Gesprekke met ontvangers van die R350-COVID-19-verligtingstoelaag

  • 1

Wat is die waarde van R350? Vir die meeste mense is dit nie genoeg vir ’n week se kruideniersware nie, maar vir duisende Suid-Afrikaners was die spesiale COVID-19-toelaag van R350 hul enigste inkomste.

Dié spesiale toelae, wat aanvanklik slegs tussen Mei en Oktober uitbetaal was, is met drie maande deur die regering verleng. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het 2,2 miljoen mense in die tweede kwartaal hul werk verloor. Hierdie toelaag is dus broodnodig vir mense wat niks het om te eet nie.

Foto: Canva.com

Volgens die regering se webtuiste kan mense aanlyn by https://srd.sassa.gov.za vir die toelaag aansoek doen en dit word onmiddellik betaal. Maar geen uitbetalings word terugwerkend gedoen nie. Indien die persoon in November 2020 aansoek doen, ontvang hy/sy voortaan slegs die betaling van November en geen geld word vir Julie, Augustus, September of Oktober betaal nie.

Wie kwalifiseer vir die toelaag?

Volgens die webtuiste moet die persoon:

  • ’n Suid-Afrikaanse inwoner, permanente inwoner of geregistreerde vlugteling by Binnelandse Sake wees wat in Suid-Afrika woon
  • Ouer as 18 jaar wees
  • Werkloos wees en geen ander inkomste (maatskaplike toelae, werkloosheidsversekering, National Student Financial Aid Scheme, ens) ontvang nie.

Wat benodig jy om aansoek te doen?

  • Identiteitsnommer, naam en van
  • Geslag en gestremdheid, indien enige
  • Bank- en kontakbesonderhede
  • Bewys van adres.

Ek het na die poskantoor in Bloemfontein gegaan om met ’n paar mense wat dié toelaag ontvang te gesels. ’n Hele paar van die mense wou nie met my praat nie. “Ek is reeds skaam soos ek hier staan,” het ’n jongman geantwoord toe ek met hom wou praat.

Die poskantoor waar mense die toelae ontvang. (Foto: Cliffordene Norton)

’n Paar goed het my opgeval terwyl ek met die mense gesels het:

  1. Die meeste mense staan al van vroeg in die oggend en wag om aansoek te doen of om die toelaag te ontvang, al is daar die opsie om die toelaag in hulle bank te ontvang.
  2. Daar is meer mans as vroue in die tou, ten minste in die twee dae wat ek na die poskantoor gegaan het.
  3. Dit is meestal jongmense (in hul twintigs) wat aansoek doen of die toelaag ontvang.

TG (18-jarige vrou)

TG was saam met haar oom by die poskantoor om aansoek te doen. Haar oom het ’n werk, maar sy inkomste is nie genoeg om die nege gesinslede te onderhou nie.

“Kospryse het die hoogte ingeskiet,” het hy bygevoeg terwyl ek met TG gesels het. “Ons kan nie meer by alles uitkom nie. As iemand siek is, moet ons gewoonlik kos opoffer om daai koste te dek.”

Wat van publieke hospitale? het ek gevra. Volgens TG moes hulle tydens die inperking hospitaal toe gaan vir ’n nie-COVID-19-verwante siekte en het hulle heeldag daar gesit sonder om gehelp te word. Hulle moes die volgende dag na Clicks gaan om oor-die-toonbank-medikasie te koop.

Foto: Pixabay.com

KN (21-jarige man)

Volgens KN ontvang hy al vir twee maande die R350-toelaag: “Ek is die enigste een wat ek met die geld moet onderhou, maar dis te min. Die President moet dit verhoog.”

KN is sonder ’n werk vandat hy sy skoolloopbaan voltooi het, en het ook nie gaan studeer nie. Hy wil graag eendag ’n stabiele pos in die mynbedryf hê.

PM (60-jarige man)

“Dit gaan nie goed nie,” het PM geantwoord toe ek vra hoe dit gaan. Hy is al 15 jaar werkloos, en hy onderhou ’n gesin van ses met die toelaag. Hy het voorheen by ’n skrootwerf gewerk, maar die skrootwerf het intussen toegemaak en hy kon geen ander werk vind nie. “Mense wil my nie aanstel nie, want ek is oud.”

Hy staan al sedert 05h00 in die tou en was teen 09h00 eers halfpad. Hy kon geen antwoord bied oor waarom hy nog nie vir die South African Social Security Agency- (SASSA-) ouderdomspensioen van R1 860 per maand aansoek gedoen het nie.

Mense wat aansoek doen vir die COVID-19-toelaag van R350. (Foto: Cliffordene Norton)

DA (32-jarige vrou)

DA ontvang die R350-toelaag nou vir ’n maand en onderhou ’n gesin van vier. Sy is al ’n jaar werkloos en was voorheen ’n intern by Transnet. “Ek het my pos baie geniet en hoop om weer ’n pos daar te kry.” Sy staan al sedert 06h30 in die lyn, maar is bereid om te wag, want “dit gaan swaar. Mense sukkel.”

KM (29-jarige man)

KM was voorheen ’n loodgieter, maar is vir vier jaar werkloos en ontvang vier maande al die COVID-19-toelaag. Die toelaag is egter nie sy enigste inkomste nie, want hy doen graag “piece jobs” (korttermyn- of dagloonwerke).

Ek en KM het gesels oor entrepreneurskap en hy het erken dat hy nooit ’n besigheid van sy eie wil begin nie. “Dit voel soos iets wat almal wil doen. Te veel mense begin besighede sonder om daaroor te dink, en dan misluk dit. Hulle moet dan weer oor begin.”

DD (53-jarige vrou)

DD is ’n al jaar werkloos en was voorheen ’n naaldtegnikus. Sy moet ’n gesin van vier onderhou en doen aansoek vir die COVID-19-toelaag om haar man met die uitgawes te help. Sy het erken dat sy nie glo die ekonomie of omstandighede sal binnekort in Suid-Afrika verbeter nie.

  • Voorletters is gebruik om privaatheid te beskerm.

Bronne

Boonzaaier, D en R de Lange. 2020. 10 jaar se werk in 6 maande uitgewis. https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/10-jaar-se-werk-in-6-maande-uitgewis-20201003#loggedin.

Cele, S. 2020. Extension of Covid-19 relief grant will cost the government R6bn. https://www.businesslive.co.za/bd/national/2020-10-16-extension-of-covid-19-relief-grant-will-cost-the-government-r6bn.

Old age pension. 2020. https://www.gov.za/services/social-benefits-retirement-and-old-age/old-age-pension.

Social grants – Coronavirus COVID-19. 2020. https://www.gov.za/covid-19/individuals-and-households/social-grants-coronavirus-covid-19.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top