LitNet het aan ’n paar lesers gevra watter boek of boeke wag op hul bedkassie vir die rustyd tussen Kersfees en Nuwejaar.
Anastasia de Vries antwoord:
Eintlik het ek min tyd vir lees, anders as akademiese geskrifte vir navorsing wat moet klaar. Maar op my bedkassie is twee boeke wat na die eerste lees steeds aan my siel torring, asof ek nog nie alles oor onse menswees ontdek het wat in en agter onse taal leef nie. So ek wil tyd afknyp om dié keer proe-proe te lees, minder uitgevreet agter die magic aan, wat die twee vroue met woorde met Afrikaans aanvang. Ek praat hier van Jolyn Phillips se Radbraak en Valda Jansen se Hy kom met die skoenlappers.
En dalk, as ek dit kan bekostig, tydgewys natuurlik, This is all, the Pillow Book of Cordelia Kenn deur Aidan Chambers. Dit is verstommend wat Chambers met taal doen, dat hy dit regkry om hierdie leser keer op keer tot diep nadenke te stem oor die soort wêreld waarvan sy deel is en wat sy vir volgende geslagte wil nalaat. Ek probeer dié boek minstens jaarliks herlees, al is dit net om my op my tone te hou.