Wat Hill-Lewis by Zille, Obama en Churchill geleer het. Plus: Hoekom hy glo ’n “ANC-verswakte-SA” kan sterk gemaak word

  • 0

Geordin Hill-Lewis (Foto verskaf deur die DA)

In sy aanvaardingstoespraak op 12 April vanjaar het Geordin Hill-Lewis as nuutverkose DA-leier hulde gebring aan sy voorgangers. Hulle is John Steenhuisen, Mmusi Maimane, Helen Zille en Tony Leon. Oor elkeen het hy, soos te verwagte kon wees, net goeie goed te sê gehad:

  • Leon het die DA van ’n party met 1,7% steun tot ’n “werklik verkiesbare party” en “vreeslose opposisie” laat groei;
  • Zille het gewys dat die party nie slegs goed met sy opposisierol is nie, “maar ook kan regeer”;
  • Maimane het hom geleer dat die politiek “nie slegs oor beleid en idees gaan nie, maar ook oor mense”;
  • “And then came John Steenhuisen,” het hy oor sy mees onlangse voorganger gesê. Die oorgang tussen die twee was skielik en onverwags: die een oomblik nog was Steenhuisen vasbeslote om as leier aan te bly, en Hill-Lewis het in die openbaar verklaar dat hy daarom homself nie as kandidaat beskikbaar sou stel nie. Maar toe kondig Steenhuisen aan – onder erge druk oor die bek-en-klouseerkrisis en ’n gebrek aan ondersteuning hieroor uit partygeledere – dat hy van plan verander het en eerder nie aan die leierskapverkiesing gaan deelneem nie.

Die weg is sodoende vir die Hill-Lewis-era in die DA gebaan. Erkenning kom Steenhuisen egter ook toe, soos verwoord deur Hill-Lewis aan die einde van die party se federale kongres: “John took the next great step in the story of this party. John led the DA into national government for the first time in our history.”

Maar dit is vir Zille, tans DA-burgemeesterskandidaat in Johannesburg en voorheen ook Kaapstadse burgemeester en Wes-Kaapse premier, dat Hill-Lewis die meeste lof toeswaai: “Ek het baie by Helen Zille geleer,” sê hy met die klem op “baie” in sy Wyngaard Weekliks-onderhoud.

Terwyl daar in sommige DA-kringe en by sekere politieke kommentators die verwagting was dat die nuwe leier van Steenhuisen as minister van landbou in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) ontslae sou raak, het niks daarvan gekom nie. Hill-Lewis was uit die staanspoor duidelik daaroor dat hy nie belangstel in ’n kabinetspos nie; hy sou aanbly as Kaapstadse burgemeester. Steenhuisen sou behou word in sy rol as landbouminister om, soos hy ook onderneem het met sy onttrekking as leierskandidaat, sy “volle aandag aan die bek-en-klouseerkrisis te gee”.

In die Wyngaard Weekliks-gesprek sê Hill-Lewis op ’n vraag oor sy verhouding met Steenhuisen: “Ons is goeie vriende. Ons het vir baie jare saamgewerk in die parlement.” Hulle sien mekaar wel min deesdae weens Steenhuisen se besige skedule as minister, voeg hy by. En dan deel hy dié kompliment: “Ek glo steeds John het ’n uitstekende job as leier gedoen deur die party te stabiliseer.”

En hoe sal die nuwe DA-leier sy eie leierskapstyl beskryf? “Purpose” is die woord wat hy daarvoor gebruik. Om doelgerig te lewe is vir hom belangrik – en dit is ook waarom hy die politiek as loopbaan gekies het. Tesame daarmee, is mense die spilpunt waarrondom alles vir hom draai. “Dit is die beste vir my van burgemeester wees: om tussen mense te wees.”

Naas die voorbeeld wat Zille (en ook Maimane) hierin aan hom gestel het, is dit ook vir hom die raakpunt tussen internasionale politieke figure wat hy as rolmodelle of leermeesters beskou. “Ek het grootgeword in die era van [die voormalige Britse premier] Tony Blair en [die voormalige Amerikaanse president] Bill Clinton, en later ook Barack Obama. Hulle het baie dinge verkeerd gekry, maar wat ek by hulle geleer het, was spesifiek hoe hulle met mense konnekteer.”

Die onderhoudvoerder wil weet hoe hy met president Cyril Ramaphosa as ANC-leier en staatshoof “konnekteer” aangesien een van die kernvrae voor en ná sy verkiesing was of hy die DA in die Ramaphosa-geleide RNE sal laat aanbly of gaan onttrek. “Ek respekteer hom; hy is amper dieselfde ouderdom as my ma. Ek respekteer die amp; en ek glo hy wil hê Suid-Afrika moet werk.”

Die twee leiers het al ’n paar keer gepraat sedert Hill-Lewis se verkiesing twee maande gelede, een keer was dit in persoon. Beskou hy Ramaphosa as ’n betroubare en eerlike leier? “Ek dink hy wil die beste hê vir die land, maar ek het ook kritiek teen hom en dit het veral met [die onwillige] ekonomiese reforms te doen,” antwoord Hill-Lewis.

Die groot verskil tussen hom en Ramaphosa – en tussen die DA en ANC – het met hul beskouing van die rol van die staat te doen. Hill-Lewis verduidelik: “Die ANC glo die staat is die middelpunt van alles. Ons sien dit anders: Jy het ’n bekwame staat nodig, maar die staat moet net doen wat die grondwet vereis en verder moet dit uit die pad van die privaatsektor bly sodat die ekonomie kan groei.”

Dit is hoe jy Suid-Afrika weer sterk gaan maak, glo hy. Wat maak Suid-Afrika dan tans swak, word hy gevra. “Swak regering van die ANC,” sê hy. “Geen visie, geen toekomsplanne.” Maar hy hoop landsburgers en kiesers kon teen hierdie tyd sien watter verskil die DA se teenwoordigheid in die RNE (en waar hulle in munisipaliteite en in die Wes-Kaap regeer) aan dienslewering maak - en die belangrikste hiervan is: “Ons het die ‘Dooms Day-koalisie’ uitgehou.”

Lees en kyk ook:

Wyngaard Weekliks: "Ek het baie by Helen Zille geleer," sê Geordin Hill-Lewis. Om Suid-Afrika sterker te maak is sy groot missie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top