
...
Hoop is magteloos, kragteloos as dit nie op dade en aksie gebou is nie, nie ’n werkwoord is nie. ’n Vierletterkragwoord is nie. Dade is soos sade en hoop is die lote. Werp jou brood op die water en die hoop beskaam nie.
...
So herkou ek al ’n week lank aan ’n antwoord op dié vraag wat gestel is op die openingsaand van die Home, Hope and Humour-minikunstefees van drie eenpersoonstukke en die kortfliek Some mothers’ sons uit die pen van die bekroonde dramaturg en kunsteaktivis Mike van Graan. Dit is aangebied in die Avalon-teater van die District Six Homecoming-sentrum in Kaapstad (die voormalige Fugard-teater).
Die soeke na hoop was die tema van ’n deurlopende gesprek tussen Van Graan, wat al meer as drie dosyn toneelstukke op sy kerfstok het en welbekend is as kultuurleier en kampvegter vir plaaslike teater en kunstenaars, en die gesiene maatskaplike aktivis en Daily Maverick-skrywer Mark Heywood (Aids Law Project, TAC, Corruption Watch, Section 27). Tussendeur die skitterende uittreksels uit die teaterstukke en die kolhou-op-die-maag-fliek het die twee stryders die immer ontwykende hoop probeer vaspen en van hul eie en ander se gedigte voorgelees. Albei erken ruiterlik hulle sal veel eerder voltyds skryf as steeds struggle drie dekades ná die einde van die vryheidstryd. Mens het gewens die verdekselse vlagpaaljagende hersenskimminister was daar om dié stemme roepende in die woestyn te hóór, maar die hoop daarvoor het in geen verrassende wending nie, natuurlik beskaam.
Ná ’n paar dae van dink oor die aand se ervarings in die Avalon-teater en klinkklare insigte wat hardkoppig op die horison bly weggly, kom ons op ’n Sondagoggendstap ná die reën onverwags af op die mosbegroeide ruïne van die Paradijs-kliphuis in die Nuwelandbos en stadig ontkiem daar oor koffie en beskuit ’n vrugbare gedagte of twee. Dit het te doen met boeke, teater, brood en water – maar meer daaroor later. Genoeg om te sê die week se marineer – of dalk eerder suurdeeg en rys – was toe inderdaad waardevol, die ou gesegdes “haas jou langsaam” en “dit word opgelos as jy stap” weer eens waar bewys.

Met die teatersektor wat bitter swaar getref is deur die Covid-sluitings het Van Graan twee jaar gelede saam met vriende ingespring as koördineerder van die Stand-stigting om die plaaslike teater- en dansgemeenskap by te staan en volhoubare kunstepraktyk vir die toekoms te vestig. Deur Stand het hy ook gehelp om die Teater-en-dans-alliansie (TADA) te stig sodat kunstenaars ’n stem het in sake wat hulle raak en waar beleid gemaak word. Van Graan gee Stand se leisels binnekort oor* en vertrek in September na Duitsland vir ’n genootskap by die Robert Bosch Akademie in Berlyn. Hy werk tans aan sy eerste roman. “Dis tyd dat ’n nuwe generasie dié soort werk oorneem,” meen hy.
Van Graan wou sy verjaardagmaand (Augustus) graag vier met ’n minikunstefees ná meer as twee jaar van teaterdroogte. Dis volgens hom bittersoet om terug te wees in die ou Fugard-teater, ’n ruimte met ’n spesiale plek in Kapenaars se harte. “Die vier vertonings in die Home, Hope and Humour-fees spreek gesamentlik tot ons tuiste, Suid-Afrika, met sy ontelbare uitdagings wat ons soms laat wonder waar ons hoop vir die toekoms vandaan gaan kom. Humor is een van die belangrikste maniere waarop ons dinge hanteer,” aldus die man van die aand.
Die eenvroustuk He had it coming is ’n opstaan vir vroue in Vrouemaand; Country duty fokus op ’n fluitjieblaser se pyn; Some mothers’ sons (hier as fliek) bekyk die plek waar reg en geregtigheid se paaie skei; en The new abnormal is satire wat vryheid van uitdrukking vier. Volgens Van Graan is eenmanstukke die weg vorentoe ná die pandemie. Dit gee vir die spelers ’n “draagbare” produksie – hy noem dit ’n drama in ’n gatsak – wat in ’n teater, informele ruimte of iemand se huis opgevoer kan word sodat die akteur steeds ’n inkomste kan verdien.

“Mense, mense, kom staan nader, come closer please, welcome to South Africa on behalf of Rainbow Nation Extreme Tours,” verwelkom die vlymskerp “toergids” Kim Blanche Adonis kamtig oorsese beleggers in Suid-Afrika – kompleet met komplimentêre volstruisveer (“die President se gunstelingvoël”) en ’n gratis flitsie van Eskom om die beurtkragskedule te lees.
Kwinkslae vlieg sonder ophou in Afrikaanse Ingels en laat die gehoor (tjokkenblok en lekker divers) grinnik. Dis ’n uittreksel uit He had it coming, ’n versameling sketse, gedigte en liedjies oor die patriargie en geweld teen vroue wat die gehoor uitdaag en dinge sê soos dit is om ’n streep in die sand te trek. (Vrouedag. 16 dae van aktivisme. Veldtogte teen geweld. En steeds …) Genoeg is genoeg, dis tyd vir lag met ’n traan en katarsis. Die regie is deur Daniel Mpilo Richards en Adonis is die perfekte energieke spreekbuis.
Ná die eerste stukkie konsert is dit tyd vir die “Mike and Mark Show”, en eersgenoemde erken laggend die fees se titel “is a bit of a naff name”! Hulle het besluit om ook van hul gedigte voor te lees, “want niemand vra ons ooit nie”. Van Graan lyk strate jonger as sy jare (byna 63) met sy rooi tekkies, maar die gedig “I did not vote” ontsien niemand nie. Dit beteken nie hy’t nie gestem nie; hy het net nie sy kruisie getrek vir magshebbers se plundering nie – “Who would’ve died for that …?”
Heywood erken dat toe Van Graan hom vra om aan die gesprek oor hoop deel te neem, hy paniekerig geraak het, want hy’t nog nooit so hoopverlore gevoel as juis nou nie, en toe’s die opdrag: “You need to be uplifting!”
Geharde aktivis wat hy is, ignoreer hy eers die versoek om almal se aand op te kikker en pak dadelik die bul/buffel by die horings en sê ná 1994 het ons ’n wonderlike kans gehad en dit verkwis. “Ons land is nie net deur die Zuptas en korrupsie gekaap nie, maar deur ons eie lamsakkige bangbroekigheid en kapitalistiese verbruikersmanie.” Maar daar ís baie wat ons bereik het, en die belangrike dinge waaraan hy vasklou, is die Grondwet, en dan ook “die ordentlikheid, waardigheid en vasberadenheid van gewone mense”. As hy so na die res van die wêreld kyk, is Suid-Afrika eintlik ’n goeie plek om te wees, meen hy – en die gehoor lag verlig. Die verloopte Marxis dink daar’s hoop!
Heywood kry darem sy les in: “Hoop kan nie ’n passiewe manier van lewe wees nie, dit moet die fondasie van aktivisme vorm. En aktivisme was nog nooit noodsaakliker as juis nou nie.”
Van Graan sluit by hom aan en verwys na Hanlie Retief se onlangse onderhoud met Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers in Rapport. “Daar is soveel welwillendheid in hierdie land. Dis amper asof die mense wat die meeste géé, ook die meeste hoop het.” As dramaturg kry hy sy energie uit kontak met gewone mense, hul ryke verskeidenheid, verbeeldingskrag, vindingrykheid en heldhaftigheid.
Heywood stem saam oor wie die ware hoopgewers is, en verwys na mam Refiloe Molefe, moederowerste van middestadstuine in Hillbrow, wat onlangs elders oor moes begin toe die stad haar tuin platgestoot het; en Van Graan vertel van ’n inspirerende gemeenskapsteatergroep in Philippi wat voortbeur ten spyte van gewapende diefstal en terugslae.
Al is hy bekend as aktivis wat veral in die bittere dae van die vigsstryd letterlik lewens help red het, meen Heywood baie van sy hoop kom van boeke. “Dit was letterkunde en politiek wat my ’n aktivis gemaak het. Letterkunde het my die diepte en skoonheid van menslike moontlikhede gewys, en politiek het my laat seker maak dis nie net ek as bevoorregte wit kind wat daardie mooiheid en kanse kon geniet nie.”
Heywood lees uit sy gedig “Dawn at Kalk Bay” uit die bundel I write what I fight (2015):
Because I know death I know life
Because I know love I know its loss
Because I have lost I know your loss
Motherloversisterbrotherchild of mine …
Dis ’n sobere oomblik en die twee sprekers voel hulself genoop om oor hierdie pynlike tydsgewrig te verkondig: “This too shall pass.” Sela.
Tyd vir ’n fliek, maar nie die springmieliestipe nie. Inteendeel. Dis immers Mzansi.

Some mothers’ sons is ’n kragtige naasmekaarstelling van twee Suid-Afrikaanse vriende, Vusi Mataboge en Braam Visser, se onderskeie ervarings in ’n tronksel 20 jaar uitmekaar. Die jong regsklerk Braam het vir Vusi, ’n struggle-aktivis, destyds oorreed om die mag van die reg in die stryd teen apartheid te gebruik. Nou word die ouer Vusi, soos Braam ook ’n menseregteprokureur, gekonfronteer met die wapen wat sy vriend gekies het toe hy en sy gesin wreed aangeval is.
Dié roerende, skokkende kortfliek van 24 minute is gebore toe die akteurs Luntu Masiza en Francois Immelman en regisseur Mbulelo Grootboom die regte om Van Graan se toneelstuk in 2020 op te voer, met groot ondernemingsgees en ’n klein span in ’n fliek omgetower het toe Covid alle verhoogplanne omvergewerp het. Die twee akteurs vertolk met groot sukses sowel die jonger as die ouer weergawes van Vusi en Braam. Die uitsonderlike kinematografie is deur Alexandre Ortscheit.
Die prent is gekies om deel te wees van die Cannes Indie Shorts Awards en is reeds op verskeie internasionale rolprentfeeste vertoon. Dis ook benoem vir die Saftas (Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisietoekennings, wat op 3 September toegeken word) se kategorie vir beste kortprent. Some mothers’ sons wil kritiese gesprek stimuleer oor wat menseregte beteken in ’n land wat deur geweld geteister word, waar regspraak en geregtigheid se paaie bots en misdaad families uitmekaar ruk.
Hoe gaan ons vorentoe?
Terug na Mike en Mark, mikrofone in die hand. “Mense verwag nie net van teatermakers en kunstenaars om die samelewing aan hulle te reflekteer nie, maar ook om hulle hoop te gee,” sê Van Graan. Maar hy erken dis iets waarmee hy worstel. “Hoe géé mens hoop?”
“Ons moenie hoop misbruik en voorgee dis iets maklik nie,” troos Heywood. Maar erken daarna beswaard: “Ons het empatie en medelye verloor, veral die magtige mense in die samelewing. Dit barbariseer ons almal. Ons het strategieë nodig om weer konneksies te maak en empatie terug te kry.”
A, nou kom ons by die hart van die saak. “Kuns praat ’n taal wat dit regkry om mense te roer en tot aksie te beweeg.” As joernalis skryf Heywood hope artikels en op-eds, “maar daai taal werk net nie meer nie, dit faal in sy doel. Iets soos hierdie fliek keer terug na mense se diepste emosies, en dan kry jy ’n reaksie en ’n konneksie.”
Hy ontsien sy gehoor nie. “Ons het nog nie die bodem getref in Suid-Afrika nie – die ergste kom nog; ons is op ’n glyplank na onder.”
Genade. Daar’s ’n hoorbare snak na asems. Skouers sak. Mens wil uit jou hoenderstellasiestoel vra: Hoe gaan ons seker maak ons hoef nie die beker se diepste droesem te ledig nie? Hoe kom ons uit hierdie gat?
“Met kuns en kultuur en deur taal te gebruik om tot mense se diepste wese deur te dring en hulle te herinner aan hul eie menslikheid en gedeelde mensheid,” aldus die orakel uit die noorde op die kroegstoeltjie voor ons.
Van Graan beaam dit en sê ’n dramaturg se drie grootste gereedskapstukke is empatie, navorsing en verbeelding.
“Die uitdaging vir kunstenaars is: Hoe skep ons weer iets om in te glo, iets waaraan hoop as ’n moontlikheid kan vaskleef?” gooi Heywood die bal na al die skeppendes in die samelewing. “Hierdie kak waarin ons nou lewe is nie normaal nie, dis abnormaal; al wat ons op die oomblik doen is kritiseer, en ons moet weer droom.”
Mens sou gehoop het die voorlesing wat volg, sal dalk poog om die vuisvoos gehoor ’n blaaskans te gee, maar dis ’n wye en droewe land en die beker van pyn gaan niemand verby nie. Dus na die tragedie van Michael Komape, wat in 2014 in Limpopo in ’n puttoilet verdrink het. Dis ’n gedig van Maishe Maponya, digter en dramaturg wat verlede jaar oorlede is, uit sy bundel Truth be told: Da’s kak in die land. Die titel is “We bleed” (2015):
Have they
Not pleaded,
This child
They call
Democracy,
Was young.
Meanwhile,
They milk
The cow
Till it bleeds!
Daar’s kiesers wat hul kruise, bloeiend, na die stembus dra, waar die hoop deur die heersers gesteel word.
Dis onseker by watter H van die feestitel ons nou verkeer. Daar verskyn ’n kateder op die verhoog en skielik is die skare almal joernaliste wat ’n fluitjieblaser genooi het om hul prysuitdeling toe te spreek.
“White-wannabe, Woolworths Darkie, Coconut, Bitch, Black-Lite, Agent of White Monopoly Capital, DA-darling, Sellout, Bourgeois Princess, Zille-zealot.”

Dis ’n uittreksel uit Country duty. Van Graan vra in dié eenpersoonstuk met die indrukwekkende Khutjo Green en regie deur die teaterlegende Fiona Ramsay of dit ’n seën of ’n vloek is om ’n fluitjieblaser in Suid-Afrika te wees. Bogenoemde is al die aaklige name wat sy as swart vrou genoem word – ook uit eie geledere, veral van vroue.
“Whoever said ‘sticks and stones may break my bones but words will never hurt me’ never lived in post-apartheid South Africa. And the media feeds into this frenzy that makes you feel dirty.”
Sy verklaar: In ons onderstebo wêreld is “fluitjieblaser” ’n vloekwoord, dis ’n vloek en jy is vir ewig besmet. Selfs al doen goeie mense iets, bly slegte dinge steeds gebeur, en word goeie mense as die skurke uitgebeeld. Die land is nie vir goeie mense gemaak nie.
Sal sy dit weer doen, sal sy weer “Thuma mina” sê? Die gehoor lag senuagtig. Waar’s die Ramaforiese dae van Bra Hugh se liedjie en oom Cyril se nuwe daeraad.
“So my answer is …”
Die ligte gaan aan en Van Graan verklaar: “Jy sal die hele stuk moet gaan kyk om te hoor wat haar antwoord is.”
Hy’s hoeka bekend as dramaturg wat die vrae vra wat ander nie voor kans sien nie. En ’n digter wat die voormalig lojale kamerade tot orde roep en sommer onkruid noem, soos in sy gedig “Remember them”:
Remember them
Remember those who now beat their breasts
And wail about their leaders gone astray
Who bleat about the selling of ideals
And the robber capture of once good comrades
Remember how once they mocked and spat their vitriol
Drowning you in epithets
Banning you to the margins
When first you pointed to the error of their ways
And begged them return to what once you all believed in
These are not men of principle
Nor women of moral courage
They are weeds that blow in the factional winds of opportunity …
Brawe man, Mike van Graan. Hy lees uit nog ’n gedig, “Weep not for Madiba”, en ná ’n gesprek oor of leiers soos Mandela ons in die steek gelaat het en “die wonderlike jong leiers daar buite wat nie deur die versmorende plafon van ou mense bo hulle kan breek nie”, merk Heywood op daar is sóveel goeie mense daar buite. “How is it that we allow a handful of bastards to run the world?”
Dis ’n gesprek vir ’n ander dag. Dankie tog sy laaste voorlesing kom uit The book of joy: lasting happiness in a changing world, ’n boek deur die Nobelpryswenners aartsbiskop Desmond Tutu en sy vriend die Dalai Lama. Heywood haal aan waar die Arch praat oor die “raw vulnerability and tragic risk of hope”, en ek vertaal: “Om hoop te kies is om ferm in die loeiende wind van ’n woedende storm in te stap, jou borskas aan die elemente te ontbloot en te weet die storm sál mettertyd oorwaai …”
“Now isn’t that poetry,” sê Heywood sigbaar aangedaan, en die gehoor sug instemmend.
’n Reël bly my by uit sy gedig “Dawn at Kalk Bay”: “But I know our heroes, they are ordinary people.”

En dan is dit tyd vir ’n laaste bietjie lag, halleluja. Die sexy Marty Kintu spring soos ’n rubberbal op die verhoog vir sy voorsmakie van The new abnormal, met niemand minder nie as Rob van Vuuren as regisseur. Volgens programnotas is dit “kontemporêre satiriese stand-up as sosiale kommentaar om ons land en sy mense se vrese en hoop met humor te verken”.
“Wow, wow, wow, wow – welcome to the HH and H opening of the HH and H Festival!”
Sjoe, boet, ons is net so bly soos jy. Hy’t meer energie as die Duracell-hasie en beweer daar is nie iets soos “die nuwe normaal” suid van die Zambesi ná die pandemie nie: “We’ve only ever had abnormal, so if there is anything new, it’s the new abnormal, right?”
Ek maak gou ’n nota voor ons uitstap – veral die gesprek was by tye ’n effe verbete strewe na halms van hoop. (Die man van graan en die man van hooi wat hul woordhuisies teen die wolf van hopeloosheid uit strooi probeer bou het?) Om jouself in ’n toestand van hoop in te wens, blyk ’n lugkasteel te wees. Maar ons verlaat die teater tog verbasend optimisties, en by terugskoue oor ’n fles koffie ’n week later vermoed ek ek weet nou hoekom: Want almal het iets gedóén daai aand. Opgedaag, opgetree, gepraat, geluister, gelag. Koffie geskink en wyn gedrink. Teater gemáák. Mike en Mark is by uitstek doeners en die wêreld is ’n beter plek as gevolg daarvan.
Hoop is magteloos, kragteloos as dit nie op dade en aksie gebou is nie, nie ’n werkwoord is nie. ’n Vierletterkragwoord is nie. Dade is soos sade en hoop is die lote. Werp jou brood op die water en die hoop beskaam nie.
Jare gelede het die literator Elize Botha gesê: Boeke is soos brood en moet so behandel word. Ek wil byvoeg: Teater is soos water en moet so behandel word.
* Die Stand-stigting het toe inderdaad op Maandag 15 Augustus in pas met Vrouemaand aangekondig dat die ervare Johannesburgse kunspraktisyn, aktivis en dansskrywer Tammy Ballantyne in Mike Van Graan se plek as koördineerder van die stigting aangestel is. Die skrywer en teatermaker Uvile Ximba, ’n alumnus van die Stand-leierskursus wie se roman Dreaming in colour vir die Sunday Times-fiksieprys benoem is, sal voortaan die stigting se sosialemediabedrywighede hanteer. Die voorsitter van die stigting, Gregory Maqoma, het Van Graan vir sy visie en ywer bedank en sterkte toegewens met sy komende genootskap in Berlyn.

