Waiting for the barbarians

  • 0

Die uitdagende taak om ? roman in ? toneelstuk of draaiboek te omskep is iets wat min regkry. Ongelukkig is dit ook die geval met Alexandre Marine se verwerking van JM Coetzee se Waiting for the barbarians.

Waiting for the barbarians vertel van die onsekere grense tussen beskaafde en onbeskaafde gedrag in die eeue lange stryd rondom beskawing, soos gestel deur een van die karakters: “... time for the black flower of civilisation to bloom”. Die verhaal stel twee kante: die empiriese ryk versus die barbare, en vertel die storie van ? kleindorpse magistraat wat homself vasgevang en in wroeging iewers tussen die twee bevind.

Alhoewel die stuk gebruik maak van abstrakte visuele metafore, met baie suksesvolle ontwerp deur Craig Leo, en minder realistiese fisiese teater, is die teks realisties en primêr in die vertelling. Hierdie stuk kon moontlik meer suksesvol verwerk gewees het indien dit minder sterk op gesproke teks staatgemaak het. Die gebruik van die gesproke woord is by tye oortollig en daar kon sterker op die visuele geleun gewees het.

Waiting for the barbarians spog egter met ? hoogs ervare ensemble akteurs. Nicholas Pauling moet veral erkenning kry vir sy vertolking van Colonel Joll. Chuma Sopotela, vir wie min sou kon vergeet vir haar spel in Karoo Moose, bring weer ? keer haar mistieke teenwoordigheid na die verhoog. As ? geheel is die werk goed gerepeteer, wat die groot geselskap van agt spelers toelaat om gemaklik en met vryheid op die klein verhoog van die Golden Arrow Studio te beweeg.

Ten spyte van bogenoemde tekortkoming en die feit dat die produksie lank is (dit duur ongeveer twee ure en vyftien minute), is die inhoud van die teks steeds besonder relevant.

Waiting for the barbarians is tot 1 September 2012 by die Baxter-teater te sien en kaartjies kos tussen R60 en R100.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top