Wat is te siene by Zeitz MOCAA in 2020?

  • 0

..........

“Museums versteek gewoonlik die proses van kuns, maar Zeitz MOCAA wil dit met hierdie uitstalling blootstel sodat die publiek kan insig kry oor wat die kunstenaar voed en inspireer.”

..........

“Kuns moet gevier word,” het Koyo Kouoh, uitvoerende direkteur en hoofkurator van Zeitz MOCAA, verteenwoordigers van verskeie mediahuise op Donderdag, 13 Februarie 2020, verwelkom. “Viering soos lyding is ’n aspek van die lewe, maar kuns is ook gemaak om oorweeg en bespreek te word.”

Koyo Kouoh, uitvoerende direkteur en hoofkurator van Zeitz MOCAA.

Zeitz MOCAA het die media uitgenooi om hul 2020-program tydens die Investec Kaapse Kunsfees bekend te stel. “Ons wou Afrika-kunstenaars ’n kans gun,” het Sakhisizwe Gcina, ’n kurator by Zeitz MOCAA, voor die bekendsteling gesê. “Hierdie is kunstenaars wat internasionaal erkenning gekry het, maar geen erkenning in Afrika gekry het nie.”

“Kuns is egter ook eksperimentering; jy moet probeer en misluk. Dit is hoekom ons verskeie kunstenaars genooi het om hul studio’s in die museum op te stel. Ons was bevoorreg om Kemang Wa Lehulere se Laying bare uit te stal,” het Koyo gesê.

..........

“‘Ons is baie trots om Moshekwa huistoe te bring,’ het Storm oor Moshekwa Langa gesê. Langa is ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat in Amsterdam woon.”

..........

Die konsep agter Laying bare is dat die publiek met die kunstenaar in sy omgewing kan in werking tree. Museums versteek gewoonlik die proses van kuns, maar Zeitz MOCAA wil dit met hierdie uitstalling blootstel sodat die publiek kan insig kry oor wat die kunstenaar voed en inspireer.

Zeitz MOCAA is deel van die Silo-distrik

Koyo het ook erken dat hulle Zeitz MOCAA as ’n opvoedkundige ruimte wil vestig. “Opvoeding, wat verskeie projekte behels, vorm die kern van wat ons hier doen,” het sy gesê voor sy Liesl Hartmann, direkteur van die museum se Sentrum vir Kunsopvoeding, bekendgestel het.

Liesl Hartmann, direkteur van Zeitz MOCAA se Sentrum vir Kunsopvoeding.

Liesl het ’n ambisieuse program voorgestel wat alles dek van skooltoere, naskoolse programme, opleiding vir onderwysers, museumtoere vir kinders, werkwinkels vir gesinne, studentnavorsing en vaardigheisopleiding vir volwassenes elke Woensdag.

“Ons bied werkswinkel vir kinders aan, want ons wil nie hê die uitstalling moet slegs teoreties wees nie. Ons fokus op kwaliteit,” het Liesl tydens haar toespraak gesê. “Jong mense skep kennis net soveel soos volwassenes.”

..........

“Volgens Storm spreek Tracey Rose in haar werke mag direk en onverskrokke aan, en sal hierdie uitstalling op ’n soortgelyke skaal as William Kentdrige se Why Should I Hesitate: Putting Drawings to Work wees.”

..........

Die verskeie programme, wat deur die Sentrum vir Kunsopvoeding aangebied word, is gratis. Die eerste uitstalling vir kinders, And So The Stories Ran Away, is ook onlangs geopen. “Ouers kom dikwels met hul kinders, maar verhoed hulle om aan die kunswerke te vat. Nou kan die kinders aan die uitstalling vat en interaksie met die werk hê.”

Zeitz MOCAA se nuwe hoofkurator, Storm Janse van Rensburg, het die 2020-program bekendgestel. Storm het in September 2019 by die museum aangesluit, nadat hy ’n indrukwekkende loopbaan opgebou het. Hy is ’n kurator van kontemporêre kuns en het in Suid-Afrika, Amerika en Berlyn gewerk.

Die eerste uitstalling begin in Maart 2020. Alfredo Jaar is ’n Chileense kunstenaar, argitek en ’n filmmaker wat in New York woon. Sy uitstalling, The Rwanda Project, is vanaf 27 Maart tot 26 Julie by die museum te sien. “Alfredo skep ’n uitstalling spesifiek vir hierdie ruimte. Dit spreek die Rwandanese volksmoord, en hoe ons trauma uitbeeld.”

Zeitz MOCAA se nuwe hoofkurator, Storm Janse van Rensburg, het die 2020-program bekendgestel.

Tracey Rose se Shooting down Babylon word vanaf 1 Mei tot 20 September by die museum uitgestal. Tracey is ’n multidissiplinêre kunstenaar wat met film, fotografie en installasies werk. Volgens Storm spreek Tracey in haar werke mag direk en onverskrokke aan, en sal hierdie uitstalling op ’n soortgelyke skaal as William Kentdrige se Why Should I Hesitate: Putting Drawings to Work wees. Die museum bied ook op 28 Junie ’n simposium oor haar werke aan.

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Senzeni Marasela, se werke word van 20 Mei tot 9 Augustus uitgestal. “Ons wil uiteindelik vir Senzeni die erkenning gee wat sy verdien,” het Storm gesê, terwyl hy uitgebrei oor Senzeni se werk en alterego, Theodorah, wat die ervaringe van swart werkende vroue versinnebeeld.

Nicholas Hlobo se Limpundulu Zonke Ziyandilandela

Meschac Gaba is ’n Beniniese kunstenaar wat sy tyd tussen Cotonou en Rotterdam verdeel. Sy werke ondersoek die konstruksies van kulturele identiteit deur handelsisteme soos dit verwant hou tussen Afrika en die Westerse wêreld. Sy uitstalling, Museum of Contemporary African Art, is vanaf 11 September tot 17 Februarie 2021 te sien.

“Ons is baie trots om Moshekwa huistoe te bring,” het Storm oor Moshekwa Langa gesê. Langa is ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat in Amsterdam woon. Hy het aan die Rijksakademie van Beeldende Kunste in Amsterdam gestudeer en regoor die wêreld uitgestal, maar hierdie is sy eerste uitstalling op die Afrika-kontinent – iets wat Storm verstommend gevind het.

Die Suid-Afrikaanse kontemporêre kunstenaar, Johannes Phokela, is die laaste kunstenaar wat vir 2020 bekendgestel word. Johannes se uitstalling begin op 30 Oktober en eindig in Februarie 2021.

Abdoulaye Konaté se Idéogrammes, Signes, Symboles et Logos-tapesserie beslaan vier stories.

Ná die bekendmaking is die media op ’n museumtoer geneem om die huidige uitstallings te besigtig. Die bekroonde Malinese kunstenaar, Abdoulaye Konaté, se Idéogrammes, Signes, Symboles et Logos, is nou by Zeitz MOCAA te sien. Die titel beteken ideogramme, tekens, simbole en logos, en is ’n huldeblyk aan Youssouf Tata Cissé en Germaine Dieterlen. Die vier storie-tapesserie is in die museum geskep en die bewegende tossels verwys na die Malian dansers se uitrusting, en ryk religieuse en uitvoerende praktyke in Wes-Afrika.

Van die uitstallings wat ook te sien is, is William Kentdrige se Why Should I Hesitate: Putting Drawings to Work, Otobong Nkanga se eerste solo-museumuitstalling in Afrika, Acts at the Crossroads, en die Two Together-uitstalling deur verskeie kunstenaars.

William Kentdrige se Why Should I Hesitate: Putting Drawings to Work

Otobong Nkanga se twee- en driedimensionele installasie, “We could be allies” deel van die Acts at the Crossroads-uitstalling. Baie van die kunswerke in die uitstalling is deel van Otobong se private versameling, en dis die eerste keer vir die publiek te siene.

“Awaiting Pleasures” is deel van “Mamie water babe”- installasie deur Otobong Nkanga.

Isaac Julien se “Fantôme Créole”-reeks is deel van Two Together-uitstalling.

Maun Karray se “Noir”-reeks is deel van Two Together-uitstalling.

  • Foto’s: Cliffordene Norton

Lees ook op Voertaal

Press release: Zeitz MOCAA reveals 2020 exhibitions calendar

Acts at the Crossroads – Otobong Nkanga se eerste uitstalling in Afrika

Grootste William Kentridge-uitstalling ter wêreld in Kaapstad te sien

Izicwangciso Zezethu: Dis nie ’n "Ag shame"-uitstalling nie

Zeitz MOCAA wil bewys kuns behoort aan almal

Africa Day 2019 at Zeitz MOCAA

Dekolonialisering en die museum: voorbeelde uit Suid-Afrika en Frankryk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top