Wat is die doel van strafoplegging? Dis een van die sentrale vrae waarmee elke voorsittende beampte gekonfronteer word wanneer hy/sy besluit oor die lot van ’n persoon wat skuldig bevind was aan ’n misdryf.
Daar is verskeie redes waarom veroordeelde persone gestraf word. Dit moet dien as afskrikking vir ander wat dink hulle kan ook die wet oortree. Dit moet die gemeenskap beskerm teen oortreders. En die oortreder self moet besef dat sy/haar gedrag nie aanvaarbaar is nie en gevolge dra. Maar die straf behoort van so ’n aard te wees dat die oortreder met hulp terug in die samelewing behoort te kan integreer.
Soms is die ootreding egter van so ’n aard dat die enigste aanvaarbare straf is om die oortreder uit die samelewing te verwyder. En dis hier waar ons strafstelsel problematies raak. Gevangenisstraf behoort die laaste en nie die eerste stop nie te wees wanneer daar oor vonnis besluit word. En tog sit ons met oorvol tronke.
Nou praat ons nie eens van beskuldigde persone wat in hegtenis aangehou word omdat hulle nie borg kan betaal nie, en dus alreeds in effek tronkstraf uitdien op ekonomiese gronde.
In sommige lande, soos Nederland, staan tronke leeg. Daar is eenvoudig nie genoeg veroordeelde persone wat tronkstraf opgelê word nie. Natuurlik kan die diepgaande verskille tussen die Nederlandse en Suid-Afrikaanse konteks nie binne die beperkte spasie van hierdie rubriek bespreek word nie. Ek volstaan maar net daarmee dat die filosofiese benadering oor watter misdade voor die hof gebring behoort te word, verskil. So ook die benadering oor hoe beskuldigde en veroordeelde persone hanteer moet word.
In ons stelsel word jeugdiges aangehou. Volwassenes wat van minder ernstige misdrywe soos winkeldiefstal aangekla word, word tronkstraf opgelê. Mense wat potensieel binne die samelewing gerehabiliteer kon word, word uit die samelewing verwyder.
Uit my eie ondervinding weet ek dat jeugdiges wat in die aanhoudingstelsel beland, selde gerehabiliteer word. Baie keer is die aanhoudingsfasiliteite net hul opleidingskool voordat hulle tot ernstiger misdade gradueer. Volwassenes met rekords het moeite om werk te bekom, wat hulle forseer om terug te keer na ’n lewe van misdaad.
Tronke is oorvol. Daar is te min beddens en te veel aangehoudenes. Daar is beperkte pogings om gevangenes te rehabiliteer. Geweld binne tronke vier hoogty. In van die groter tronke is bendes en nie die bewaarders nie in beheer van die tronk. Menseregte word heeltemal agterweë gelaat in die proses. Sosiale afstand is ’n grap. Higiëne is in baie gevalle net teoreties.
Dis die konteks waarbinne die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir menseregte kommentaar lewer op aanhouding in gevangenisse. Hulle beveel aan dat die druk op tronke verlig moet word, sodat COVID-19 meer effektief bestry kan word.
Dis in reaksie hierop dat daar verlede week aangekondig is dat 19 000 laerisiko-gevangenes in Suid-Afrika vrygelaat gaan word op parool.
Maar wat beteken dit in praktiese terme?
Die paroolstelsel is oneffektief. Daar is te veel gevangenes en nie genoeg korrektiewe beamptes nie. Korrektiewe vonnisse is baie keer ’n grap. Die gevangene daag op by die plek waar hy moet aanmeld, teken in en verdwyn. Daar is niemand om toesig te hou nie. Of baiekeer daag hulle eenvoudig nie op nie en dit neem weke of in sommige gevalle maande voordat die korrektiewe beampte agterkom hulle vermis iemand wat moes aangemeld het.
Korrektiewe beamptes is alreeds onder druk met te veel gevalle. Nou word daar in ’n tydperk van 10 weke nog 19 000 ekstra gevalle by hul werkslading gevoeg. Daardie gevangenes gaan net eenvoudig sonder toesig verdwyn. Maak nie saak wat die amptelike verklaring is nie, hulle word nie op parool vrygelaat met die normale paroolvoorwaardes nie. Wie gaan seker maak dat hulle onder huisarres bly? Wie gaan seker maak dat hulle by korrektiewe programme inskakel?
Die volgende vraag is natuurlik wie hierdie bevoorregte groep is wat vrygelaat word. Die amptelike verklaring lui dat net laerisiko-gevangenes wat alreeds die minimum straf uitgedien het voordat hulle vir parool in aanmerking kan kom, of wat dit binne die volgende vyf jaar sou bereik, in aanmerking kom. Spesifiek uitgesluit is gevangenes wat tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is, en sekere geweldsmisdade, waaronder verkragting, moord, poging tot moord, geslagsgebaseerde geweld en kindermishandeling. Dit beteken witboordjiemisdadigers kom in aanmerking vir die (kom ons noem dit maar) COVID-parool. So ook inbrekers, dwelmhandelaars, rowers (insluitend gewapende en transito-rowers), tensy die kriteria aangepas en verfyn word.
Die media berig dat net sg petty crimes in aanmerking kom. Hierdie bewoording is nooit in die amptelike persverklaring gebruik nie. Neem ook in ag dat enige persoon wat binne die volgende vyf jaar hul minimum aanhouding sal bereik voor hulle vir parool oorweeg word, in aanmerking kom. Behalwe met spesifieke statutêre uitsonderings, kan die distrikshof net ’n maksimum van drie jaar gevangenisstraf oplê. Dit beteken dat ten minste sommige van gevalle wat nou vir COVID-parool oorweeg word, waarskynlik oortreders is wie se oortredings ernstig genoeg was dat hulle in die streekshof of selfs hooggeregshof gevonnis was.
En hoekom was die groep wat alreeds die minimum straf uitgedien het om in aanmerking te kom vir parool, nie voorheen oorweeg vir parool nie? Moet ons aanneem dat hulle nie in aanmerking gekom het vir parool nie omdat die tronkowerhede hulle nie as voldoende gerehabiliteer beskou het nie?
Wat is lae-risiko daaromtrent?


