
https://pixabay.com/photos/music-violin-musical-instrument-1283851/
Om ’n sekere siektetoestand of inperking te hê het soms sy ironiese voordele. Veral as die lyers daaraan begaafde individue is. Dit is ongelukkig ook so dat mense hierdie individue en hulle inperkings begin verromantiseer – mens dink byvoorbeeld aan Van Gogh wat sy oor afgesny het en aan selfdood gesterf het, of Ingrid Jonker wat die see ingeloop het. Nee – daar is niks romanties of bewonderenswaardig aan hulle lyding nie; dit ís en dit bly ’n tragedie wat verhoed sou kon word as hierdie mense vandag geleef en toegang tot beter medikasie gehad het.
...........
Nee – daar is niks romanties of bewonderenswaardig aan hulle lyding nie; dit ís en dit bly ’n tragedie wat verhoed sou kon word as hierdie mense vandag geleef en toegang tot beter medikasie gehad het.
............
Films oor disfunksionele, siek of versteurde genieë is volop, en met Hollywood se klatergoud is dié films wegholsuksesse by die loket. Dink byvoorbeeld aan A beautiful mind (2001); Immortal beloved (1994); The theory of everything (2014) of At eternity’s gate (2018) – daar is baie voorbeelde. Die voordeel wat hierdie films vir hul gewone kykersgevolg inhou, is die blootstelling aan die een of ander groot gees en hulle werk; en dié films bring op ’n manier hulde aan hierdie (dikwels) miskende individue.
I.
Die apostel Paulus, of Paulus van Tarsus, is reeds ’n geruime tyd die subjek van kontroversie. Paulus was bekend vir sy sendbriewe, die stigting van vroeë gemeentes en die uitbou van die evangelie van Jesus Christus.
By mediese kongresse en in joernaalartikels bespiegel neuroloë en ander dokters of Paulus nie moontlik aan epilepsie gely het nie. ’n Mens moet in gedagte hou dat epilepsie nie in die eerste dekades nC bestaan het nie, en dat toevalle van hierdie aard toegeskryf is aan demoniese besetting en die werk van die duiwel.
Die eerste verwysing na die apostel se epilepsie is die beskrywing van Saulus se ingrypende Damaskus-ontmoeting. Hy was op pad na Jerusalem om Christene te vervolg. In Handelinge 9 verneem ons: “Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” […] Toe Saulus van die grond af opstaan en sy oë oopmaak, kon hy nie sien nie. Hulle het sy hand gevat en hom na Damaskus toe gelei. Drie dae lank kon hy nie sien nie en het hy niks geëet of gedrink nie. […] Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien.”
Die weerligstraal wat Saulus gesien het hou waarskynlik verband met ’n grand-mal-toeval, óf met die aura verbonde aan so ’n toeval. Saulus se blindheid, wat drie dae geduur het (post-iktale blindheid), dui moontlik op die nasleep van sy toeval. Nadat Ananias hom die hande opgelê het, het iets “soos skille” van die apostel se oë afgeval en kon hy weer sien. Wat sin maak, aldus moderne medici: Na drie dae kan só ’n pasiënt se sig inderdaad terugkeer.
Volgens D Landsborough in Journal of Neurology, Neurosurgery and Psychiatry het Paulus waarskynlik primêr aan temporale-lob-epilepsie gely, maar ook aan gemengde toevalle, wat grand-mal-epilepsie ingesluit het. Paulus verwys na die Satan wat hom teen die grond neergooi (2 Korintiërs 12): “Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan.” Dokters bespiegel of Paulus nie dalk hier verwys na die konvulsies en motoriese wanbalans wat kenmerkend van epileptiese toevalle is nie.
Maar dis Paulus se visioene en gesigte, veral dié met ’n “hemelse” strekking, wat verdere aandag geniet: “Ek ken ’n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat ’n mens nie kan of mag uitspreek nie” (2 Korintiërs 12). Heilige of hemelse gewaarwordinge is ’n simptoom van temporale-lob-epilepsie – of dit kan tydens die aura manifesteer. Op die keper beskou bewys Paulus moontlik na sy eie gedisoriënteerde liggaam, ook met betrekking tot ruimte en tyd; die belewenis van ’n “droomstaat” en die opdoen van onuitspreeklike, sublieme kennis, wat kenmerkend van temporale-lob-epilepsie mag wees. Hierdie droomstaat of geestesvervoering word ook in Handelinge 22 genoem: “Ek het na Jerusalem toe teruggegaan, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek in geesvervoering geraak en die Here gesien wat vir my gesê het: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg.’” ’n Geestesvervoering, beter bekend as ’n trance, beteken inderdaad “ékstasis” in Grieks. Hierdie ekstatiese geestesvervoerings of beswymings van apostel Paulus versterk by kenners ’n verdere vermoede dat hy waarskynlik aan epilepsie gely het – en sommige is die mening toegedaan dat Paulus selfs aan Geschwind-sindroom (’n vorm van temporale-lob-epilepsie) gely het.
Indien neuroloë se aanname korrek is en apostel Paulus inderdaad ’n epilepsielyer was, dan sou dit beteken dat ’n groot gedeelte van die Nuwe Testament en die evangelie van Jesus Christus gebaseer is op die getuienis van ’n epileptikus. Máár, reken Christen-medici, is dit werklik ’n struikelblok?
............
Indien neuroloë se aanname korrek is en apostel Paulus inderdaad ’n epilepsielyer was, dan sou dit beteken dat ’n groot gedeelte van die Nuwe Testament en die evangelie van Jesus Christus gebaseer is op die getuienis van ’n epileptikus. Máár, reken Christen-medici, is dit werklik ’n struikelblok?
..........
Tydens sy Damaskus-ontmoeting op pad na Jerusalem het Paulus die klimaks van sy geestelike Odusseia bereik. Het epilepsie nie hierdie geestelike reus juis buitengewoon sensitief “gekalibreer” deur die intervensie van ’n neurologiese kondisie soos epilepsie nie? Paulus se spirituele ontwaking was merkwaardig en in alle gevalle standhoudend – en sy epilepsie, al dan nie, bly steeds ’n kontroversiële onderwerp. Of hierdie “defek” dalk juis die gawe van ’n heilige was, sou niemand weet nie. Ek volstaan by die volgende reëls van Leonard Cohen: “There is a crack, a crack in everything / that’s how the light gets in.”
II.
Die “mal katkunstenaar”, Louis Wain, boei psigiaters al lank. Sy kuns het oorwegend die skets, teken of skilder van katte behels, maar Wain het enige denkbare medium vir sy katkuns gebruik. Dit is egter die reikwydte, die groot kontinuum van katte wat van satiries tot absurd wissel, van makaber tot vreesaanjaend verbeeld word. Tesame met Wain se onstuimige en tragiese lewensgeskiedenis het psigiaters die afleiding gemaak dat die kunstenaar na alle waarskynlikheid ’n skisofreen was. In die seminale Abnormal psychology blyk dit dat kuns of letterkunde inderdaad ’n spieël ophou na medici om die onderliggende patologieë van skeppende mense te ontleed. Omgekeerd beskou is die uitdrukking van kreatiwiteit by kunstenaars of skrywers met talent ’n waardevolle navorsingsinstrument as dit by die bestudering van sekere geestesiektes kom.
Louis Wain is in 1860 gebore, die oudste van ses kinders en die enigste seun. Van die begin af was die noodlot sy deelgenoot: Hy het ’n gesplete verhemelte gehad en gevolglik stokkies gedraai om van die speelgrondboelies te ontkom. Nie een van Wain se vyf susters het getrou nie en die kunstenaar, sélf sonder enige vooruitsigte op ’n lewensmaat, het later afgehaak met een van sy susters se persoonlike tutor, Emily Richardson. Sy was 10 jaar ouer as hy; nogal ’n skande in die Victoriaanse tyd. Maar die huwelik was sedert die begin in ongeluk gehul. Emily is gediagnoseer met borskanker en die egpaar het besluit om vir haar ’n troetelkat, genaamd Peter, aan te skaf om haar laaste maande draagliker te maak. Peter het egter ’n onuitwisbare indruk op Wain gemaak en as daar ooit ’n muse of ’n totemdier van formaat was, dan was dit hý. Wain het dit ondubbelsinnig gestel: “To him, properly, belongs the foundation of my career, the developments of my initial efforts, and the establishing of my work.” Die kunstenaar het volledig gefikseer op Peter en dié kat is dan ook herkenbaar in Wain se katkuns, wat oor dekades gestrek het.
Vir groot tye van sy lewe was Wain ’n vryskutkunstenaar en het finansieel baie swaargekry. By tye het hy vir tydskrifte soos die Illustrated Sporting and Dramatic News geteken, want ná sy vader se afsterwe moes hy vir sy moeder en vier oorlewende susters sorg. (Een van sy sibbe is intussen in ’n gestig oorlede, wat die vermoede bevestig dat geestesversteurings ’n genetiese komponent in die Wain-gesin gehad het.) Na die opeenvolgende dood van Emily het Louis Wain self ’n sielkundige ineenstorting beleef.
Die repertoire van katte wat Wain nagelaat het, is haas ongelooflik. Katte en antropomorfisme – Wain was lief daarvoor om sy diere in menslike gedaantes uit te beeld. Waar sy katte aanvanklik “kaal” was en met vier pote geloop het, het Wain vinnig sy styl verander en die katte het regop begin loop, klere gedra en menslike aktiwiteite beoefen soos om vis te vang, kaart te speel, bal te gooi, toesprake te maak, musiekinstrumente te bespeel, opera toe te gaan ... en met hipermenslike gesigsuitdrukkings op gebeure te reageer. Wain se katte het al meer gesofistikeerd geraak. En dit was nie lank nie of roem, sukses en rykdom het die kunstenaar gevolg. Sy vermenslikte katte het oornag vir gewilde groetekaartjies gesorg en gesaghebbende illustreerders soos sir John Tenniel het begin om sy werk te publiseer.
Wain is ondertussen aangestel as die beskermheer van talle diereorganisasies – en wat anders as juis katte? ’n Mens moet in gedagte hou dat katte geag is as belangrike “inwoners” van Londen, ’n stad wat sporadies deurgeloop het onder rot- en muisplae.
Ongelukkig het Wain geen sin vir besigheid gehad nie en is hy deur die loop van sy lewe skaamteloos deur kunshandelaars uitgebuit. En ofskoon hy letterlik duisende katte in sy lewe geskets of geskilder het en selfs sy eie strokiesprent, Cats About Town, gehad het, was hy vir jare lank bloedarm. Uiteindelik kon sy susters nie meer huishou met sy irrasionele gedrag en woede-uitbarstings nie, en Wain is opgeneem in ’n hospitaal vir geestesversteurdes; net die begin van vele. Die kunstenaar het geswerf van inrigting tot inrigting, met hierdie één anker in sy gewraakte lewe: katte. Gelukkig het dit onder die aandag van die skrywer HG Wells en die eerste minister, Stanley Baldwin, gekom dat Wain geïnstitusionaliseer is – en hy is verplaas na ’n hospitaal waar daar ’n groot kolonie rondloperkatte woonagtig was. Sy laaste jare was gelukkig: omring deur sy geliefde vierpotige Felidae kon hy na hartelus voortgaan met sy katkuns.
............
Gelukkig het dit onder die aandag van die skrywer HG Wells en die eerste minister, Stanley Baldwin, gekom dat Wain geïnstitusionaliseer is – en hy is verplaas na ’n hospitaal waar daar ’n groot kolonie rondloperkatte woonagtig was. Sy laaste jare was gelukkig: omring deur sy geliefde vierpotige Felidae kon hy na hartelus voortgaan met sy katkuns.
...............
Volgens psigiaters is die verskillende fases van psigose duidelik identifiseerbaar in Wain se kuns. Die satiriese katte verander geleidelik in vreesaanjaende, demoniserende gediertes. Kenners wys ook op die skrikwekkende uitbeelding van die katte as kaleidoskopiese Hindoe-gode. Wain se kuns toon die toetrede van angs en paranoia, wat in abstrakte of selfs kubistiese gedaantes manifesteer. En, alhoewel daar dokters is wat beweer dat Wain nié ’n skisofreen was nie, is almal dit eens dat die kunstenaar oor ’n grenslose gees beskik het; ongebreidelde kreatiwiteit wat diep en wyd in die hinterland van die verbeelding gereik het. Louis Wain se bydra tot psigedeliese kuns is eers later erken, maar sy katkuns, wat strek van wonder tot waansin, sal waarskynlik altyd ’n misterie bly.
III.
“Die duiwel se violis.” Só het Niccolò Paganini bekend gestaan. Volgens oorlewering het Paganini, wat in die 1800’s naam gemaak het, só goed viool gespeel dat dit as menslik onmoontlik bestempel is; met ander woorde dit was die werk van die duiwel. En die violis is soms terstond tydens sy konsertuitvoerings van die verhoog verwilder. Of dalk het Paganini se hedonistiese leefstyl – sy liefde vir dobbel en vroue – iets met sy stereotipering te doen gehad. Óf ... dalk die feit dat hy, terwyl hy sterwend was aan interne bloeding, ’n priester verbied het om die laaste sakramente te bedien, want hy het nie gedink hy sou sterf nie.
Die tragiese waarheid is dat Paganini waarskynlik aan Marfan-sindroom of Ehlers-Danlos sindroom gely het. Met Marfan-sindroom het die lyer lang arms, bene en vingers en besonder slap en soepel polse en vingers. In die geval van Ehlers-Danlos-sindroom, wat die bindweefsel affekteer, het die lyer ooreenstemmend buitengewoon soepel polse wat gekenmerk word deur hipermobiliteit. Ongeag Paganini se presiese diagnose: Die verstommende buigsaamheid van sy vingers en polse het aan hom ’n besliste voorsprong gegee in die hantering van die strykstok.
Die jong Paganini se talent as virtuoos is van kleins af raakgesien en hy het kort-kort van vioolonderwyser verwissel, omdat hy weens sy vinnige vordering sy leermeesters die een ná die ander in die stof laat byt het.
.............
Die jong Paganini se talent as virtuoos is van kleins af raakgesien en hy het kort-kort van vioolonderwyser verwissel, omdat hy weens sy vinnige vordering sy leermeesters die een ná die ander in die stof laat byt het.
.............
Volgens oorlewering het die violis, terwyl hy in die gevangenis was, op ’n viool met gebreekte snare gespeel om die tyd te verwyl. In die proses het hy geleer om volle beheer oor sy instrument te hê en later, tydens konserte, opsetlik van sy viool se snare gebreek en die musiekstuk met slegs die oorblywende snare voltooi. Die dolle virtuoos was lief vir spoggerige toertjies om sy gehoor te vermaak, en om ’n Paganini-konsert by te woon, was beskou as ’n eklektiese aktiwiteit. Op ’n kol het die violis opgedaag vir ’n konsertuitvoering, maar sónder sy viool – hy moes dit verpand om sy dobbelskuld te delg. Gelukkig het ’n Franse handelaar tot sy redding gekom en vir hom ’n gesogte Guarneri-viool geleen. Maar nadat sy weldoener die virtuoos hoor speel het, het hy onverwyld – in trane – die viool aan hom geskenk.
Paganini was onder meer werksaam as musiekdirekteur in Piombino, maar sy lewenslange rusteloosheid en onverskilligheid jeens sy groot talent was ook sy nemesis. Te midde van talle wêreldreise en roem het hy in 1836 ’n casino in Parys begin wat uitgedraai het in ’n finansiële fiasko. Paganini moes alle bates verkoop, insluitend sy kosbare snaarinstrumente, wat ook kitare en mandoliene ingesluit het.
As komponis het Paganini gesorg vir vooruitgang op die gebied van viooltegniek: Sy komposisies was tegnies verbeeldingryk en het gelei het tot ’n uitbreiding van die timbre. Sy komposisies verg ’n verskeidenheid harmoniese en pizzicato-effekte en spesiale vingersettings. Ten spyte van groot roem was Paganini se gawe as vioolmaestro egter vir hom meer van ’n kruis; iets waarteen hy openlik gerebelleer het. Hy het met sy gesondheid gesukkel: sifilis, tuberkulose en lang periodes van depressie. En dán het die verbandhoudende gevolge van ’n sindroom, wat die oorsaak vir supersoepel vingers was, uiteindelik sy tol geëis. Paganini is op die relatief jong ouderdom van 57 oorlede – maar sonder die laaste sakramente van ’n priester is die gerug dat hy ’n verbond met die duiwel gesluit het, bevestig. Die Katolieke kerkvaders wou niks van hom weet nie. Eers 36 jaar na sy dood, in 1876, is hy in ’n munisipale begraafplaas in Parma te ruste gelê.
Die sg “Faustiaanse pakt met die duiwel” word toegedig aan musikante soos Giuseppe Tartini, Robert Johnson, Jimi Hendrix en Jim Morrison ook. Uiteraard drup só ’n beskouing van bygeloof en samesweringsdelusies. En Paganini, wat die grootste vioolvirtuoos was wat ooit geleef het? Dalk het Schopenhauer die laaste woord hier: “Talent hits a target no one else can hit; genius hits a target no one else can see.”


Kommentaar
Ongelooflik interessant en puik geskryf! Sien altyd báie uit na jou plasings, Nini!
Baie dankie, Nini! Soos altyd, interessant en insiggewend.
Interessant oor ou pous Paulus met sy malligheid in die vroeg AE. Ek sal bietjie gaan soek wat ek kan vind oor wat Richard Carrier dalk geskryf het oor die dude se seizures. Carrier is 'n navorser wat die Jesus se historisiteit betwyfel.