
Titel: Wanneer jy sing
Skrywer: Louise van der Merwe
Uitgewer: Romanza
ISBN: 9781779871688
Hierdie teer liefdesverhaal met ’n inspirerende strekking vra dat die leser ’n boks snesies byderhand hou. Hoewel trauma weens ’n geweldsmisdaad as onderliggende tema dien, gaan die storie oor twee afvlerkmense wat probeer sin maak van wat met hulle gebeur het en in die proses nader aan mekaar groei.
Dit is ’n hartroerende verhaal wat geen leser onaangeraak sal laat nie, maar dit is darem nou ook nie ’n swaar, depressiewe lees nie. Die skrywer Louise van der Merwe slaag uitstekend daarin om ’n baie fyn balans tussen lig en donker te handhaaf, sodat die leser nie oorweldig voel nie.
Die fokus is steeds op die ontluikende verhouding tussen die held en heldin, maar die pas is effens stadiger as by ander Romanzas wat ek al gelees het. Dit verleen ’n egtheid aan die hoofkarakters se innerlike konflikte en hoe hulle mettertyd sekere dinge uit hul verledes verwerk sonder dat een van die twee gedruk voel om hulle in iets te begeef waarvoor hulle nog nie gereed is nie.
Ek het baie lekker aan Wanneer jy sing gelees. Dit het my ook met tye laat nadink oor hoe ek trauma hanteer. Ek beveel die boek heelhartig aan. Dit doen die Inspirasie-klassifikasie waaronder dit gepubliseer word, gestand. Boonop is die tema verfrissend anders, hoewel geensins lighartig nie. Die lewensveranderende gevolge van die geweldsmisdaad en die besluit om ten spyte daarvan aan die Here vas te hou en te glo dat Hy alles ten goede sal laat meewerk, is prysenswaardig.
Louise se mees onlangse skryfwerk sluit die gewilde Stoom-reeks in: Leer my ken (2024), Leer my liefkry (2025), Leer my vertrou (2025) en Leer my leef (2026). Sy is volgens haar kort biografie voor in die Romanza gelukkig getroud en het drie kinders. Natuurlik is sy absoluut versot op liefdesverhale en beskou haarself as ’n ongeneeslike romantikus. Liefde is mooi en lekker en raak nooit oud nie, aldus haar. Dan glo sy ook dat liefde hoop in ’n donker, onregverdige wêreld bring. Daarom streef sy om vir haar lesers ontvlugting te bied deur haar boeke. Dit onderstreep wat Christa Steyn-Bezuidenhout skryf in haar Maroela Media-artikel (16 Junie 2026), getiteld “Waarom keer lesers ná 21 jaar steeds terug na Romanza”, naamlik: “Hoop. Ontvlugting. Die belofte van ’n gelukkige einde. Dít is van die redes waarom Afrikaanse lesers ná 21 jaar steeds terugkeer na Romanza.”
In Wanneer jy sing leer die leser vir Isobel Raadt, ’n maatskaplike werkster en traumaberader, ken. Sy het ’n besonderse sangtalent wat sy as voorsanger van ’n kerk se musiekbediening in diens van die Here uitleef. Markus Meyer, ’n musiekpromotor, gaan kuier vir sy ouma, die vrou wat hom grootgemaak het nadat sy ouers en sib verongeluk het toe hy maar agt jaar oud was, en woon die kerkdiens by. Hy is dadelik beïndruk met Isobel se pragstem en glo hy kan haar help om plaaslik, sowel as internasionaal as sanger sukses te behaal. Maar dan hoor hy dat sy swanger en ongetroud is. Hy maak sy eie afleidings, net om later te besef dat hy die situasie heeltemal verkeerd opgesom het en haar onregverdig veroordeel het. Die rede vir haar swangerskap en die ongelooflik dapper besluite wat sy moet maak, laat hom met ander oë na haar kyk. Sy inspireer hom om ook dieper in sy eie hart te kyk en vir eens en vir altyd die spoke uit sy verlede te konfronteer.
Isobel en Markus is geloofwaardige karakters. Hulle maak foute en is geensins perfek nie. Hul agtergronde dien ook as goeie inkleding van die storie. Ouma en haar hond Stoffie is ’n samebindende faktor en danksy haar liefde vir beide jongmense, het hulle ’n veilige, neutrale ontmoetingsplek in haar dorpshuis waar hulle mekaar Sondae sien.
Karakterontwikkeling ten opsigte van al drie karakters is bevredigend. Isobel klou deur haar seer en pyn aan die Here vas, waar Markus Hom weer op ’n afstand hou. Sy moet onmoontlike, hartverskeurende besluite neem en steun noodgedwonge swaar op haar geloof, al wonder sy met tye waarom die Here dinge dan so moeilik maak as dit Sy wil is. Markus hardloop weg van enige verbintenis, sowel as sy eie emosies. Die wyse waarop hy mettertyd egter sy hart vir Isobel, sowel as vir die Here oopmaak geskied sonder enige vooraf geprekery of druk. Dit verleen ’n spontaniteit tot die verhaal.
Ek voel dit sou gepas wees om ook Isobel se bejaarde ouers deur die loop van die storie te ontmoet. Dit was vir my vreemd dat Ouma en Markus ná al die tyd wat hulle saam met Isobel deurbring en haar deur uiters moeilike omstandighede help, nie een keer die wens uitspreek om haar ouers te ontmoet nie. Ek sou dink dat dit veral vir Ouma, ’n toonbeeld van morele standvastigheid en die handhawing van tradisie, belangrik sou wees. Ek besef egter dat die woordtellingvereistes vir ’n Romanza die rede was waarom só ’n ontmoeting nie plaasgevind het nie.
Die laaste hoofstuk kyk vanuit die toekoms terug op gebeure wat nie in die boek vertel word nie. Dit is ’n slim en welkome manier om die leser op hoogte te hou van wat verder met die karakters gebeur het. Ek was jammer toe die storie klaar is, want die karakters het diep in my hart gekruip.

