Persverklaring: WAT spog met drie beskermpersone

  • 0

Ter afsluiting van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se eeufeesviering is daar vanjaar vir die eerste keer drie bekende persoonlikhede uit die Afrikaanse kultuurwêreld as beskermpersone van die WAT se Borg ’n Woord-projek aangewys. Johan Badenhorst, Jaco Jacobs en Sophia Kapp is op 16 Oktober, Internasionale Woordeboekdag, aangekondig as beskermpersone vir die volgende jaar tot 16 Oktober 2027.

Johan Badenhorst is bekend vir sy dokumentêre avontuurreeks Voetspore waarvan daar oor die afgelope 26 jaar 19 verskillende reekse vervaardig is. Voetspore het Johan en sy span geneem na die uithoeke van die Afrika-vasteland, en meer onlangs is Madagaskar, Indië, Suid-Amerika en Rusland ook besoek. Johan het reeds dertien boeke, waaronder twee kookboeke, geskryf oor sy avonture. Volgens Johan is hy baie gelukkig om die taal wat vernoem is na die kontinent waar hy woon, te praat as moedertaal. “Soos wat dit ’n voorreg is om ’n beskermpersoon te wees, so is dit ’n verpligting om die stories wat ek vertel in Afrikaans te doen. Suiwer, ongeveinsde, onpretensieuse, gewone Afrikaans.”

Jaco Jacobs het al meer as 300 boeke vir kleuters, kinders en jong volwassenes die lig laat sien, en nagenoeg drie miljoen kopieë van sy boeke is verkoop. Daarbenewens het hy ook reeds meer as 330 kinder- en jeugboeke in Afrikaans vertaal. Onder Jaco se talle bekronings tel 39 ATKV-Kinderboektoekennings. Jaco beskou dit as ’n reusevoorreg om een van die beskermpersone te wees. “As liefhebber van Afrikaans kan ’n mens jou skaars die taal sonder die WAT indink. Die woordeboek het sy vinger op die polsslag van ons taal én dit is deel van die hartklop van Afrikaans.”

Sophia Kapp is ’n bekroonde Afrikaanse skrywer, taalpraktisyn en dosent. Sy het verskeie jare op die Taalkommissie gedien en was tot onlangs ViVA se taaladviseur. Sophia deel daagliks taalwenke op sosiale media, dikwels met die WAT as bron. “Waarde van woorde, woorde van waarde, woordwaarde, woordwonder, woordknus, woordkuns, woordeskat, woordskat, woordkamer, skatkamer, skatjagter, skatkis. Dit is wat my WAT is.”

Die beskermpersone word aangewys op grond van hulle positiewe bydrae tot Afrikaans en omdat mense wat lief is vir Afrikaans met hulle identifiseer. Die fondsinsamelingsprojek is vanjaar reeds in sy sewentiende jaar. Vorige beskermpersone sluit in: David Kramer, Charlene Lackey, Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, HemelBesem, Tracy Lange, Laurika Rauch, Dawie Roodt, Amanda Strydom, Hannes van Wyk, Amore Bekker, Frazer Barry, Rudie van Rensburg, Kabous Meiring en Frank Opperman.

Dit kos R100 om ’n woord te borg en R5 000 om dit eksklusief te koop, dan behoort daardie woord net aan jou. Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en geborgde of gekoopte woord, asook toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop. Boonop word jy ingeskryf vir ’n gelukkige prystrekking van R25 000 geborg deur Sanlam.

Gaan na die webwerf www.wat.co.za en klik op Borg ’n Woord. Deur ’n woord te borg of te koop werk jy mee aan die dokumentering van die Afrikaanse taal in sy wydste omvang.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top