Sê nou maar jy het verwond?

  • 10

Juliana Coetzer

’n Vriendin vertel dat toe sy as volwasse vrou haar biologiese ma ontmoet, hulle ure gesels het oor die rede vir haar aanneming. En elke keer daarna wat hulle by mekaar uitgekom het, het haar ma die storie herhaal: Daar was omstandighede wat dit onmoontlik gemaak het om haar te behou. In die 1950’s was die skandvlek groot en die verwerping deur die kerk en samelewing het vir ewig ’n merk gelaat.

“Sy het aanhoudend verduidelik, maar ek wens sy kon net een keer vra: Vertel my van jou lewe. Vertel my hoe my besluit jou geraak het.”

Vir my is dit nie vreemd nie. In al die jare in my menseberoep kan ek op my een hand die aantal mense tel wat bereid is om sulke vrae te vra en na die antwoord te luister: “Vertel my wat het my alkoholisme / buite-egtelike verhouding / humeur / dobbelverslawing aan jou gedoen? Hoe het dit jou geraak? Wat was die uitwerking daarvan in jou lewe?”

Nie net is mense nie bereid om die vraag te vra nie, hulle is ook selde gewillig om na die rimpeleffek van hul dade te luister. Die verdediging is legio: Dit is gedane sake. Behoort aan die verlede. Bou ’n brug en kom daaroor. Los die geskiedenis waar dit hoort. Ou koeie ...

Niemand hou daarvan om ongemaklik of skuldig te voel nie, die gevoel wat ons kry wanneer ons dink ons het iets verkeerd gedoen of wanneer ons beskuldig word nie. Ons vermy die emosie en sê: Gaan jy aan met jou lewe asof niks gebeur het nie, dan is ek gevrywaar van die gevolge.

En tog, wanneer mense aan ’n verhouding bou, het hulle nodig om te praat, die verlede se seer bloot te lê. Ongelukkig skuil mense agter beskermingsmeganismes wat deur jare ontwikkel is ter wille van emosionele oorlewing.

Ons val aan: “Ja, maar weet jy wat het jy aan my gedoen?” Ontken. “Dis nie waar nie. Jy verbeel jou. Jy is mal. Dit was nie so erg nie.” Rasionaliseer: “Ja, maar dit was ’n moeilike tyd in my lewe en kyk net hoe sterk het jy daardeur geword. Om nie te praat van al die lesse wat jy geleer het nie.” Vlug. “Ek wil niks hiervan weet nie. Dis ’n holruggeryde storie.” Gee skuld. “Jy het my daartoe gedryf. Alles as gevolg van jou.” Dreig. “Ek sal jou vernietig.” “Dit is hoe ek is; aanvaar my of los my” – dis natuurlik die toppunt.

’n Vriend vertel dat terwyl hy op die strand gestap het met sy schnauzer, wat aan ’n leiriem was, het vier loslopende honde op hulle toegesak. Hy het die eienaar daarop gewys dat sy honde aan leirieme vasgemaak behoort te wees. Die man se reaksie was: “Shut up, you fucking faggot.”

Wie is bereid om na my vriend te luister terwyl hy vertel van jare se vernedering? Wie is bereid om die skild te laat sak en nie nodig het om “Ja, maar die Bybel sê dis sonde” as verdedigingsmeganisme te gebruik om iemand se stem te stil nie? Soms is ek lus om te vra: “Wat sou jy antwoord, Meneer/Mevrou, as jy vir jouself kon dink?”

Met my eie oë het ek jare gelede gesien hoe swart mense van die sypaadjies in Pretoria geskouer word. Hoe bruin mense met klippe gegooi is. Stories oor die “sport” waardeur swart mans wat in ’n park slaap, met bakkies gejaag en verniel word, is in kleur en geur aan my vertel.

En dan sê ons: “Bou ’n brug en kom daaroor.” Of: “Ja, maar wat doen hulle nie nou aan ons nie?”

Van orals kom die oproep: Kom ons hoor mekaar ’n slag. Trotseer jou innerlike weerstand teen mense se stories van pyn. Maar ek is jammer om te sê, dit is ’n boodskap wat net ’n klein groepie mense sal bereik. Die meerderheid van die samelewing sal hulle voortdurend beskerm teen die gevoel van ongemak. Net mense wat hulself vertrou, kan die skild laat sak.

Dit is ’n skaars mens, die een wat sê: “Ek sal luister terwyl jy my vertel wat ek in my onbesonnenheid aan jou gedoen het. Of voordeel getrek het uit ‘n sisteem wat jou eenkant toe gestoot het. Ek sal luister om te probeer verstaan.” Dit is ’n ewe skaars mens wat sê: “Dit hoef nie nou oor my te gaan nie. Nie oor my opinies of ideologieë of verskonings nie, en daarom is daar geen plek vir ‘ja, maar’ nie. Dit gaan vir hierdie paar minute oor jou en jou belewenis.” Dit is ’n nog skaarser mens wat weet dat hy nie die “waarheid” in pag het nie.

Beskou jouself as gelukkig as jou pad met een van dié skaars mense s’n kruis. Jy sal hom herken aan die manier waarop hy luister.

  • Juliana is die skrywer van Bloedvreemd en Oorkant jou.

Oorkant jou deur Juliana Coetzer: ’n onderhoud

  • 10

Kommentaar

  • Deborah Steinmair

    Treffend, baie dankie Juliana. Jy is een wat luister. Daarom lees ek graag mense se stories en is dankbaar teenoor al die optekenaars, soos Lou-marie Kruger en die wat aan die ontvangkant van die verwerping was, soos Valda Jansen, Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Olivia M. Coetzee, Bettina Wyngaard en ander. Dis simplisties om te dink mense moet eenvoudig aanbeweeg, 'daaroor kom'.

  • Laurie Greyvenstein

    Pynlik raak en waar. Soveel mense weet nie hoe om met hulle eie seer te deel nie. 'n Geduldige oor is soms die enigste erkenning wat sy ooit sal kry. Gelukkig is die slagoffer nie altyd die regter nie, maar dis tog so menslik om genade van die slagoffer te verwag wanneer die oortreder bieg.

  • Henning Janse van Vuuren

    Juliana, ek waardeer jou mening, tog is iets afwesig: balans.

    Ek het eendag buite Groot-Brakrivier op die strand gestap toe ’n reusebrak (die ironie!) van agter kom en my pastei uit my hand gryp en verslind (’n kennisgewing verbied honde op die strand). Toe ek omdraai en luidkeels begin skel, het vier laggende idiote (’n gesin) my te vertel die hond wil net speel. Einde van die saak. Kyk maar om jou, diere word al hoe meer behandel asof hulle mense is (nie dat ons nié diere is nie) – projeksie: dis my hondekind! (In die individu se kop het die hond dus meer waarde as ’n mens, en hoekom nie?) Hy eet waar jy wil, hy kak waar hy wil, hy blaf waar hy wil en fok die res.

    Morele skuldgevoel is iets wat maklik rondgeskuif en uitgebuit kan word. Sommiges sal ’n ryloper op ’n verlate pad ter wille van oorlewing eerder ’n mis gee, maar worstel met skuldgevoelens. Hoe so? In ’n skrywersonderhoud sê Deborah Steinmair: “Vir iemand wat van kleins af knaend skuldig voel (eendag is dit vir my bevestig – my ma het by geleentheid op my gegil dat alles my skuld is, nog altyd, dat ek vandat ek gebore is alles verkeerd gedoen het), is ouerskap ’n mynveld. Soveel geleenthede vir vars skuldgevoelens.”

    Intuïtiewe menings oortuig nie.

    ’n Vreemde ding van dié dimensie is hoe ons mekaar probeer beïnvloed/verander. Ten goede, aldus elkeen. Hoekom is Europa hierdie ronde so halsstarrig om die hekke weer oop te gooi?

    Realiteit.

    Jy skryf: “Dit is ’n skaars mens, die een wat sê: ‘Ek sal luister terwyl jy my vertel wat ek in my onbesonnenheid aan jou gedoen het.’” Meen jy elkeen is in sonde gebore en ontvang? Ook die wit pasgebore baba in ’n plakkerskamp moet solank voorberei om jammer te sê vir die wit vel? Jou benadering sou vir my meer sin gemaak het as ek geglo het elkeen leef maar eenmaal. (Ek raai jy is ’n Christen?) Ek glo in reïnkarnasie waarvolgens elkeen ’n kans kry om bo of onder te wees ‒ tot elkeen met waardigheid bo of onder kan wees. Min wat tans bo of onder is, stel hierdie insig ten toon.

    Die skryfwerk van hulle wat aan die ontvangkant van verwerping was, moet steeds aan sekere standaarde voldoen om inderdaad ‘kuns’ daar te stel. Om hierdie individue te beloon omdat hulle bejammer word, is ’n belediging in die gesig van die Waarheid.

    Skuld het sy plek, maar kan ’n ding skeef trek.

  • Barend La Grange

    Dankie Juliana. Jy verwoord dit soos ek dit in my hart voel. Ons moet vrae vra, luister en probeer verstaan.

  • Elize van den Berg

    Dankie hiervoor. Ons moet meer luister en minder verontskuldig. As ek kyk na die duisende inskrywings op 'n fb blad waar mense met mekaar begin gesels en mekaar leer liefkry en verstaan gee dit my soveel hoop vir die toekoms. Ons wás bevoordeel en ons is eintlik steeds. Mag ons in liefde teenoor ons naaste lewe en elkeen na waarde ag.

  • Dankie hiervoor, Juliana. Nie dat ek wil hoor wat jy sê nie! Maar tog. Hier lees ek nou sowaar weer jou artikel vir die derde slag.

  • Netso min soos die gedrag van EFF verteenwoordigend is van die totale swart bevolking kan die gedrag van 'n minderheid blankes verteenwoordigend wees van die Blanke se gedrag tydens Apartheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top