Waar stories begin: in gesprek met James Fouché

  • 0

...
“Stories,” sê hy, “bou brûe.”
...

James Fouché laat weet hy gaan ’n paar minute laat wees vir ons onderhoud. Toe ons uiteindelik groet, verduidelik hy dadelik. Dit is skoolvakansie. Holiday Club. Die kinders moet as seediere aantrek. Die oudste dogter wil as ’n pylstertrog aantrek. ’n Swart tafeldoek word om haar lyf vasgekram. Haar sussie kies ’n skubaduiker. Dit is egter sy seuntjie wat almal laat lag, want hy wil ’n elektriese paling wees. ’n Ou sykous word met koerantpapier opgestop. Kersliggies verdwyn binne-in die materiaal. ’n Klein batterypakkie word in sy sak weggesteek.

“Dan ...” James se hande begin saam met die storie beweeg en hy slaan van Afrikaans oor na Engels. “As iemand naby hom kom, druk hy die knoppie en sê: ‘Pasop. Ek kan jou skok.’”

Hy lag. Soos ’n pa wat weet dit is hierdie klein oomblikke wat ’n mens later onthou.

Ons sou maklik twee uur lank oor boeke kon praat. Oor romans, ’n TV-reeks en sy meestersgraad. Oor sy reise na China waar hy kreatiewe skryfwerk aanbied en oor kunsmatige intelligensie wat skrywers wêreldwyd laat wonder of hul beroep nog oor 20 jaar sal bestaan. Maar telkens, sonder dat hy dit besef, stap James terug na dieselfde plek, sy gesin.

Vir sewe jaar lank het hulle probeer kinders kry. Dokters. Toetse. Operasies. Hoop. En uiteindelik teleurstelling. Die diagnose: ernstige endometriosis. Teen die tyd dat hul eerste kind uiteindelik gebore is, het twee romans reeds verskyn. Sy skrywersloopbaan begin momentum kry. Van buite lyk dit of alles uiteindelik gebeur ... toe stap hy weg.

“Ek sou dieselfde besluit môre weer neem,” sê hy. “Ek wou teenwoordig wees.”

Vir byna 10 jaar skuif hy boeke opsy.

Daar is geen opoffering in sy stem nie. Net die rustige sekerheid van iemand wat lankal besluit het wat eerste kom.

Soms voltooi sy hande ’n sin nog voordat sy mond daar uitkom. Wanneer hy oor stories praat, vou sy vingers oop, asof hy iets onsigbaars probeer wys.

“Stories,” sê hy, “bou brûe.”

Dit is hoe hy sy werk as skrywer, bemarker, dosent en wynjoernalis verstaan. Tussen die mens wat iets beleef en die mens wat dit nog moet verstaan.

As kind het hy met Afrikaans gesukkel. ’n Onderwyser gee vir hom eenvoudige raad: Skryf beter opstelle.

Jare later lag James nog daaroor. Hy lees alles waarop hy sy hande kan lê. Shakespeare. Stephen King. HG Wells. Die Bybel. Moby-Dick.

Te koop by Mzanzi Books

Toe Covid uitbreek, klim ’n nuwe karakter onverwags by sy lessenaar in. Gray is nie ’n Suid-Afrikaanse Jack Reacher nie. Inteendeel.

“A flawed character,” noem James hom.

’n Gewone man. Iemand wat nie altyd weet wat die regte ding is nie en miskien is dit hoekom Gray geloofwaardig voel.

James glo nie helde is interessant nie.

Mense is.

Aanvanklik sou die roman The innocent heet. Oor die mense wat nooit kies om deel van bendes te wees nie, maar tog die hoogste prys betaal.

“These are the stories that inspired the book,” sê hy.

Hy dink aan vierjarige Davin Afrika wat in sy slaap deur ’n verdwaalde koeël doodgeskiet is. Aan tiener Alnika Mitchell wat sterf toe ’n aanvaller sy teiken mis. Aan negejarige Zechariah Matthee wat in ’n kas probeer wegkruip het toe skote op ’n dwelmhuis in Rocklands losbars.

Hy praat nie lank oor die skietery nie, maar oor die kinders.

Later verander die titel. Gray.

Hy vertel hoe sy eerste Amerikaanse uitgewer hom bitter teleurgestel het. Hoe ’n tweede uitgewer later verdwyn het en hoe hy uiteindelik besluit het om self verantwoordelikheid vir sy boeke te neem. Self-uitgee.

Wanneer ons by kunsmatige intelligensie kom, verander iets. Hy raak stiller.

“Ons sien nie net ’n nuwe hulpmiddel nie,” sê hy. “Ons sien die dood van ’n idee.”

Vir hom gaan die gevaar nie daaroor dat rekenaars beter sinne gaan skryf nie; hy wonder wel hoe ’n toekoms gaan lyk sonder mense wat droom.

“My dogter wil ’n skrywer word,” sê hy weer in Afrikaans. “Ek’t haar gevra om asseblief iets anders te kies.”

Teen die einde van ons gesprek dink ek weer aan die elektriese paling. Aan ’n ou sykous en ’n string Kersliggies. ’n Pa wat vir sy seuntjie wys hoe gewone goed vir een oggend buitengewoon kan word.

Dit is moeilik om nie dan ook aan Davin, Alnika en Zechariah te dink nie.

James glo immers stories word nie vervaardig nie; hulle word geleef.

(Foto’s: Marlene Fouché)

Lees ook:

Big Book Chain Chat #80: The right time to write

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top