Die raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het op Vrydag 23 Maart besluit om die Hertzogprys vir 2012 aan die digter-dramaturg-skrywer, Adam Small, vir sy drama-oeuvre toe te ken. Erkenning is so verleen aan Small in wie se oeuvre sy drama Kanna hy kô hystoe kop en skouers uitstaan as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse dramatiese kuns. Adam Small vier vanjaar sy 75ste verjaardag. Hy het in 2009, die SA Akademie se eeufeesjaar, ook die Akademie se Eeufeesmedalje vir sy hele oeuvre ontvang.
In sy literatuurgeskiedenis het JC Kannemeyer Kanna hy kô hystoe vermeld saam met die belangrikste internasionale dramaturge in die wêreld. Die Hertzogprys is die hoogste literêre onderskeiding wat die SA Akademie kan toeken.
Ek was verlede week die eerste keer in my lewe deel van die Akademieraad se vergadering. En ek het my stem helder en duidelik laat opklink ten gunste daarvan dat die Hertzogprys aan Adam Small toegeken word. Ons kon kwalik ons blydskap beteuel.
Ek kan ook getuig dat die Akademieraad die besluit eenparig geneem het.
Maar toe kom Nicol Stassen en maak beswaar. Praat van ’n pretbederwer! Stassen se argument is dat die reglement net voorsiening maak vir werke wat die afgelope DRIE jaar verskyn het. Natuurlik moes dit al in 1965 gebeur het (toe Kanna gepubliseer is) maar toe was sommige van ons nog ongebore baba's ...
Snaaks dat hy (of diesulkes wat soos hy dink) nie dieselfde reglement in 1965 toegepas het nie. En anders as nou, was sy (en die wat soos hy dink) se bekke tjoepstil in 1965. Kan ons dus vir Stassen ernstig opneem?
Ek dink nie so nie. Nicol Stassen stel net belang in sy eie skrywers. As een van hulle die Hertzogprys gewen het, sou hy meer boeke verkoop het en meer geld gemaak het.
Hy dink dus soos ’n kapitalis.
Maar destyds was die dae van apartheid sal hulle sê. Wel, ek sê dis nou die dae NA apartheid. En so lank ons leef en verstand het, moet ons die foute van die verlede regmaak.
Veels geluk Adam!
Ek kan aan niemand dink wat hierdie prys meer verdien as uncle nie.
Lees Nicol Stassen se repliek op hierdie brief.
Kommentaar
Michael
Daar is baie mense wat verheug is dat Adam Small die prys gekry het. Ek was verstom dat oor die kleinlikheid van Stassen en dit alles oor 'n reglement. Party mense kan maar net nie uit hul oerslaap wakker skrik nie, of dit is soos jy beweer, dat geld hard praat!
Groete
Perdebytjie
Michael, kon jy nie aan 'n meer oorspronklike argument gedink het nie? Is die reglement ook in 1965 verontagsaam? Of wat sê jy nou eintlik oor 1965? Dit sê darem ook iets oor die stand van die Afrikaanse drama as die Hertzogprys aan 'n 75-jarige persoon toegeken word wat jare laas 'n nuwe werk geproduseer het.
Ja, ek ook, 'n persoon wat lankal sy merk gemaak het, Adam Small, en in die verlede was die minderheid doofstom oor die skeppings van die ander groepe in die land.
Dit laat waarlik 'n bitter smaak in die mond dat die erkenning van Adam Small gedeeltelik versuur is deur sulke kleinlikheid. Veral omdat die "reglement" nog altyd buigsaam is.
Die Akademietoekennings sedert 1909 kan vrylik aanlyn geraadpleeg word. Daarvolgens is daar al telkemale afgewyk van hierdie reëls:
Poësie
1943: Eybers ontvang die Hertzogprys vir Stil Avontuur (1939) en Belydenis in die skemering (1936) - dus onderskeidelik vier en sewe jaar na die verskyning van die bundels.
1951: Toon van den Heever ontvang die Hertzogprys vir Gedigte (1919) wat hy later uitbrei en publiseer as Eugene en ander gedigte (1931). Daar verloop dus 20 jaar tussen verskyning en toekenning (of eerder 32 jaar as 1919 as verskyningsdatum aanvaar word).
1968: Boerneef ontvang postuum die Hertzogprys vir al sy poësie, waarvan die eerste bundel, Krokos, in 1958 verskyn.
1983: Cussons ontvang die prys vir al haar poësie. Haar debuut verskyn reeds in 1970.
Prosa
1958: NP van Wyk Louw ontvang die prys vir sy kritiese prosa - terwyl die prys nog altyd toegeken word vir literêre prosa.
1982: Hennie Aucamp ontvang die Hertzogprys vir sy totale prosa-oeuvre.
Drama
1981: Henriette Grové ontvang die prys vir al haar dramas.
1985: Uys Krige ontvang die prys vir al sy dramas.
1991: Chris Barnard ontvang die Hertzogprys vir sy totale oeuvre.
2003: Pieter Fourie ontvang die prys vir al sy dramas.
2005: Deon Opperman ontvang die prys vir al sy dramas tot 2005.
As 'n mens volgens Stassen se oortuigings moes handel, sou die Akademie nooit in staat gewees het om oordeelsfoute van die verlede reg te stel nie, terwyl hierdie enkele voorbeelde aantoon dat dit al minstens tien keer gedoen is. Hierdie kwessie kan miskien met die bekroning van Toon van den Heever vergelyk word. Ook Van den Heever is lank misken en A.P. Grové noem eksplisiet: "Dit kom dan ook as 'n (te lank) vertraagde bekroning as hy in 1951 die Hertzogprys vir al sy digwerk ontvang."
Small is en bly 'n hoogtepunt in die Afrikaanse letterkunde met baie ander instellings wat hom al vereer het (onlangs is ook 'n hele uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde oor Small gehandel). Dit lyk egter asof Stassen sou verkies dat die groot geeste wat as gevolg van politiek voorheen onbekroon gegaan het, eerder steeds misken moet word ter voordeel van die handvol middelmatige dramaturge wat by gebrek aan enige noemenswaardige kompetisie die afgelope dekade se Hertzogprystoekennings oorheers.