Waarskuwings: Die bekentenisse van 'n boekhoer

  • 1

Die week in woorde

Daar is ’n wonderlike gedig in Marlise Joubert se bundel passies en passasies getiteld "waarskuwings". Die vers begin so:

ek moet jou waarsku teen die wind wat roer
die wind wat die hare van gordyne roer
ek moet jou waarsku teen die strooisel vere
wat die tarentale op ons werf kom los.

Van hier af sleur dit in ’n donker stroom voort en waarsku teen alles van molle tot mane, skulpe, sonne en die hele spulletjie tussen-in. Maar dit vergeet om te waarsku teen boeke. En ek voel ek moet jou waarsku.

Boeke is bokke en bokke is bliksems. Vergeet maar van mans (of vrouens dan): boeke is baie gevaarliker en heelwat meer geneig om harte te breek. Neem nou maar as voorbeeld die laaste boek waarvoor ek my oopgestel het: die skrywer daarvan, ene Adam Johnson het my met slim truuks ingetrek, en sy karakters het my skaamteloos verlei. Die storie het my hele lewe verorber, my slapelose nagte gegee, my herhaaldelik tot Google (en uiteindelik wyn) gedryf in my pogings om te onderskei tussen waarheid en versinsel. Daar was oomblikke van groot geluk, saam opgekrul in my bed (aardse boyfriend heeltemal vergete). Daar was die piekniek in die laaste struiptrekkings van die somerson, die byna-romantiese etensuur en selfs dringende gesteelde tydjies agter die stuur in verkeer. En toe, net toe dit begin voel of die boek ook lief raak vir my, is dit verby.

Dis bepaald nie die eerste keer dat so iets gebeur nie. Inteendeel. Duisende boeke het my al só gevang. Dis elke keer presies dieselfde storie: girl meets book en van daar af afdraande. Ek is jou tipiese boekhoer, ’n sucker vir punishment, vasgevang in ’n bose kringloop wat ek nie kan verbreek nie. Voor ek my weer kom kry, is daar nuwe karakters, nuwe milieus, nuwe intriges wat my by die hart beet het. Dis ’n swaar bestaan, die bittersoet affairs met boek op boek op boek, die aanhoudende hoop dat dié een die één is wat my nooit gaan verlaat nie. Alas.

Aan my is daar geen salf te smeer nie. Ek is klaar weer betrokke. Maar dalk het jy nog ’n kans ... Ek moet jou waarsku.

Jy is gewaarsku.

Voorgeskrewe leesstof


"waarskuwings" deur Marlise Joubert 

"forgetfulness" deur Billy Collins 

"an excercise in love" deur Diane di Prima



 

Op my bedkassie

The thing around your neck is ’n versameling kortverhale deur Chimamanda Ngozi Adichie. Die stories gaan oor Nigerië en Nigeriërs se ervarings in ander wêrelddele. Die verskeidenheid karakters wat sy aanwend, is uiteenlopend en merkwaardig - dit herinner my aan Nicole Jaekl Strauss se bundel Maal. Ek is nog nie klaar nie, maar ek lees baie lekker.

Verlede week se boek spook nog by my. Ek het toe The orphan master's son klaar gelees en ek was mal daaroor en lekker moerig toe die boek eindig. Ek was nog nie gereed om van die karakters afskeid te neem nie.

Oe, en binnekort het ek ’n nuwe vriend op my bedkassie: ’n Kindle! Ek het gister die babatjie bestel by Amazon en sal rapporteer sodra dit opdaag.

Intussen lees ek gedigte op my iPhone. Op aandrang van Lewies Botha het ek hierdie app gaan aflaai en verwyl heelwat tyd met die spin-funksie. (Dis soos ’n ‘80's game show, maar met ’n intellektuele inslag.) Jy druk spin en dan spoeg die foon gedigte uit in die kategorie waarop jy land. Byvoorbeeld, my eerste spin vanoggend lewer 33 gedigte oor "worry & love" op (toevallig? seker darem). Onder andere "Blast" deur Kay Ryan. ’n Tweede spin en daar is 102 gedigte oor "Anger & Arts and Sciences", en ’n derde spin dis 35 gedigte oor "Joy & Commitment" op.

 

 

Met ander (se) woorde

My gespin op die poetry app het die volgende aanhaling opgelewer, uit "Afternoon Happiness" deur Carolyn Kizer

 

Poësie in die nuus

 Adrienne Rich is Woensdag oorlede.  Lees ’n artikel oor haar lewe en werk hier.

Daar is ’n resensie van Joan Hambidge se bundel Lot se vrou op LitNet, en ’n akademiese artikel oor Sheila Cussons deur Carine Janse van Rensburg. Aniel Botha se bundel Pirouette is deur Helize van Vuuren geresenseer op Boeke24.

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top