Wat is 'n man sonder 'n das?

  • 0

Wat is ’n man sonder ’n das? Dit is die vraag wat onwillekeurig by my opgekom het nadat ek die boek Eindstryd deur die filosoof Willie Esterhuyse gelees het. Dié boek is die verhaal van hoogs geheime ontmoetings tussen verbanne ANC-leiers en ’n paar uitgesoekte Afrikaners gedurende die jare tagtig.

In 1988 het ’n groep Afrikaners en ANC-leiers, onder wie Esterhuyse en Thabo Mbeki, in ’n spoggerige hotel in Londen geëet. Esterhuyse skryf: “Die aandete was altyd baie formeel: baadjies en dasse, Victoriaanse silwereetgerei. Mbeki stuur (Aziz) Pahad, wat later ’n adjunkminister in  die Mbeki-kabinet was, na sy kamer om ’n das aan te sit.”

Wel, dit was in 1988, maar is ’n das nog net so belangrik as toe? Nou reken baie mense die dag sal nog aanbreek dat ’n das as ’n eienaardige skepsel in ’n kultuurhistoriese museum aangetref sal word.

’n Studie sowat drie jaar gelede deur die British Market Research Bureau in Londen het gewys dat 70% heeltyds-werkende Britse mans ’n dekade gelede nog dasse gekoop het, teenoor 56% deesdae.

In Suid-Afrika het ons samelewing informeler geword sedert 1994. Minder behoefte aan klasse-onderskeid en voorskriftelikheid en reëls is die gevolg van minder dasse.

Die das is reeds lank as simbool van onderskeid gesien. Hy het sy oorsprong in die groter krawat, wat in die 17de eeu deur Kroate in Frankryk gedra is om mekaar te eien.

Deesdae is ’n das glad nie meer ’n vereiste in die werk, skool of kerk nie. Selfs in die parlement sit parlementslede deesdae met oopkraaghemde.

Iemand soos oudpresident Nelson Mandela is natuurlik een van die bekendste staatsmanne wat van die das ontslae geraak het toe hy in 1994 staatshoof geword het. Richard Branson en Bill Gates is ook van die beroemdes wat vyande met die das is.

Die samelewing is egter nie sonder status en vertoon nie. Dasse word nog gekoop vir troues, vergaderings, kongresse en allerhande openbare optredes.

Daar is nog baie mense wat daaraan glo om “reg” aan te trek; die uwe ingesluit. Dit het niks met ouderdom te doen nie.

In talle beroepe, soos die regsberoep en die bankwese, is dit altyd beter om die regte indruk te skep deur “reg” aan te trek. Dit is net eenvoudig waar dat ’n man met ’n das ernstiger opgeneem word as een daarsonder.

Beroepsraadsgewers sal altyd adviseer dat as jy jou potensiële werkgewer in ’n werkonderhoud wil beïndruk, dan moet jy ’n das aansit.

Alle tekens dui daarop dat die dasbedryf nog sterk is in Suid-Afrika. Die opkoms van ’n sterk swart middelklas wat meer statusbewus is en gevolglik meer dasse koop, het dié bedryf ’n hupstoot gegee.

Dit was dus profeties en betekenisvol van Mbeki om Pahad in 1988 kamer toe te stuur om ’n das aan te sit.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top