
Foto: Pixabay
Nie alte gereeld nie, maar van tyd tot tyd beland die media in die spervuur – of kom hulle onder verdenking – en moet ander media-instellings of platforms besluit hoe om die storie oor ’n kollega of mededinger te dek.
Dit kom van ver af, hierdie verskynsel dat die waghond oor die magtiges van die samelewing soms sélf onder die vergrootglas kom, as jy luister na Johannes Froneman.
Dié mediahistorikus en skrywer van Ter wille van oorlewing, ideologie en geld: perspektiewe op die geskiedenis van die Afrikaanse media (in 2023 uitgegee deur Akademia) was een van die paneellede vir die nuutste aflewering van LitNet se “Wyngaard Weekliks”-videogespek. Die ander deelnemer was Nathan Geffen, hoof van GroundUp, die aanlyn platform vir gemeenskapsjoernalistiek, wat veel te doen het met die aanknopingspunt vir die gesprek.
Die aanknopingspunt vir die gesprek is ’n aankondiging deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) dat ’n bekende koerantredakteur, Makhudu Sefara van die Sunday Times, geïmpliseer word in ’n ondersoek wat verband hou met die beweerde wanbesteding van geld wat van die Nasionale Loterye Kommissie (NLC) afkomstig was. Omdat dit tans slegs bewerings is, moes daar versigtig in die gesprek getrap word sodat die indruk nie gewek word dat die gespreksgenote die redakteur reeds skuldig bevind het nie.
Die agtergrond was egter belangrik vir konteksskepping: Reeds tussen 2022 en 2023 het Geffen teenoor die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (SANEF) rooi ligte laat flikker oor twee waarnemings wat moontlik met mekaar verband hou. Dit was die “disproporsionele bedrag” (R24,7 miljoen) wat die NLC tussen 2020 en 2022 aan advertensies in die Sunday World bestee het – baie meer as ander publikasies en glad nie belyn met die koerant se leserstal nie. Die tweede rooi lig was dat die koerant, onder die redakteurskap van Sefara, gedurende daardie tydperk glo slegs mooiweerberigte oor die NLC en sy werk gepublikseer het. Niks het van die klagte gekom nie, voer Geffen aan; inteendeel, Sefara is daarna as redakteur van die Sunday Times aangestel en ook tot SANEF-voorsitter verkies.
Nou het die nuutste verwikkeling daartoe gelei dat Sefara deur die Sunday Times se eienaars, Arena Holdings, tydelik uit sy pos verwyder is en ook dat hy as voorsitter van SANEF opsy staan. Intussen sweer hy dat die geld wat sy kommunikasiemaatskappy ontvang het, wél aangewend is vir dit waarvoor dit bedoel was: verblyf en dies meer vir sowat 50 deelnemers aan ’n konferensie oor ontwikkelingsjoernalistiek. Die SOE se ondersoek en die howe sal hieroor ’n oordeel vel.
Waartoe die ondersoek egter aanleiding gee, is dat vrae (opnuut) geopper word oor die verhouding tussen adverteerders en besluitneming oor redaksionele inhoud. Dit is byna net die dapperstes of eties standvastige redaksies wat negatiewe berigte oor vername adverteerders sal publiseer – en Froneman vertel toe hy désjare redakteur van die Paarl Pos was, was hy op ’n keer in die sop omdat die koerant ’n artikel téén rook geplaas het, terwyl die tabakmaatskappy Rembrandt ’n klant van dieselfde drukkery was waar die koerant ook gedruk is.
Hierdie soort “gedeelde belange” bly ’n tameletjie vir die media. Wat mens amper ’n meer gesofistikeerde voorkoms daarvan kan noem, is die vrees dat befondsers van platforms soos GroundUp heel moontlik hul steun gee in ruil vir die bevordering van bepaalde agendas of veldtogte, soos dié teen klimaatsverandering. Geffen is voorbereid op die vraag: In GroundUp se geval is daar geen sulke druk van donateurs nie, sê hy.
Uiteraard is dit ’n swaar pil vir die media om te sluk as beweerde wandade in eie geledere gepleeg word, gee Froneman en Geffen toe. Dieselfde geld vir ander beroepe. Maar in die geval van die media word sake vererger deur die koms en vooruitgang van aanlyn en sosiale media, wat sowel skandes ontbloot as die allerjongste nuus binne sekondes die wye wêreld instuur.
Die sogenaamde tradisionele media (“mainstream media” noem Geffen dit; “legacy media” is hoe ander daarna verwys) kan daarom nou meer as ooit tevore nie bekostig dat die vinger na hulle wys, soos met die Sefara-beskuldigings nie. Wat sake vererger, is dat die NLC een van die instellings is waar geld vloei – en gans te dikwels in die verkeerde rigting, aldus Froneman. Die gevolg is dat die publiek spesifiek op die media, en bepaald ondersoekende joernalistiek, staatmaak om die onderduimse handelinge na vore te bring. (GroundUp se grootste onlangse deurbraak was toe hulle die beweerde selfdood van die gevaarlike Thabo Bester ontbloot het as ’n goedbeplande ontsnappingsplan.)
En dit is nie asof die media nie al voorheen selfondersoek moes doen oor sy doen en late nie. ’n Ondersoek deur regter Kathy Satchwell moes daarmee help ná die Sunday Times se beriggewing oor ’n kamtige moordbende in die KwaZulu-Natalse polisiediens, ’n storie wat “geplant” is as gevolg van ’n soort magstryd wat in die diens gevoer is. Die media moes dus strenger maatreëls instel om te sorg vir deegliker ondersoekwerk alvorens stories geplaas word.
Natuurlik is daar ook steeds instellings soos die persombudsman, en dit bly ’n tergende vraag vir Froneman waarom die Sunday World- en Sefara-bewerings nie uit die staanspoor deur die ombudsman ondersoek is nie. Dit sou blykbaar buite die mandaat van die ombudsman geval het, is glo aan Geffen gesê. Maar selfregulering bly by verre steeds die media se voorkeurmetode om te verseker dat hulle nie buite hul spoor trap nie. Die uitkoms van die Sefara-saak sal daarom bepalend wees vir die Sunday Times, SANEF en die media in die algemeen.
En dan raak die Wyngaard Weekliks-gesprek ook aan die skietvoorval verlede naweek ten tye van die Withuiskorrespondente-vereniging se jaarlikse galadinee. Gaste wat dit bygewoon het, sluit onder andere in Donald Trump, JD Vance, ander kabinetslede en altesame nagenoeg 2 000 joernaliste en ander gaste.
Die groot besprekingspunt hieroor is of dit – soos die Trump-administrasie dit wil hê – ’n sluipmoordaanval op die President was of slegs die optrede van ’n skietlustige wat nie sou omgee wie uiteindelik sy slagoffer(s) is nie. Die antwoord op die vraag sou in ’n mate beïnvloed word deur hoe die joernaliste in die verlede op vroeëre sluipmoordaanvalle op Trump gereageer het, met ander woorde of dit as geloofwaardig geag is of nie.
Die verskil hierdie keer was dat hulle almal in dieselfde lokaal as Trump was en ervaar het dat dringendheid om weg te kom nie noodwendig by alle ringkoppe teenwoordig sigbaar was nie. Ook nie by sommige joernaliste nie, word uit die publiek teruggekap, oor hulle verkies het om nét daar regstreekse verslaggewing te begin doen vanaf die vloer of onder ’n tafel, kompleet asof hulle hulself in ’n oorlogsone bevind, ten einde hul mededingers te probeer voorspring en eerste te wees met die nuus ...
Kyk en luister ook:
Wyngaard Weekliks: Wanneer die media in die beskuldigdebank staan

