Wat kan Winnie the Pooh ons oor families leer?

  • 0

Wat kan ’n eenvoudige kinderboek ons oor families leer?

Baie van ons het grootgeword met die stories van Winnie the Pooh en sy vriende in die Hundred Acre Wood. Op die oppervlak lyk hierdie stories eenvoudig: ’n beer wat lief is vir heuning en ’n groep vriende wat saam klein avonture beleef. Maar wanneer ’n mens stadiger lees, begin iets anders na vore kom: Tussen die eenvoudige dialoog en speelse avonture skuil daar ’n sagte waarheid oor verhoudings, behoort aan en hoe kinders grootword.

In die Hundred Acre Wood ontmoet ons ’n groep karakters wat almal verskillend is. Piglet is angstig en raak maklik bang; Tigger is energiek en impulsief; Eeyore is dikwels hartseer en teruggetrokke; en Rabbit hou van orde en beheer. Elke karakter sukkel op sy eie manier. En tog gebeur iets merkwaardigs in hierdie klein gemeenskap: Niemand word uitgesluit nie. Selfs wanneer Piglet bang is of Eeyore somber is, bly hulle deel van die groep. Hulle bly behoort.

Hierdie eenvoudige wêreld weerspieël iets wat sielkundiges later sou beskryf as die Verbintenis- of Bindingsteorie (Attachment Theory). Hierdie teorie verduidelik dat kinders emosionele veiligheid ontwikkel wanneer daar betroubare en ondersteunende verhoudings in hul lewens is. Wanneer kinders weet daar is iemand op wie hulle kan staat maak en wat hulle belange op die hart dra, ontwikkel hulle ’n gevoel van veiligheid. Hierdie veiligheid help kinders om die wêreld te verken, hul emosies te reguleer en gesonde verhoudings te bou.

In die stories van Winnie the Pooh funksioneer die vriendskappe in die Hundred Acre Wood amper soos so ’n veilige basis, ‘n familie. Wanneer Piglet bang is, troos iemand hom. Wanneer Eeyore hartseer is, los sy vriende hom nie; hulle bly by hom.

Maar verhoudings bied nie net emosionele veiligheid nie; hulle vorm ook gedrag. Dit is waar die Sosiale Leer-teorie (Social Learning Theory) ons help om kinders se gedrag beter te verstaan.

Volgens hierdie teorie leer kinders gedrag deur te kyk na die mense rondom hulle. Hulle sien hoe volwassenes konflik hanteer, hoe mense met frustrasie omgaan en hoe hulle met mekaar praat. Met ander woorde: Kinders leer gedrag binne verhoudings. Wanneer kinders grootword in omgewings waar hulle empatie, ondersteuning en kalm kommunikasie sien, is hulle meer geneig om daardie patrone self te ontwikkel. Maar wanneer hulle konflik, aggressie of emosionele afstand ervaar, kan ook daardie gedrag aangeleer word.  Dit help ons om iets belangriks te verstaan oor gedragsprobleme by kinders. Gedrag wat soms as ongehoorsaam, uitdagend of ontwrigtend beskryf word, is nie altyd bloot ’n dissiplinekwessie nie. Dit kan ook ’n weerspieëling wees van wat kinders in hul verhoudings ervaar of geleer het.

In Suid-Afrika sien maatskaplike werkers, onderwysers en ouers daagliks hoe groot die invloed van verhoudings op kinders se welstand is. In baie gesinne leef mense onder druk: Ekonomiese spanning, werkseise en sosiale uitdagings plaas enorme druk op families. Juis daarom word dit al hoe belangriker om ruimtes te skep waar kinders emosioneel verbind en ondersteun voel.

My navorsing fokus op ouerskapprogramme wat familieverbondenheid versterk in gesinne waar kinders gedragsprobleme ervaar.  Familieverbondenheid het te doen met die emosionele bande tussen ouers en kinders – verhoudings wat gekenmerk word deur warmte, vertroue, kommunikasie en ondersteuning. Wanneer hierdie bande sterk is, ervaar kinders emosionele veiligheid. En wanneer kinders veilig voel, kan hulle hul emosies beter reguleer, frustrasie beter hanteer en gesonder gedrag ontwikkel. In hierdie sin versterk familieverbondenheid beide die emosionele veiligheid wat deur Verbintenisteorie beskryf word en die positiewe gedragsmodellering wat deur die Sosiale Leer-teorie verduidelik word.

........
As ons weer terugkeer na die wêreld van Winnie the Pooh, sien ons iets eenvoudig maar diep: Die karakters is nie perfek nie. Piglet bly bang, Tigger bly impulsief, en Eeyore bly soms hartseer. Maar hulle bly verbind. En dalk lê juis daarin die belangrikste les vir ons families vandag. Gesonde families is nie families sonder probleme nie.  Dit is families waar mense aan mekaar bly vashou déúr die probleme. Families waar kinders weet hulle word gesien. Families waar hulle weet hulle word gehoor. Families waar hulle weet hulle behoort.
........

As ons weer terugkeer na die wêreld van Winnie the Pooh, sien ons iets eenvoudig maar diep: Die karakters is nie perfek nie. Piglet bly bang, Tigger bly impulsief, en Eeyore bly soms hartseer. Maar hulle bly verbind. En dalk lê juis daarin die belangrikste les vir ons families vandag. Gesonde families is nie families sonder probleme nie.  Dit is families waar mense aan mekaar bly vashou déúr die probleme. Families waar kinders weet hulle word gesien. Families waar hulle weet hulle word gehoor. Families waar hulle weet hulle behoort.

Miskien het Winnie the Pooh dit self die mooiste gesê: “If you live to be a hundred, I want to live to be a hundred minus one day, so I never have to live without you.” Dit is wat  kinders die meeste nodig het. Nie volmaaktheid nie,  maar verbondenheid.

Lees ook:

Geslagsgelykheid in opvoedkundige ruimtes en praktyke: ’n feministies-pedagogiese ondersoek

Geslagsgebaseerde misdade: hoekom nog steeds die dubbelstandaard?

Moraliteit anderkant familieverband: die opkoms van vroeë Christendom

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top