Waar’s my bril?

  • 1

Foto: Pixabay

Toe ek klein was, het ek ouer mense se leesrituele fyn betrag. Soos my ouma s’n. As sy iets wou lees, het sy met gesag gevra: “Waar's my bril?” Dan die bril op haar neus teruggestoot en die briltoutjie om haar nek herrangskik, gevolg deur ’n kuggie, ’n stilte of ’n sug. Sy sou die boek of wat ook al ’n halwe armlengte voor haar uithou voor sy uiteindelik lees. Ek wou met alle geweld ’n bril gehad het, maar daar was op dees aarde niks fout met my oë nie. ’n Bril het gesofistikeerd gelyk, soort van intellek-tuéél en dit het die swaksiende met ’n aura van erns of swaarmoedigheid omring. By tye het ek geoefen, die naaste Huisgenoot gegryp en dit ’n halwe armlengte voor my uitgehou en met groot gravitas my denkbeeldige bril op my neus teruggestoot. Soos Zuma tydens ’n Staatsrede.

........

’n Bril het gesofistikeerd gelyk, soort van intellek-tuéél en dit het die swaksiende met ’n aura van erns of swaarmoedigheid omring. By tye het ek geoefen, die naaste Huisgenoot gegryp en dit ’n halwe armlengte voor my uitgehou en met groot gravitas my denkbeeldige bril op my neus teruggestoot. Soos Zuma tydens ’n Staatsrede.

........

Mense reageer intuïtief op die liggaamstaal van ’n brildraer. Dink byvoorbeeld aan ’n gewigtige of nors ou(er) man wat, terwyl hy praat, sy bril met ’n groot armbeweging afhaal, sy kop laat sak en jou direk – en nogal intimiderend – in die oë kyk. Of aangluur. Universiteitsdosente of die sprekers van virtuele lesings is lief vir hierdie gesaghebbende gebaar.

.......

Met ’n versienbril trap jy hóóg, soos ’n nar op stelte. Ek foeter amper by die trappe af en besluit basta daarmee. En só gaan ek vir jare blindelings deur die lewe – solank ek sonder ’n bril kan lees, is ek tevrede.

..........

Eers 20 jaar gelede kon ek aanspraak maak op my eie bril. Voorgeskryf deur die oogkundige vir ’n miopiese kondisie. Ek is bysiende. Ek kan ’n milligaring deur ’n naald ryg maar dan boggherol verder sien. Ek is veronderstel om my bril permanent te dra, maar dis ’n beslommernis. Met ’n versienbril trap jy hóóg, soos ’n nar op stelte. Ek foeter amper by die trappe af en besluit basta daarmee. En só gaan ek vir jare blindelings deur die lewe – solank ek sonder ’n bril kan lees, is ek tevrede. My middeljarige vriende begin almal deur die bank leesbril te dra, maar ek druk deur. Ek fnuik die ouderdom, fluister my verbeelding – en solank ek kan Netflix met my versienbril, is ek tevrede. Terloops, ek dink nou aan ’n interessante stukkie trivia. In Psalm 31:10 lui koning Dawid se versugting: “Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword ...” Laasgenoemde is nie ’n hiperbool vir verdriet nie; ook nie ’n metafoor nie – nee, dis die reine waarheid, ook gesien vanuit ’n mediese oogpunt. Chroniese stres en verdriet lei tot verhoogde vlakke van kortisol, wat ’n negatiewe uitwerking op die vaskulêre en simpatiese senuweestelsel kan hê en tot optiese neuropatie of gesigsverlies mag lei.

Intussen was my sig geleidelik besig om te verswak. Wanneer ek ’n Word-dokument oopmaak of skep, stel ek die fontgrootte op 16. Want sien, ek tik op gevoel; my vingers kerjakker oor die sleutelbord soos dié van ’n ervare pianis. En ek lees intuïtief. As jy ’n kluster woorde voor jou het, voltooi jou brein tog die geheel.

Later stel ek die font op 18, en nóg later op 20. Klein dingetjies val my op. Ek kan nie meer die pryse van items op winkelrakke sien nie, al is dit hoe naby. Die energietabelle van kossoorte swem in mikroskrif voor my oë. Farmaseutiese pamflette se letters verander in vlooie. En hoe bestuur jy as jy eers jou leesbril moet opsit om die GPS-koördinate te sien?

........

Ek dra al lankal nie meer my versienbril nie; alles bly mistig en esoteries, soos ek dit verkies. As ek my bril opsit, skrik ek, want dan sien ek almal se plooie en die ongenaakbare detail van die lewe. Pick n Pay se rakke is ongelooflik vuil. Restaurante (dié wat die groot lockdowns oorleef het), se glasdeure is dofgevat met vetterige vingermerke. Ek is permanent ontsteld as ek my bril dra.

...........

Ek dra al lankal nie meer my versienbril nie; alles bly mistig en esoteries, soos ek dit verkies. As ek my bril opsit, skrik ek, want dan sien ek almal se plooie en die ongenaakbare detail van die lewe. Pick n Pay se rakke is ongelooflik vuil. Restaurante (dié wat die groot lockdowns oorleef het), se glasdeure is dofgevat met vetterige vingermerke. Ek is permanent ontsteld as ek my bril dra. Om sake te vererger het ek baie gewig verloor en my versienbril tuimel poefff! van my gesig af. Waddehel, dag ek toe en buig my bril se ore ’n sentimeter na binne om weer oor mý ore te pas.

Toe kom die e-posse. Subtiel: Kan jy asseblief kyk na paragraaf sus of reël so, tikfoutjie? Ek sukkel al hoe meer om te grimeer. Hoe doen vroue dit? Jy kan tog nie ’n bril opsit as jy eyeliner aanwend nie. Ek omlyn noukeurig my tweede ooglid (middeljarige oë, sien), en spring verskrik weg van die badkamerspieël – die Oog van Horus staar na my terug. Ja, dit maak nie saak hoe dikwels ek begeer het om die Alsiende Oog van naby te gewaar nie, dit bly skrikwekkend as dit vir jou kyk.

Kontaklense is my voorland, besef ek, behalwe dat dit my oë laat jeuk en krap, en omdat ek so baie rook, donner ek die lense in ’n oogwink op. Nee. En stadigaan begin ek aanstaltes te maak om ’n leesbril aan te skaf. Die Chinese winkels (dié wat Covid oorleef het) hou dit aan. Smal reghoeklense met swaar, donker rame. Ek sit een op my neus en ek lyk soos ’n argivaris. Of die een of ander ivoortoringwerkie wat baie kennis behels. Dis nie ‘n mooi bril nie – en ek lyk op ’n druppel soos daardie nerd face emoji. Tot my groot verrassing merk ek dat ek reeds gevorder het tot ’n +2 in swaksiendheid.

By Clicks draai ek die wawiel vol belofte: moderne brille, byderwetse rame, brille wat moet colour code met jou klere, of dun goueraamtreffers. Iets van ’n kongresglans. Ek pas een op my neus en begroet my nuwe look: ’n uitvoerende sekretaresse. O néé.

Tussen die 1-meter bubblegum sticks troon die Crazy Store se leesbrille, oulik en funky, maar lae kwaliteit. En my liefling, ’n fynproewer as dit by leesbrille kom, waarsku: Bly weg. Die Crazy Store-brille se skroewe val almal uit. Dis ’n wet wat almal bo 40 ken. En hy sal weet. Niemand gaan deur leesbrille soos Mellet nie, en ek het ook skuld hieraan – sy brille lê orals rond: op die bed, op die bank, op die kar se passasiersitplek, en dit is altyd ék wat dit flenters sit. Die stukkende brille het in die reël net een oor en ek wonder of daar nie iewers ’n af-oor oorlogsveteraan is wat sou baat by al die gemodifiseerde brille nie.

Ek besoek ’n vlooimark (een wat Covid oorleef het), en besigtig die brilstal. Donkerbrille, soos dié wat die spietkops in CHiPs gedra het. 1982 se modes. Dit herinner aan kadawerbrommers of sprinkane se saamgestelde oë. En die allerafskuwelike leesbrille. André Stander-rame. FW de Klerk-rame. Die groot John Lennon-rame, ’n mode wat Afrikaanse skrywers ook in die tagtigs aangehang het – dink byvoorbeeld aan Antjie Krog of Koos Prinsloo se brille. Bennie Boekwurm- of Harry Potter-rame. Indrukwekkend, ja, maar my soektog is nog nie verby nie.

Ten einde raad bestel Mellet twee vintage professor-leesbrille aanlyn. Dit het ikoniese rame, amper soos Churchill s'n toe hy sy Groot Speech gelewer het: We shall never surrender.

My bril arriveer by die voordeur en ek maak dit skoon met spiritus en ’n mikrovesellappie voor ek die brug staanmaak op my neus, uiteindelik tevrede dat die volgende fase in my lewe aangebreek het. Behalwe, ek vergeet meestal om my bril te dra. Of dalk is dit ’n onbewustelike ding. Ek wil nie regtig sien nie. Met my bril op is alles oorbelig en skerp soos ’n Kaapse somer.

Maar ’n bril vir naby én ver sien is ’n schlep en uiteindelik gee ek boedel oor en maak ’n afspraak by die oogkundige vir my bifocals. Nou is ek amptelik middeljarig. Ja: Nou is ek ’n tante.

........

Maar ’n bril vir naby én ver sien is ’n schlep en uiteindelik gee ek boedel oor en maak ’n afspraak by die oogkundige vir my bifocals. Nou is ek amptelik middeljarig. Ja: Nou is ek ’n tante.

.........

Een middag moet ek weer Pick n Pay toe vir groceries. Ek kan nie sonder Ina Paarman se Lemon Pepper leef nie. Ek is nie ’n wafferse kok nie. As jy nie veel van kosmaak af weet nie, sprinkel net Ina se suurlemoenpeper oor die gereg. Slaai, steak, sop of stowepot – en voilà. Bygesê, ek is ’n bobaas braaier. Ek braai omtrent elke dag. En wat is skaaptjops sonder die Paarman-speserye? Só staan ek toe by die speseryrak en buig al nader aan die wasige botteltjies.

"Soek Tannie iets?" hoor ek ’n klein stemmetjie agter my.

"Ja," sê ek, en: “Kyk of jy Ina Paarman se Lemon Pepper op die rakkie sien?"

Die dogtertjie, seker so agt, kyk grootoog en nuuskierig na my. "Waar’s my bril?" hoor ek myself vra. Onmiskenbaar daardie outoritêre klank in my stem. Ek grawe in my handsak. En sien hoe die ritueel hom in die derde persoon afspeel. Die stadige terugskuif van die bril oor die neus, die gevroetel aan die toutjie agter die kraag, gevolg deur ’n sug en dan die lees, ’n halwe armlengte ver. Die kind wat bewonderend elke beweging volg.

  • 1

Kommentaar

  • Rina Cascione

    Heerlik gelees Nini ‒ hou soo baie van die slotreëls waar jy die kloutjie by die oor bring!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top