Wat elke skrywer moet weet: ’n Regsperspektief op plagiaat

  • 1

Cobus Jooste van die Universiteit Stellenbosch gee ’n regsperspektief op plagiaat vir PEN Afrikaans se Wat elke skrywer moet weet-artikelreeks. Hy kyk onder andere na die kenmerke van plagiaat, na waar dit tuishoort in die reg en na hoe dit van outeursregskending verskil.

In die streng sin van die woord is plagiaat nie ’n regskonsep nie. Dit word nie deur enige wet omskryf of spesifiek deur die gemenereg gereguleer nie. Industriepraktyke en bedryfspesifieke beleid kom nie op regsbepalings neer nie, ongeag die gevolge daarvan. Dit beteken egter nie dat die reg nie met plagiaat gemoeid is nie – allermins.

Plagiaat is al bespreek in ’n aantal gerapporteerde hofsake wat ’n verrassende verskeidenheid geskille en regsvelde dek. Dit sluit in outeursregskending in nuusberigte,1 woordeboekinskrywings,2 ’n mediese voubiljet3 en ’n handboek oor inkomstebelasting,4 handelsmerkskending en onregmatige mededinging in die konteks van tydskrifartikels en webwerfinskrywings,5 patentskending ten opsigte van ’n metode vir die lê van plaveisel,6 administratiewe foute in ’n patent-aansoek,7 ’n geskil oor die geregistreerde ontwerp vir kratte waarin bottels verpak word8 en die hersiening van ministeriële besluite met betrekking tot die weiering van ’n eksklusiewe prospekteerlisensie vir uraan.9

Dit is daarom nie verbasend dat hierdie mengelmoes pogings om plagiaat aan die reg op te dring, nie duidelikheid bied oor die aard of omvang van plagiaat nie. Nie in een van hierdie gevalle is daar gepoog, of selfs oorweeg, om plagiaat in sy juiste regskonteks te plaas nie; dit is naamlik die deliktereg in die vorm van wanvoorstelling of sy strafregtelike eweknieë, naamlik bedrog en vervalsing.

’n Wanvoorstelling vind plaas wanneer die oortreder ’n verkeerde of misleidende voorstelling op ’n onregmatige en strafbare wyse aan ’n ander persoon maak op grond waarvan daardie persoon tot sy nadeel handel.10 Dit behels verskeie elemente. Die wanvoorstelling kan opsetlik of nalatig gepleeg word11 en dit moet duidelik wees dat die wanvoorstelling onregmatig is, in soverre dit die nie-nakoming van ’n regsplig behels.12 In die geval van plagiaat vloei die regsplig, om akkurate inligting te verskaf oor die oorsprong van die materiaal, gewoonlik voort uit ‘n kontraktuele onderneming soos ’n bedryfspesifieke kode, ’n plagiaatbeleid, ’n akademiese beleid of ’n gedragskode. Waar geen kontraktuele plig bestaan nie, kan onregmatigheid in die konteks van plagiaat bepaal word met verwysing na die beroep of professionele hoedanigheid van die outeur.13 As daar beweer word dat plagiaat per abuis gepleeg is, sal die optrede van die outeur gedingsvatbaar wees indien dit te kort skiet aan die standaard van redelikheid wat in die spesifieke omstandighede verwag kan word.

Laastens moes die wanvoorstelling een of ander vorm van skade vir die klaer veroorsaak het omdat hy daarvolgens gehandel het. In die geval van ‘n wanvoorstelling in die vorm van plagiaat is die skade gewoonlik opsigtelik. Byvoorbeeld, ’n uitgewer wat ’n manuskrip aanvaar en kostes aangegaan het om die werk te publiseer, of ’n instelling wat ’n werk geakkrediteer het en sy reputasie in die proses in die gedrang gebring het, is geregverdig om kapsie te maak teen so ’n wanvoorstelling waarvoor skadevergoeding betaalbaar mag wees.

Daarbenewens kan plagiaat ook ’n strafregtelike oortreding wees indien die wanvoorstelling gemaak is met die bedoeling om te bedrieg. In sulke gevalle is plagiaat ’n vorm van bedrog.14 Om op onregmatige wyse ’n valse dokument te skep15 en om ’n vervalste dokument te gebruik of aan te bied,16 verteenwoordig twee verdere strafregtelike oortredings, naamlik vervalsing en uitgifte van ’n vervalste dokument, mits daar aan al die ander elemente van die misdaad voldoen is.

In al drie gevalle moet aangedui word dat skade deur die verweerder se optrede veroorsaak is. In teenstelling met die siviele aksie wat hierbo bespreek is, is die element van skade in die konteks van bedrog, vervalsing en uitgifte egter nie beperk tot werklike skade nie en sluit ook potensiële skade aan enige ander party in.17

Ten einde plagiaat binne hierdie regskonteks te plaas, is dit nodig om die handeling van plagiaat te definieer en die volle omvang daarvan uit te klaar.

Kortom, plagiaat het te make met die oorsprong van intellektuele uitdrukking. Dit is ’n tweeledige ondersoek. Aan die een kant, gaan dit oor die identiteit van die outeur en hul reg om aanspraak op die werk te maak. Aan die ander kant, is plagiaat gemoeid met die impak wat die werk op die optrede van die publiek het. Ongelukkig word die tweede deel van die plagiaatondersoek dikwels geïgnoreer, soos geïllustreer deur bogenoemde sake, ondanks die feit dat dit vanuit ’n regsperspektief die belangriker element is.

’n Handboek wat plagiaat bevat skend byvoorbeeld die regte van die onerkende outeur en dit skep by die publiek die oortuiging dat die outeur van die boek verantwoordelik is vir die volledige letterkundige inhoud van die handboek en die waarde wat aan daardie inhoud toegeskryf kan word. Die publiek, soos die leser, resensent, uitgewer, redakteur of akkrediterende instelling, word onder ’n wanindruk geplaas (’n wanvoorstelling deur die outeur) wat skade veroorsaak of kan veroorsaak. Dus, vanuit ’n regsperspektief, is plagiaat ’n geval van misleiding of bedrog op grond waarvan verskeie partye, insluitende die staat, regstappe kan neem.

Met ander woorde, afhangend van die aard en uitwerking van die wanvoorstelling, kan plagiaat gronde vir siviele of strafregtelike aanspreeklikheid wees, of albei. Dit is die geval selfs as die onbekende skrywer nie gegrief voel nie, sy regte oorgedra het of nie opgespoor kan word nie. Plagiaat as ’n vorm van wanvoorstelling in die privaatreg is van toepassing op alle werke, ongeag of dit outeursregbeskerming geniet. Die bogenoemde strafregtelike sanksies word egter beperk tot dokumente (gedefinieer as enige vorm van skrif of merke wat ’n menslike verklaring kommunikeer18) en sluit nie oudio of visuele werke in nie.19

Dit is duidelik dat plagiaat verskillende regskenmerke het en tog is dit nie in die reg gedefinieer nie. Daarom is dit nodig om betekenis te gee aan die daad van plagiaat.

In die afwesigheid van ’n regsdefinisie, en tensy daar goeie redes is om van die norm af te wyk, skryf die reg die gewone, woordeboek-betekenis aan woorde toe.

Dit word aangevoer dat ’n toepaslike, korrekte en bondige betekenis van plagiaat is "om ’n ander persoon se idees, woorde of werk te kopieer en dit as jou eie voor te hou."20

Ten spyte van die oënskynlike eenvoud van hierdie definisie, moet dit van nader bekyk word om te illustreer waarom plagiaat in die eerste plek ressorteer onder die dele van die reg wat met wanvoorstelling verband hou.

Eerstens is plagiaat die kopieer van idees, woorde of werk. Die sentiment is soortgelyk aan daardie deel van die outeursreg wat die ongemagtige reproduksie van enige wesenlike deel21 van ’n ander se intellektuele uitdrukking22 verbied. Vir plagiaat om plaas te vind, moet daar dus ’n manifestasie of voorstelling in materiële vorm wees van ’n ander se idees, woorde of werk – soortgelyk aan outeursregskending. As gevolg hiervan is dit nie verbasend dat daar al baie gepoog is om ’n geval van plagiaat as ’n vorm van outeursregskending te hanteer nie.

In soverre dit teen die ongemagtigde gebruik van outeursregwerk beskerm, kan die outeursreg van toepassing wees in die geval van plagiaat. Baie gevalle van plagiaat sal egter nie die toets vir outeursregskending slaag nie.23 Daarbenewens verskil die vereiste van oorspronklikheid by outeursreg baie van die oorspronklikheidstandaard wat verwag word van diegene wat ’n aantyging van plagiaat wil voorkom. Trouens, dit word algemeen aanvaar dat ’n werk wat beide plagiaat en outeursregskending daarstel, steeds vir outeursregbeskerming sou kon kwalifiseer.24

’n Persoon mag dalk geregtig wees om iets te reproduseer, maar dit beteken nie dat hul geregtig is om outeurskap of eienaarskap te eis van dit wat gereproduseer word nie. Net so kan outeursregwetgewing die reproduksie van ander se werk onder sekere omstandighede toelaat, maar daardie handeling kan steeds ’n geval van wanvoorstelling wees wat tot regstappe kan lei. Hierdie feit is veral relevant in die geval van opdragwerke, dit wil sê werke wat in opdrag van ’n ander party geskep, saamgestel of versprei word in ruil vir ’n vorm van vergoeding. Die feit dat toestemming verleen is vir die opdragwerk om gereproduseer, aangepas of gepubliseer te word, beteken nie dat die gebruiker dit as sy/haar eie werk mag aanbied nie. Die feit dat dit ’n opdragwerk is, stel nie die opdraggewer skadeloos teen ’n eis van enigeen wat staatgemaak het op die valse indruk wat geskep is deur die onakkurate aanduiding van outeurskap nie.

Tweedens word plagiaat gedefinieer as die gebruik van idees, woorde of werk van ’n ander. Aldus, in teenstelling met sommige goed-bedoelde menings,25 kan plagiaat ook voorkom in die afwesigheid van ontlening uit ’n ander se teks. Dit is waar dat outeursreg nie in idees berus nie, maar die reg bly gemoeid met diegene wat inligting, insluitend idees, in ’n valse lig aanbied. Verder is teks ’n kommunikasiemedium wat betekenis op ’n letterlike en kontekstuele wyse oordra. Die skrywer kan, afhangende van die keuse en rangskikking van woorde, ’n boodskap oordra wat verder gaan as die versamelde definisies van die woorde wat hy/sy gebruik het. Hierdie literêre poging om die teks met sekondêre betekenis of effek te vul, kan beskou word as die werk en gaan verder as die blote idee of die letterlike teks. Deur idees en werk as elemente van die beskermde uitdrukking vir die doel van plagiaat in te sluit, ondervang die definisie sowel die teks as die waarde van daardie teks. Verder erken dit dat plagiaat ook kan verband hou met nie-tekstuele of visuele werke en gemengde werke soos grafieke, illustrasies en samestellings.

Plagiaat as ’n regsoortreding is, soos hierbo verduidelik, gemoeid met die indruk wat die skrywer geskep het oor sy/haar aanspraak op die werk. Dit geskied wanneer ’n leser nie korrek ingelig is oor die identiteit van die persoon wat verantwoordelik is vir die teks of die waarde wat in die teks uitgedruk is nie. In hierdie konteks hou die waarde van die teks verband met die betekenis, konsep, betoog, argument, benadering, stilistiese tegniek, literêre gehalte, insig, inspirasie of enige ander nie-tekstuele element van die oorspronklike teks. In die geval van akademiese of kreatiewe werk, is dit van besondere belang. Aangesien kreatiewe skryfwerk en akademiese navorsingsuitsette aan die hand van literêre en/of akademiese meriete beoordeel word, is dit duidelik dat erkenning slegs gegee kan word vir dit wat werklik eie is aan die outeur van daardie werk. Gevolglik kan enige versuim om aan te dui dat die waarde van die teks van elders afkomstig is, ’n vals indruk skep oor intellektuele insette. Dit kom neer op plagiaat selfs waar geen duplisering van teks plaasgevind het nie.26

Plagiaat is, derdens, om idees, woorde of werk aan te bied en voor te gee dat dit jou eie is. Hierdie element is die rede waarom sommige mag argumenteer dat ’n opdragwerk of eie werk nie geplagieer kan word nie. Dit is natuurlik verkeerd. Toestemming om ’n werk vryelik te gebruik, wat gewoonlik met ’n ooreenkoms vir opdragwerk saamgaan, kan nie geïnterpreteer word as ’n regverdiging vir plagiaat nie. Die feit dat die werk geskep is in ruil vir vergoeding, verander nie hierdie posisie nie en kan regtens beskou word as ’n verswarende faktor wat aandui dat die bedoeling was om te mislei.

Alhoewel dit waar is dat sekere vorms van regsaanspreeklikheid uitgeskakel word wanneer ’n mens toestemming het om ’n ander se werk te kopieer, publiseer of andersins te gebruik, word die toepassing van die reg nie hierdeur uitgeput nie. Plagiaat is in die eerste plek ’n vorm van wanvoorstelling en dit is onmoontlik om toestemming te verkry om ’n ander te mislei. Dit is die aard van wanvoorstelling, naamlik die verduistering van die werklikheid, wat dit by uitstek geskik maak om plagiaat in te sluit.

Om plagiaat te vermy, moet daar sorg aan die dag gelê word om enige wanvoorstelling te voorkom. Dit moet duidelik uit die teks blyk watter woorde of deel van die onderliggende idee toegeskryf word aan die genoemde outeur van die werk. As dit nie in die teks opmerkbaar is nie, kom ’n prima facie-saak van plagiaat tot stand. Dit is maklik om hierdie argument te verstaan indien ’n mens dink oor die erkenning wat die outeur kry. Indien die inhoud van ’n werk voorgehou word as die produk van die outeur, en nie die werk van diegene wat dit geïnspireer het of dit eerste uitgedruk het nie, word alle erkenning vir die teks en die betekenis van die teks aan die outeur toegeskryf. In hierdie scenario kry die outeur erkenning vir die intellektuele inspanning van ’n ander en word beloon vir ’n belegging wat hy/sy nie gemaak het nie. Daar ontstaan ook aanspreeklikheid vir die skep van ’n indruk van uitnemendheid wat nie verdien of geregverdig is deur die werk nie. Hierdie vorm van plagiaat is algemeen onder diegene wat die skryfproses as ’n kontrolelys-oefening aanpak om aanspreeklikheid op tegniese of redaksionele wyse te vermy. Met ander woorde, diegene wat aan plagiaat skuldig kan wees, poog tipies om te parafraseer, die aantal gekopieerde woorde te tel of probeer om idees te definieer as algemene kennis om sodoende aanspreeklikheid vry te spring.

Dieselfde erkenningstoets beantwoord die vraag oor self-plagiaat. Die feit dat ’n skrywer die oorsprong van ’n teks of idee is, beteken nie dat dit herwin kan word vir verdere erkenning, in watter vorm ook al, nie. Waar ’n werk of idee gepubliseer is, sal plagiaat volg as dieselfde werk, woorde of idees weer vir enige vorm van erkenning aangebied word. In sulke gevalle hou die wanvoorstelling nie verband met die outeur se identiteit nie, aangesien dit dieselfde is. Die probleem is eerder dat die skrywer die indruk skep dat dit nuwe werk is wat erkenning verdien. Waar die aanspraak op erkenning duidelik gekwalifiseer word deur byvoorbeeld ’n aanduiding dat die ingediende teks, werk of idee voorheen verskyn het, word plagiaat natuurlik vermy. In die afwesigheid van so ’n aanduiding bly die wesenskenmerk van plagiaat, naamlik wanvoorstelling, in stand – ondanks die feit dat die skrywer sy/haar eie werk aanbied.

In die lig van bogenoemde is dit duidelik dat plagiaat nie in die eerste instansie ’n etiese vraagstuk is nie. Die feit dat die reg nie plagiaat definieer nie, beteken nie dat dit nie onderhewig is aan geregtelike ondersoek nie. Ons versameling regspraak oor plagiaat mag veel te wense laat, maar dit behoort nie die valse indruk te skep dat die reg nie met plagiaat gepla is of in staat is om met erns daarmee om te gaan nie.

In die literatuur, soos in die lewe, behoort die grys areas van intertekstualiteit, nabootsing, montage en transformasie nie toegelaat te word om ’n bespreking van wat reg of verkeerd is ongedaan te maak of selfs te beïnvloed nie. Die maatstaf hiervoor is die reg, en dit behoort so te bly.

Eindnotas

1 Moneyweb (Pty) Ltd v Media24 Ltd and Another 2016 BIP 326 (GJ).

2 Media 24 Books (Pty) Ltd v Oxford University Press Southern Africa (Pty) Ltd 2015 BIP 384 (WCC).

3 Biotech Laboratories (Pty) Ltd v Beecham Group Plc And Smith-Kline Beecham Pharmaceuticals (Pty) Ltd 2002 BIP 174 (SCA).

4 Juta & Co Ltd and Others v De Koker and Others 1994 (3) SA 499 (T).

5 New Media Publishing (Pty) Ltd v Eating Out Web Services CC 2005 BIP 127 (C).

6 Mccauley Corporation Ltd v Brickor Precast (Pty) Ltd 1989 BP 314 (CP).

7 Hokuriku Pharmaceutical Co Ltd v Cipla-Medpro (Pty) Ltd 1999 BIP 384 (CP).

8 Chespak (Pty) Ltd v MCG Industries (Pty) Ltd 2014 BIP 465 (GP).

9 Black Range Mining (Pty) Ltd v Minister of Mines and Energy and Another 2009 (1) NR 140 (HC).

10 Neethling, J and Potgieter, JM Law of Delict 7ed (2015) LexisNexis 313.

11 Neethling Delict 314-5.

12 316.

13 317-8.

14 Burchell Criminal Law 579.

15 590.

16 592.

17 587.

18 Burchell Criminal Law 591 met verwysing na Milton, JRL (1996) ‘Common-Law Crimes’ in South African Criminal Law and Procedure Vol 2 3ed 744.

19 Burchell Criminal Law 591.

20 Afrikaanse ekwivalent van die Oxford Advanced Learner’s Dictionary se definisie van “plagiarize”.

21 Dean Handbook 1-65 by 8.3.

22 Sien byvoorbeeld Jooste, C “The press(ing) matter – plagiarism and copyright infringement” IPStell 2012 beskikbaar by http://blogs.sun.ac.za/iplaw/2012/02/02/the-pressing-matter-–-plagiarism-and-copyright-infringement/ vir ’n bespreking van die toepaslike outeursregbeginsels in die geval van plagiaat.

23 Dit kan wees omdat dit nie ’n wesenlike reproduksie is nie of omdat die outeur geregtig is om die werk te reproduseer deur middel van ’n lisensie of deur regswerking, soos ’n toepaslike billike gebruiksuitsondering of die verstryking van die duur van outeursregbeskerming.

24 Sien Dean Handbook 1-22.

25 De Kock, A (2011) ‘Die verskil tussen “plagiaat” en “leen”’ SA Vryskytskywer Nuusbrief 20 April 2011 beskikbaar by http://www.savryskutskrywer.co.za/april_20_nuusbrief_03qlopfg.htm.

26 Dit is natuurlik denkbaar dat een skrywer dieselfde idee kan oordra of ’n soortgelyke tegniek as ’n ander kan toepas sonder om hom tot die oorspronklike werk te wend. In hierdie geval vind plagiaat nie plaas nie omdat daar geen reproduksie plaasgevind het nie. Waar dit egter uit die feite blyk dat die ooreenkomste in die onderliggende waarde van die teks ’n ontlening verteenwoordig, het plagiaat plaasgevind, selfs as daar geen tekslenings is nie. Dit is die algemeenste in die geval van geparafraseerde teks.

  • 1

Kommentaar

  • Nico M Ferreira

    Moontlik lees ek dit verkeerd, maar die volgende stelling in die 2de laaste paragraaf vind ek baie vreemd: "In die lig van bogenoemde is dit duidelik dat plagiaat nie in die eerste instansie 'n etiese vraagstuk is nie."
    Maak nie saak hoe mens na 'n geval van plagiaat kyk nie, dit bly oneties.
    Ek is egter bly dat die verskil tussen plagiaat en outeursreg duidelik na vore gebring word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top