Wat is rassisme? Vir Jan Rap

  • 8

In sy brief (Rassisme) van 12 Okt 2018 vra Jan Rap die vraag: “Beteken rassisme” die teësin wat een ras in ’n ander ras het ? Of … beteken dit teësin van een volk in ’n ander volk? (Rassisme, 12 Okt 2018)

Hy verwys oa na die Britte en Franse sowel as die Hollanders en Duitsers wat “nie van mekaar hou nie”. En om die kroon te span sleep hy letterlik swartkoppe en blondines aan die hare by om sy punt te maak: Rassisme is so eenvoudig soos mans wat meer van blondines as donkerkoppe hou, eintlik “’n kwessie van voorkeur of smaak”. En dan vra hy: “Waaroor die bohaai?”

Met die eerste lees van Jan se brief het ek gedink om nié daarop te reageer nie, want iemand wat rassisme versag tot die voorkeur tussen ’n blondine of ’n donkerkop, het iewers sy morele kompas stukkend laat val. Die tragedie is egter dat Suid-Afrika vandag grootliks die produk is van mense wat oor honderde jare rassisme op die oppervlakte getrivialiseer het tot iets soos “óns hou nie van húlle nie”, maar diep binne ’n meerderwaardigheid en selfs haat teenoor “húlle” gekoester het.

Wat is rassisme regtig? Dis wanneer jy mense van ’n ander ras vertel hoe meerder-mens jy is en hoe minder-mens hulle is.

Hoe doen jy dit? Jy sê vir hulle jy staan nie langs hulle in die bank of die poskantoor of die polisiestasie of die landdroskantoor of binnelandse sake nie. Nee, jy sit ’n kennisgewing by die ingang: Slegs Blankes/Whites Only. En jy sit ’n  soortgelyke kennisgewing op by die strand en die stasie en die bushalte en bínne die bus en die trein en die vliegtuig.

Boonop verklaar jy verhoudings en seks oor die kleurgrens immoreel en strafbaar met die tronk, jy ontwortel mense uit hul woonbuurte en blyplekke en gooi hulle neer daar op die vlaktes buite die dorp en noem dit Groepsgebiede, want óns wil nie langs húlle bly nie.

En, les bes, jy sê vir húlle om Sondae na húlle kerk toe te gaan want óns wil apart aanbid, want dis God se skeppingsorde. Eendag in die hemel dalk saam, maar hier op die aarde? Net nie dit nie.

Kyk rondom jou Jan, elke dag, dan sien jy wat rassisme aan hierdie plek gedoen het. Dís waaroor die bohaai.

Dirk Rigter

  • 8

Kommentaar

  • Baie vereenvoudigde ontleding/siening van rassisme. Al sê jy wat, rassisme is in almal, of jy dit nou wil erken of nie. Deesdae kan jy iemand vloek en slegsê, maar sodra jy 'n rassis genoem word skree jy blou moord en raak stapelgek. Ek neem aan jy het die rassisme ervaar wat jy in jou brief beskryf. Get over it. Stig 'n sosiale bewussyn #paybackwittes. Mens moet oppas, wrokke en gemoedsbekakkings kan jouself vernietig.

  • Reusedwerg,

    Nee, ek het nié die rassisme ervaar waaroor ek skryf nie. Ek het dit egter rondom my sien gebeur. En dis nie nodig om #paybackwittes te begin nie, dis lank reeds aan die gang, en dit gaan nog lank so bly. Hoekom? Oor daar té veel wittes is wat mense se pyn van die verlede as “gemoedsbekakking” beskryf. Presiés dit waaroor ek hierbo geskryf het.

  • Rassisme is so oud soos die berge. 'n Mens kry 'n redelike goeie oorsig van betrokke wetgewing onder https://www.sahistory.org.za/article/apartheid-legislation-1850s-1970s.
    Dit het dus begin lank voor die NP aan bewind gekom het. Die vraag wat almal tot dusver ontduik is, sou die begrip 'rassisme' bestaan het, as die konsep 'ras' nie bestaan het nie?
    Eintlik is almal ewe 'rassisties' op ander gebiede, want baie mense spog graag
    met bv rasegte honde ens. Kyk gerus na https://www.cnbc.com/2014/03/19/worlds-most-expensive-dog-pup-sold-for-2-million.html.
    Dink nie 'n mens sou baie gewild wees by die eienaar as jy voorstel dat 'n kruising met jou boerboel 'n beter hond sou voortbring nie. Dus ,hoekom is sommige mense sou behep met ras, as dit by diere kom en nie by die mens nie?

  • Die blaam vir apartheid op die blanke in Suid Afrika is soos die Duitsers se blaam vir die Jode se "slagting". Hoe meer minderwaardig jy voel en agterkom jy jaag aan, hoe meer soek jy verskonings en afleiers. Hoe is die Afrikaners nie in die land deur die Engelse verguis en vertrap nie. Ek as Afrikaanssprekende ervaar dit tans nog in die provinsie waar ek bly. Ek loop nie en tjank daaroor nie. Ek is op die ouderdom agt en dertig uit my pos/joppie uit die staatsdiens uit geskop. Ek het nog steeds nie getjank daaroor nie. Ek kan nie by die Black Management Forum (BMF), Black Lawyers Association (BLA) of Black business owners aansluit nie. Ek kan nie staatstenders kry nie. Ek kan nie 'n rekening by die Moslem Bank oopmaak nie. Ek kan nie by die Hindu business forum aansluit nie. Hoekom nie? Is dit rassisme of etnisiteit. Maak jou keuse. Ek is nie 'n rassis nie, ek is 'n "tribalist”). Die rassisme-debat se rakleeftyd is in elk geval laaaaankal verstreke. Dit is 'n gemoedsbekakking en hoe gouer almal "get over it" hoe beter is dit vir almal se gemoedere en gesondheid. Ek dink die slim mense noem dit "emosionele intelligensie". Die verlede is verby, wat kan en gaan jy daaraan maak. Vet mooi nokkol. Jy kan op jou eie wroegingsashoop sit en jouself gesel en grond oor jouself gooi en in die modder rol. As jy dit aanhou doen, gaan jy aanhou daar bly. Get a life for f... sake. Dit is verniet/gratis/ mahala.

  • Reusedwerg, jy stel dit so mooi. Eienaardig dat Dirk niks oor aaklige rassisme sê waar dit by die uitsluit van 'n witvel kom nie . . . maar hy sal wel 'n antwoord hê as jy hom druk daarvoor; hy sal sê dis payback; ons verdien dit.
    Maar eintlik, EINTLIK, as mens nou mooi daaraan dink is mense soos Dirk (en Pierre en Piet en Max en Melanie) besig met erge diskriminasie. Deur die vergrype van swart oortreders te ignoreer, en selfs te duld en te vergoeilik, is uiters paternalisties en dus diskriminerend; so al asof hulle reken dat sulke gedrag maar te wagte kan wees. DIT is rassisties.

  • Jan,

    Jy wys (en bewys) dat jy aan 'n debat deelneem terwyl jy totaal oningelig is oor die onderwerp. Lees jy nie koerant nie? Jou bewering dat mense soos Max Du Preez, Melanie Verwoerd, et al die ... "vergrype van swart oortreders ignoreer, en selfs duld en vergoeilik ..." is gewoon totaal onwaar. Jy het kennelik nié die laaste jaar of langer enige van die kommentators se artikels gelees nie. Almal hierdie mense lewer gereeld skerp en snydende kritiek op wat tans in die land gebeur.

  • Jan, ai die arme Melanie, ek praat nie eers van Karel die Grote nie. Die spreekwoord lui mos, daar is niemand so blind soos iemand wat nie wil sien nie.

  • Is rassisme nie net ’n wapen wat gerieflikheidshalwe deur mense misbruik word om eie belang te bevorder nie? In die proses word menslike behoeftes op alle vlakke, volgens Maslow se hiërargie, geskend. Dit sluit die volle spektrum in – van fisiese en emosionele sekuriteit tot selfverwesenliking. Wat ’n afgryslike vergryp is dit nie? Dit dring reëlreg in teen die eerste gebod – om ook jou naaste lief te hê soos jouself. Watter beter doel as dit bestaan op dié ondermaanse? Maar Raka bly in stryd met Koki – net jyself kan besluit wie wen in jou hart.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top