Waar sal my hulp vandaan kom?

  • 3
.......
"Waar sal my hulp vandaan kom? Nie van die politici nie; dis ’n feit soos ’n koei. Selfs al stem ons die ANC uit en ’n ander party in, beteken dit maar net ons kies een stel overlords oor ’n ander. Ons moet maar eerder die modder vir die varke los en onssélf help. Die wêreld het mal geword."

.......

“Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom?”

So begin een van die heel eerste psalms wat ek as klein kindjie in die Sondagskool geleer het. En waar ek nou in die pikdonker ure van die oggend sit en werk, wonder ek dit weer. Dis doodstil buite. Die eerste busse en plaaslorries het nog nie eens begin ry nie. Hier sit ek voor my rekenaar, want met “beurtkrag” wat wissel tussen fases 4 en 6 is daar bitter min tyd in die dag om elektrisiteit te gebruik. Ek sit “beurtkrag” nou maar tussen ironiese aanhalingstekens, want dis altyd net sommiges se beurt om in die donker te sit. Ek is seker waar Uncle Cyril- en Uncle Bheki-hulle bly is die krag altyd aan. The sun always shines on teevee, en daai jazz. Seker dié dat hulle so uit voeling is met wat gewone mense moet deurmaak.

.......

"Of dalk kon ek skryf oor die Zondo-kommissie se finale verslag ... [Of] oor die Trump-insurreksie-ondersoek. Of die aborsie-uitspraak en hoe die polisie nou handgemeen raak met prokeuse-protesteerders, maar  hulle blind staar vir die prolewe-ondersteuners se vergrype. Of ek kon skryf oor die vrou wat haar kinders uit die Uvalde-skool gaan red het en nou daagliks deur die polisie geteister word ... Dis nou as ek lus was om oor die land of the brave and free te skryf. Behalwe dat sommige se baarmoeders nou nie meer so vry is nie."

.......

Wanneer die krag af is, wat altyd is, sukkel die munisipale waterpompe om te werk. Dit breek. Dan is ons sonder krag en water. Dis nie al wat sukkel by die munisipaliteite nie. My plaaslike munisipaliteit se vullisverwyderingslorries breek kort-kort. Die vullis word nie verwyder nie, maar ons word met boodskappe gelaat om ons dromme buite te los tot 18h30, seker met die hoop dat iemand dit sal kom verwyder. En dit wórd verwyder. Nie die vullis nie, die dromme. Die skelms dop jou vullis net daar uit en hol met die drom dat Usain Bolt jaloers sal raak. Hoe hulle dit regkry om al die potholes te mis is een van die groot mysteries van hierdie lewe.

En asof dit nie erg genoeg is nie, gebruik die jongens wat hulle lewe uit scrapyard sales maak, die donkerte om al wat ’n kabel is te steel. Die selfoonmaatskappye betaal hulle alies af om voor te bly met batterye dat mens ten minste nog op jou selfoon kan praat. In ’n klein dorpie soos die een waar ek bly, word dieselfde toring gebruik om al die selfoonmaatskappye en al die radiostasies se seine te dra. Vou die toring, is daar g’n vermaak, niemand om mee te praat nie. Jy kan nie eers jou whiskey met water verdun nie, en kersligetes raak na ’n ruk minder prettig. Dis nou as jy nog whiskey, vermaak en selfoontariewe kan bekostig.

Of petrol in jou kar kan bekostig om werk toe te gaan om geld te verdien. Binnekort, soos dinge nou aangaan, sal almal weer by die huis werk. Dié slag sal dit nie wees om siektes te keer nie, dit sal wees omdat mense nie meer petrol kan bekostig nie.

In my dorp ry die taxi’s nie eens meer in die woonbuurte rond om passasiers op en af te laai nie. Jy kom tot by ’n sentrale punt en daar kry jy jou taxi. Nevermind dat die sentrale punt soms verder is as die plek waarnatoe jy die taxi in die eerste plek wou neem, en dat meer mense dus maar eerder een slag loop.

Ons ken mos anyway nou al die storie. As die petrolprys vandag opgaan, is kospryse volgende week aan die beurt. Ek begin al ernstig daaraan dink om my eie hoenders in die agterplaas aan te hou, vir eiers en vir vleis. Dit gaan net knor met die jakkalse wat die hoenders sal steel. Nee, ek praat nie van die roofdiere op vier pootjies en rooi sterte nie. Ek praat van daai selfde lot wat kragdrade steel en by die scrapyard loop verkoop.

En die unies reken die tyd het aangebreek om met Eskom te baklei oor loonverhogings, want dis mos wat klokslag elke jaar in Junie gebeur. Maak dit saak dat die hele land gevange gehou word deur hulle “onderhandelinge”? Nee wat, want dit gee hulle mos ekstra bargaining power.

Ek was aanvanklik van plan om my rubriek oor verpleegsters te skryf. Dis ondankbare diens wat hulle verrig, teen bitter min geld, en dan kry hulle stank vir dank van die publiek. Onthou hoe almal vir hulle staan en handeklap het aan die begin van die pandemie? Hulle moes toe op strike gegaan het vir hoër lone. Pleks dat hulle Numsa en Amcu as unieleiers gehad het. Helfte van die land sou sterwe, maar hulle sou meer betaal word. In stede daarvan kry hulle ’n terloops mention in die President se weeklikse gaslighting brief aan die nasie. Selfs al gee hy net vir elke verpleegster R100 uit daai rusbank uit, sou almal darem ietsie gekry het.

Of dalk kon ek skryf oor die Zondo-kommissie se finale verslag. Maar ek wag eers vir die arrestasies, die beslagleggings op eiendomme en bankrekeninge en die vervolgings van die hoëkoppe om te gebeur. Wat seker beteken ek gaan nooit oor die kommissie geskryf kry nie.

Of wie weet, dalk kon ek skryf oor die Trump-insurreksie-ondersoek. Of die aborsie-uitspraak en hoe die polisie nou handgemeen raak met prokeuse-protesteerders, maar  hulle blind staar vir die prolewe-ondersteuners se vergrype. Of ek kon skryf oor die vrou wat haar kinders uit die Uvalde-skool gaan red het en nou daagliks deur die polisie geteister word. Dieselfde polisie wat op hul hande gesit het toe hulle by ’n oop deur moes ingaan om die moordenaar te stop. Dis nou as ek lus was om oor die land of the brave and free te skryf. Behalwe dat sommige se baarmoeders nou nie meer so vry is nie.

Of ons kon praat oor Johnson se Ingeland, of Poetin se oorlog.

Waar sal my hulp vandaan kom? Nie van die politici nie; dis ’n feit soos ’n koei. Selfs al stem ons die ANC uit en ’n ander party in, beteken dit maar net ons kies een stel overlords oor ’n ander. Ons moet maar eerder die modder vir die varke los en onssélf help.

Die wêreld het mal geword. Maar dalk het ek stilletjies my varkies verloor en eintlik tick die wêreld maar net aan soos dit moet, soos wat dit ontwerp was om te wees.

Of dalk, in plaas van psalms aanhaal, moet ek ’n bietjie jeremiades aanhaal. Dit voel vandag gepas. Ten minste sit ons nog nie met potskerwe ons swere en krap nie. Maar o ja, daar is mos nog monkey pox ook.

Kry maar die potskerwe gereed ...

  • 3

Kommentaar

  • Riëtte Heslinga

    Dankie vir jou skrywes Bettina; ek lees dit getrou. Benodig jou pittige humor en skerpsinnige wysheid.

  • Mientie Kroukamp

    Bettina, jy laat my nou dink aan The Great Orange River Adventure (op die skaal van gesinsvermaak).
    Die 1ste stroomversnelling is Dead Man’s Rapid, gevolg deur Entrance Exam en voor die 2de dag se roei verby is, moet jy deur Sjambok, 'n lastige stroomversnelling. Die volgende dag begin met Rollercoaster, dan Gamkab, Surprise, Rocky Horror, De Hoop, Sting-in-the-tail en dan eers is jy by die Visrivier.

  • Ek lees jou skrywes met groot plesier, veral wanne jy dit in plesierige Kaaps doen. Laat my na my kleintyd verlang!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top