Waldemar Gouws reageer op 'n LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel: Lank lewe kreolisering!

  • 0

Lank lewe kreolisering! (En Viva! en Longlive!) Baie dankie aan Hein Viljoen vir hierdie interessante artikel. Ook (komende van ’n kreool in murg) dankie aan my voormoeder, twaalf geslagte diep die Afrikaanse verlede in, wat in haar slawe-sari skielik gekersten is, en boonop gekoop vir die eg deur ’n jong onheilige Hugenoot, verlief of loops, van Franschhoek. Sy het haar Bengaalse gene nagelaat tot hier in my nou in die Overberg. ’n Persoonlike verbintenis met die klank van Sanskrit, en die veldreuk van regte tiere, so terloops.

Ek het dus rede om subjektief gunstig-gesind tov die kreoolse te wees. Maar om die teoretiese kreoliseringskostuum oor die kop van Opperman se werk te trek en te dink dis nou iets wat figuurlik netjies moet pas, laat my wonder oor die dienlikheid van só ’n mode-uitrusting (teorie as kommoditeit). Word die verse verlig? En indien wel, vir wie dan? Kan kreolisering in Engeland (die berugte ou sentrum) plaasvind wanneer Ted Hughes met sy herskrywing van Ovidius (1997) “’n kenmerkende noordelike weergawe van die Mediterreense werk” produseer?  Of as WF Hermans (van ’n ander koloniale ryk se hoofkantoor) twintig jaar na Opperman se Afrikaanse drama ook die Periandros-gegewe uit antieke (argaïese) Griekeland in Nederlands verwerk? Is kreolisering effens minder potent as semiose?

Waar ek wel van Viljoen verskil, is tov sy gevolgtrekking dat Opperman nie ras- of groepvermenging voorsien het nie.

Opperman, synde (die) digter en nie net ’n sosiopolitieke patoloog (as ‘t ware) nie, skryf in “Scriba van die Carbonari” (Engel uit die klip, 1951) oor sy eie persona in die teks dat hy “strydig met ons volk se aard en kerk” is (strofe 2). Verder ook in strofe 4: “Ek moet … sê wat my aangryp …” (Niks gevoorskrywery of opdragte wat bloot uitgevoer word nie.) In strofe 3 gebruik hy ’n beeld: “’n Volk is seker ook soos ’n gesin”, wat later verkonkretiseer word in sy volgende bundel, Blom en baaierd, 1956, in “Draaiboek”:

Kiek badkamer, maar swak belig;
wys seun wat aan ’n tou verwurg.

Eine kleine Nachtmusik – verdof.
Wissel flitstonele, huis en hof:

    “Waarom het hy dié nag hom opgehang?
     Was daar miskien ’n nooi in die gedrang?”

    “Nee, al was my oudste in sy fleur,
     het hy hom aan g’n nôi gesteur.”

    “Soms raak ’n vader en sy seun oorhoop.
     Het dié hom dikwels deurgeloop?”

    “Nee, ’n ware aanspraak sonder gier –
     net graag alleen voor die klavier.”

    “Mevrou, kan u ons waarlik niks vertel?”
     “Ag, Edelagbare, dis God se spel!”

“Maar waarom … waarom so ’n daad verrig?”
“Sy vel was donker, sy broers s’n lig.”

Kiek waar vier kinders vroeg opstaan,
drie na wit en hy na bruin skool gaan.

Wat het in hierdie stroewe land tussen 1948, toe “Scriba …” geskryf is, en die 1956 van Blom en baaierd gebeur? In 1949 is die wet op die verbod op gemengde huwelike op die wetboek gesit. In 1950 het nog twee wette gevolg: die wet op afsonderlike groepsgebiede, asook die amendement op die ontug- (sic) (hoe siek) wet. In sy The Afrikaners (2de uitgawe, 2009) skryf Hermann Giliomee oor die implementering van die Nasionale Party se rasseklassifikasiebeleid: “By 1956 nearly 100 000 borderline cases had been encountered. People were trapped in a Kafka-esque racial maze. Classification caused human tragedies of the cruelest kind” (504).

Opperman, as verloskundige, of vroedfiguur (as ‘t ware), het hierdie intieme dokumentêr – as refleksie - agter die klipmuur van die apartheidswetgewing gemaak omdat die stelsel (hegemonies) nie gestrook het met sy visie van 1960 nie toe hy in “Die uitdyende heelal” (ironies, die gebruik van “heelal” vir die Afrikaanse stikke apartheidswêreld) geskryf het met die wens vir die “intiemer gaan leer ken” van ons landgenote.  

Kreolisering van die wêreldletterkunde by D.J. Opperman

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top