramaphosa die anner dag in Citrusdal gat votes soek het, het hy gepraat van hoe die ANC sal sôg lattie mense nie mee met dop betaal wôd nie. Dis baie snaaks om te sien hoe die partye oo mekaa nou val ommie stemme vannie mense oppie grond te kry. En allie leë beloftes wat nou gemaak wôd soedat die mense die kruisies langs hulle party se naam kan tieken. Ek wiet oekie of Patricia se party dit sal kan helpie, wan al is haa hart oppie regte plek, is politiek se kultuur maa net soes dit is.

Maa op daai noot wil ek vra: Julle wiet mos nou waa julle harte lê, en vi wie en wat julle gat stem. Maa dink rêrig oorie saak, en maak sieke dat julle kruisie innie regte boksie in val, nie ommat julle getrou is oppie veliede nie, maa watter party en watter groep mense sal die land virrie neks vyf jaa op ʼn bietere pad kan lei, die party wattie beste strategies het nie vi net ʼn siekere rasgroep nie, maa vi Suid-Afrikaners, wan het djy al gesien hoe heppie die vibe is wanner ôs amal, maakie saak watter apartheid label ôs dra nie, agterie Suid-Afrikaanse vlag staan?

En dis wattie einddoel moet wies, vi ôs amal om te strewe na daai heppieness toe. Dis hoekô daa waarde is om jou kruisie te loep druk, en ek hoep om jou daa te sien.

Ek is Livy vannie Rive, en dankie vi al julle onnersteuning.

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Elma, dankie. Dis mos die Suid-Afrika wat ôs moet hê, nuh? Een waa amal mos voel soes ôs belong. Lol ... wan ôs wat kan sien wiet tog die ekonimie het dit norrag ... lekke dag vi jou ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top