Waarom gesondheidswerkers Vrydag snaakse sokkies gedra het

  • 0

Op Vrydag 3 Junie het baie gesondheidswerkers en mediese studente snaakse sokkies gedra. Dit was nie toevallig nie. Reeds vir ’n hele aantal jaar is die eerste Vrydag in Junie bekend as CrazySocks4Docs-dag, of dan #CS4D.

Studente aan die Nelson Mandela Universiteit se mediese skool. Klik op die skakel vir meer foto's.

Hier in Suid-Afrika het die Ithemba-stigting studente aan mediese skole uitgedaag om hulself af te neem met hulle vreemde sokkies aan. Die beste foto van elke kampus sou met ’n kontantprys beloon word.

Cipla, ’n groot farmaseutiese maatskappy, het ook kleurvolle sokkies aan kampusse geskenk.

Maar waarom? En waar kom hierdie idee vandaan?

Ek het met Lizette Rabe, bekend as ’n joernalis en akademikus, gesels om meer uit te vind. Rabe is aan die hoof van die Ithemba-stigting.

Volgens haar het die idee van ’n jaarlikse dag wat op ’n prettige manier die aandag vestig op mediese personeel se psigiese gesondheid in Australië begin. Geoff Toogood, ’n kardioloog, het met die idee vorendag gekom. Hy het besef dat medici opgelei word om na ander te kyk, maar nie na hulself nie.

Toogood, ’n suksesvolle medikus en kranige swemmer, ly aan depressie, maar dis iets wat hy nie durf erken het of openbaar wou maak nie – tot hy tog besluit het dat dit tyd was om openlik daaroor te begin praat.

Die vreemde sokkies het egter ’n ander oorsprong. Toogood het ’n hondjie aangeneem wat, soos hondjies maar maak, sy sokkies opgeëet het. Sonder dat hy wou, is Toogood een oggend werk toe met ’n onpaar sokkies – weens die hond. Toe hoor hy hoe mense agter sy rug vra of hy dalk weer probleme het met sy “geestesgesondheid”.

Dit het hom laat besluit om sokkies te gebruik as ’n manier om oor sy eie en ander mediese personeel se stres en die vermoeienis van hulle werk te praat; ook die feit dat baie van hulle by tye depressie ervaar.

Soos Rabe sê: “Gesondheidsorgwerkers is ook mense, en moet daarom ook aanvaar hulle kan pasiënte wees. Deur die #CS4D-veldtog wil ons as die publiek wys ons gee vir hulle om – daarom die tagline van #Caring4OurCarers.”

Rabe is vasbeslote dat ons die regte terme moet begin gebruik wanneer ons oor depressie en verwante probleme praat: “In Afrikaans praat ek van psigiese gesondheid en nie geestesgesondheid nie. Dis deel van die probleem – sulke argaïese terme. Psigiese siektes het niks met die menslike gees te make nie, maar wel met ons belangrikste orgaan, ons brein, wat wanfunksioneer omdat sekere noodsaaklike neuro-oordragstowwe nie afgeskei word nie.”

Medisyne help hiervoor. ’n Psigiater, of kundige mediese dokter, sal “medikasie kan voorskryf om ons brein te ondersteun met dié stowwe wat nie afgeskei word nie”.

Bewusmaking is daarom ’n belangrike deel van die Ithemba-stigting se werk: “Kennis breek stigma af; kennis breek die stilte.” Die stigting poog “om psigiese siektes te normaliseer en te humaniseer – soos fisieke siektes”.

Die stigting doen baie moeite om mense bewus te maak van psigiese siektes, en ondersteun navorsing oor hierdie siektes. Ons moet besef dis “kliniese, biologiese siektes, net soos fisiese siektes”.

Meer nog: Psige siektes is “daarom ook behandelbaar – ons moet die simptome herken, en dan aan onsself erken dat ons hulp nodig het. En dan gaan vir sielkundige terapie en/of mediese hulp, met ander woorde na ’n psigiater.”

iThemba, ’n Xhosa-woord, beteken hoop. Ithemba se webwerf het heelwat algemene inligting oor die stigting, plus meer oor hulle bydrae tot #Caring4OurCarers en #CrazySocks4Docks: https://ithembafoundation.org.za/.

Ten slotte wou ek by Rabe hoor wat haar raad sou wees aan enige persoon – oud of jonk – wat hier lees en dalk benoud, beangs of sommer net af voel. Hier is haar antwoord: “As jy vir langer as twee weke af voel, angstig voel, nie kan slaap nie, of net wil slaap, nie kan eet nie, of net wil eet, nie vir jouself kan sorg wat selfhigiëne betref nie (nie eens lus voel vir hare was of stort nie) of as jy ongedurig is, of omgekrap met almal rondom jou en jouself, móét jy hulp soek. Dis die klassieke simptome van depressie of angstigheid, en hulle sal nie weggaan as jy hulle ignoreer nie. Inteendeel, hulle gaan erger word, soos die simptome van enige ander siekte. As jy enige simptome van ’n fisieke siekte gehad het, sou jy dokter toe gegaan het. Maak asseblief ’n afspraak met jou dokter wat jou kan verwys na óf ’n sielkundige óf ’n psigiater, of albei. Doen dit asseblief vir jouself; doen dit asseblief vir jou geliefdes.”

  • Fotografie: Izak de Vries
Lees ook:

The role of destigmatization campaigns in mental health and the legacy that is the #CrazySocks4Docs campaign

#CrazySocks4Docs celebrated at the Nelson Mandela University

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top