
Prent: Canva
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Ons land is geskep uit teenstrydighede. Sommige dele lyk asof dit uit die Eerste Wêreld kom, met daarnaas ander dele wat amper stereotipies Derdewêrelds is.
........
Wat hy in effek sê, is dat dit moontlik is vir twee uiteenlopende idees om tegelykertyd waar te wees.
........
Ons leef daarmee saam; ons aanvaar dit tot so ’n mate dat ons meesal nie eens meer die teenstrydighede opmerk nie. Dit het deel van die verweefdheid van ons bestaan geword. Die gemak waarmee ons dit aanvaar, beteken natuurlik ook dat ons nie regtig gemotveerd is om enigiets te verander nie. Daarom het ons disruptors nodig. Hierdie afgelope naweek het ek twee disruptors in aksie gesien. Toevallig, of dalk nie, was albei Engels.
Die eerste was eerwaarde Alan Storey, die wenner van die 2025-Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir sy boek The bell, banners and blasphemy, ’n boek wat in breë trekke handel oor die geelbanierveldtog wat die Metodistekerk op Groentemarkplein in Kaapstad oor ’n aantal jare gebruik het om die aandag op ongeregtighede in die algemeen en vergrype van die regering in die besonder te vestig. Tydens sy aanvaardingstoespraak het hy gesê dat as hy vandag ’n geel banier moet ophang, die banier die volgende dinge sou probeer sê: Die eerste is dat daar geen liefdevolle, versoenende manier is waarop enigeen “Kill the Boer” kan sing nie, en dat elke regdenkende mens dit onmiddellik moet ophou sing. Die tweede ding is dat daar geen volksmoord in Suid-Afrika plaasvind nie, en dat hy veral die NG Kerk uitdaag om in die openbaar daaroor standpunt in te neem, want hulle stilte dawer.
Ons is so gewoond daaraan om argumente op te stel met ’n either/or-uitgangspunt dat ons nie eens luister wanneer iemand iets meer genuanseerd probeer sê nie. Dis byvoorbeeld tog moontlik om te dink dat Israel besig is om heeltemal onwettig op te tree teenoor Palestyne, en om te glo dat die aanvalle van 7 Oktober onmenslik was en nooit moes plaasgevind het nie. Wat Storey met sy toespraak gedoen het, was om die binêre idee dat ons óf “Kill the Boer” goedkeur óf glo dat daar volksmoord plaasvind, op die plase, heeltemal op sy kop te keer. Wat hy in effek sê, is dat dit moontlik is vir twee uiteenlopende idees om tegelykertyd waar te wees. Dis moontlik om die liedjie met afsku te bejeën, én om die idee dat wit mense geteiken word vir grootskaalse uitwissing as ’n leuen te verwerp.
Hoe anders sou ons samelewing nie wees indien ons teenstrydighede in ons denke met dieselfde gemak kon versoen as wat ons teenstrydighede in ons daaglikse wandel kan aanvaar nie?
Die tweede disruptor was ’n vrou genaamd Beth. Ek het Saterdag saam met twee vriendinne op Durbanville se wyntoer gegaan. Saam met ons op die toer was ses afgetrede wit mense – drie paartjies. Daar was ook agt jong bruin mense, wat die een vrou se dertigste verjaarsdag en haar verlowing gevier het. Kleur is relevant vir hierdie verhaal. Ek en my twee vriendinne het as simboliese buffer in die middel van die bussie gesit. Die ses ouer mense het voor gesit, en die agt jongmense agter in die bussie. Ons sou sekerlik heeldag so in ons aparte groepies kon gesit het, maar by ons eerste afklimplek het Beth die moeite gedoen om met die agt jongmense geselsies aan te knoop, en toe ook met my en my twee vriendinne. Ek is seker daarvan die alkohol het ook gehelp.
........
Dis kos net een om die status quo te ignoreer om die hele atmosfeer te verander.
........
Teen die derde stop op ons roete het almal gemoedelik saam gesing en saam gesels. Wat begin het met Beth, het uitgebrei dat ons almal onder mekaar begin gesels het. Teen die einde van die toer het ons ’n groepsfoto geneem, en met drukkies en beloftes om kontak te behou uitmekaar gegaan. Ek het geen twyfel dat ek weer van Beth gaan hoor nie. Sy is die tipe mens wat daarin slaag om verby mense se skanse te kom en die menslikheid in ander raak te sien, sonder om vir een oomblik meerderwaardig oor te kom. Dit het ander in al drie groepe die vrymoedigheid te gee om ook uit te reik, sodat ons teen die einde van ons toer nie meer drie groepe was nie, maar een gemoedelike groot groep.
Dit kos net een om die eerste tree te gee. Dis kos net een om die status quo te ignoreer om die hele atmosfeer te verander.
Hoe anders sou ons land, en soveel ander lande, nie wees indien meer disruptors die kans gegun word om oor mure en skeidslyne te tree en mense nader aan mekaar te bring nie? Dit sou die Malemas en die Hofmeyrs ontneem van die suurstof wat hulle nodig het om hul verdeeldheid aan te blaas.


Kommentaar
'n Mens kan nie van die NG kerk verwag om sulke verklarings uit te reik nie. Die NG kerk is te druk besig met hulle studies van homoseksuele mense. Laaste wat ek gehoor het, was die NG kerk se CEO dok Jan Lubbe, ook erg onder skoot van die konserwatiewe faksie onder leiding van oud prof hoofdwaalleraar in die teologie, van Bloemfontein se plaaslike teologieskool.
En van Heer van der Merwe kan mens geen end aan sy kleinlike, koggelende kommentaar oor gelowiges en geloofsinstellings verwag nie.